Gesinstragedie: Pa het ‘nie besef’ hy ry oor ma

(Foto: Dall-E)

Die tragiese gebeure wat Maandagaand op Secunda afgespeel en drie jong seuns wees gelaat het, was volgens die familie ʼn bitter hartseer fratsongeluk.

Maroela Media het vroeër berig Renaldo Cenoz (38) en sy vrou, Anri (36), het glo stry gekry waarna hy haar met sy motor doodgery en homself oomblikke later om die lewe gebring het.

Youlandie Barnard, die familie se woordvoerder, sê die ouerpaar het voor die voorval geargumenteer, maar sê ʼn fratsongeluk het tot Anri se dood gelei en dat Renaldo nooit sy vrou sou vermoor nie.

“Renaldo was ongelooflik lief vir Anri, hy het die grond aanbid waarop sy geloop het.

“Die twee was aan die stry oor iets wat drie weke gelede gebeur het. Hulle was nog besig om oor die gebeurtenis te praat en om die konflik tussen hulle daaroor uit te sorteer.

“Renaldo het in ʼn stadium vir Anri gesê dat hy tyd nodig het om te dink en met die voertuig om die blok gaan ry. Anri het egter vir Renaldo gesê dat sy dieselfde plan het, waarna sy by die huis uit is, die hek oopgesluit en die straat af is.

“Renaldo het gesien hoe sy by die hek uitgaan en in die straat afhardloop, maar hy het nooit gesien dat sy teruggekom het nie. Hy het oomblikke later in sy motor geklim om na Anri – wat in daardie stadium agter die kar gesit het – te gaan soek.”

Renaldo het glo aan sy ma gesê dat hy gevoel het hy ry oor iets, maar dat hy gedink het dit is ʼn randsteen.

“Hy het gedink hy ry oor ʼn randsteen, want daar is ʼn drein; hy het nie opgelet dat hy oor sy vrou gery het nie.

“Hy het toe om die blok gery om na Anri te gaan soek. Nadat hy besef het sy is nie meer buite in die straat nie, het hy teruggegaan huis toe.

“Dit is toe dat hy sy vrou in die oprit sien lê het. Dit is toe dat hy besef het dit was nie ʼn randsteen waaroor hy gery het nie, maar sy vrou.”

Barnard sê Anri het nog geleef toe Renaldo op haar afgekom het. Hy het haar dadelik in die voertuig gelaai en met haar na die Hydromed Trichardt-hospitaal gejaag. Sy het Renaldo en sy ma later daar ontmoet.

“Renaldo het by die hospitaal skielik besef dat hy nie sy foon by hom het nie. Hy het na sy ouers gery om hulle in te lig van die gebeure en hy het sy pa gevra om sy foon by die huis te gaan haal. Sy ma is saam met hom terug na die hospitaal.

“Die polisie was ook by die hospitaal; hulle het Renaldo oor die voorval ondervra. Hy het vir die polisie verduidelik dat hy oor Anri gery het, maar dat hy nie besef het dit is sy vrou nie.

“Anri is oomblikke later dood.”

Volgens Barnard is die motor se een wiel oor Anri se pelvisarea en die ander wiel oor haar regterskouer tot by haar heup. Renaldo het glo met die linkerkant van die voertuig oor haar gery.

“Hy het die heeltyd vir sy ma by die hospitaal gesê dat hy nie sal kan aangaan sonder haar nie, hy het die heeltyd bly bid dat sy nie iets moet oorkom nie. ‘Ek sal nie sonder haar kan leef nie, sy is my alles,’ het hy gepleit.

“Toe hy hoor sy is dood, het hy dadelik in sy kar geklim en na die mynskag gery.

“Hy het sy kar langs die pad gelos, ingegaan, opgegaan en afgespring. Die veiligheidswagte het iets gehoor, waarna hulle op sy lewelose liggaam afgekom het.

“Van die oomblik wat Renaldo gehoor het Anri is oorlede, tot hulle sy liggaam by die mynskag aangetref het, was nie eers 45 minute nie,” sê Barnard.

Die egpaar se drie kinders is in hierdie stadium by Renaldo se suster, maar hulle is amptelik in die sorg van Renaldo se ouers geplaas.

“Die skool, kerk en gemeenskap het al ongelooflik baie bygedra en ondersteuning en berading aan die kinders gebied. Hulle skoolgeld vir volgende jaar is ook reeds betaal.”

Renaldo en Anri sal Woensdag saam veras word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karoo ·

Till death do us part. Wat ‘n tragiese storie, vrede en liefde vir die kinders en familie.

Wildemien ·

Wil voorkom daar was goeie getuies wat alles aanskou het. Die kinders se weergawe dalk? Die berig meld nie hulle ouderdom nie.

Mieke ·

Sjoe, dis baie erg!
Aspris, of per ongeluk, dit Bly sad, en die kinders sal altyd die letsels daarvan oorhou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.