Gesinsrusie: Jong man brand toe hy pa, tannie wou red

Juan Bezuidenhout. Foto: Facebook

Juan Bezuidenhout, die 19-jarige jong man wat tweedegraadse brandwonde opgedoen het toe hy sy familielede verlede week uit ʼn brandende huis in Rustenburg gered het, sal moontlik veloorplantings op sy bene moet kry.

Juan het deur die vlamme gehardloop om sy pa, Jacques Bezuidenhout, en sy tannie, Anita Prinsloo, te red. Jacques is Saterdag in ʼn hospitaal in Rustenburg dood en sy suster Anita het Dinsdag aan haar ernstige brandwonde beswyk.

Anita se man, Rudi Prinsloo, het Woensdagaand ná ʼn rusie met Anita gery om petrol te gaan koop. Hy het teruggekeer en met sy motor deur die valhek van die veiligheidskompleks in die Cashan-woonbuurt gery. Rudi het daarna die gesin se huis met petrol besprinkel voordat hy dit aan die brand gesteek het.

Rudi het in die huis doodgebrand. Anita se broer en skoonsuster, Jacques en Adele Bezuidenhout, en twee kinders was ook in die huis ten tyde van die voorval. Die Bezuidenhout-egpaar se oudste seun, Juan, het erge brandwonde aan sy bene opgedoen. Anita se seun uit ʼn vorige huwelik het geringe brandwonde aan sy hande opgedoen.

Jacques Vermaak, Jacques Bezuidenhout se swaer, het Woensdag aan Maroela Media gesê behalwe vir die emosionele trauma wat Juan en sy ma, Adele, nou moet deurgaan, het hulle ook al hul aardse besittings in die brand verloor en sit hulle nou met groot mediese onkoste wat betaal moet word. “Daardie gesin is die afgelope vier jaar deur hel en nou moes dít ook nog gebeur. Dit is bitter hartseer,” het Vermaak gesê.

Die Bezuidenhouts het tydelik by die Prinsloos ingewoon nadat Jacques onlangs in Rustenburg werk gekry het.

Rudi en Anita Prinsloo. Foto: Facebook

Omdat Juan nie ʼn mediese fonds het nie, is hy na ʼn provinsiale hospitaal in Rustenburg geneem, maar die hospitaal het hom nie opgeneem nie. ʼn Woordvoerder van die Medicare- private hospitaal het aan Maroela Media gesê die hospitaal het ingestem om Juan op te neem omdat hy dringend vir sy brandwonde behandel moes word.

“Hy is Vrydag in die hospitaal opgeneem waar hy dadelik antibiotika gekry het en Saterdag is hy teater toe om sy brandwonde skoon te maak. Hy is daarna ontslaan en het vandag weer die dokter gesien vir ʼn opvolg,” het die woordvoerder gesê.

Sy het gesê daar is egter nou ʼn hospitaalrekening van ongeveer R30 000. ʼn Prokureursfirma in Rustenburg, Van Velden-Duffey Inc, het ingestem om ʼn rekening wat oopgemaak is om geld vir Juan in te samel, te bestuur. Vir meer inligting oor die fonds kan ʼn e-pos na [email protected] gestuur word.

Vermaak sê dit is nog nie duidelik of Juan veloorplantings aan sy bene sal moet kry nie en dat die onkoste daarvan ʼn groot bekommernis vir die familie is.

Intussen is daar ʼn Facebook-blad oopgemaak om Adele en Juan te help om weer op die been te kom nadat hulle alles verloor het. “Hulle het alles nodig; kos, klere, ʼn dak oor hulle kop. Ons wil hulle net help om hul lewens terug te kry ná hierdie groot tragedie,” het Vermaak gesê.

Vir meer inligting om die Bezuidenhout-gesin te help, kan die blad Hulp vir die Bezuidenhout-familie op Facebook besoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hanna ·

Wat gaan aan. Dit is nou al die hoeveelste berig dat iemand n huis opsetlik aan die brand steek, en dan is daar lewensverlies. Wat gaan deur so n mens se kop!!

Wie is wie ·

Mens moet mooi kophou met die lees van hierdie berig oor wie is wie ens.
Sterkte aan die betrokkenes op die pad vorentoe.

Olga ·

Hanna ek wou nou dieselfde vra, oral waar ek lees steek mense hul gesinne aan die brand in die huis of babas wat in asblike gevind word.

Davoz ·

Mensig!!! Wat gaan aan met ons wit volk??? Het hul ook nou so laag gedaal om nie karre, busse en net geboue te brand nie maar mekaar??? Dit lyk of ons volk nou ook sadisties raak. Die Here moes ons genadig wees. Nee mense… Moenie tot die ander se vlak daal nie.

MissDemeanor ·

Dit is niks nuuts nie Davos. “Ons wit volk” is nog altyd, nes alle volke, instaat tot geweld. Eintlik is dit nie enige volk se skuld nie, maar daar is individue wie se verstand nie reg funksioneer nie.

Hartseer ·

Dis ‘n baie hartseer gebeurtenis. Sterkte vir almal wat hierdeur geraak word.

Jacques Vermaak ·

Wow weet julle God is Groot. Dankie vir almal se bydrae en omgee. As dit iemand is wat dit verdien is dit hierdie familie. Kom join die Facebook groep, share die post . God seen elke een van julle lekker dag. Dankie vir Maroela Media vir die bewusmaking!!!

Kannaland ·

Goeie idee en ja ek se ook baie dankie aan die mense met goeie harte wat betrokke raak en help. Die seun is n ware held, n modernetyd held, soos die brawe helde wat ons nog van geleer het in die geskiedenisklas.

Penelope ·

Baie sterkte aan die familie. Mag God jul vertroos in hierdie donker tyd.

Marie ·

Ek is nie ingevoelig vi die gebeure van die brand geval nie maar duisende mense sit sondet n medies en niemand wil n pasient op neem sonder n fonds nie dis n groot probleem vir alle sa mense. So ek wonder wat kan en gaan daaraan gedoen word. Het enigeiemand raad

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.