Gesinsuitstappie eindig tragies toe pa sterf

Bennie Jonker. Foto: Verskaf

Bennie Jonker. Foto: Verskaf

ʼn Oos-Kaapse gesin is in rou gedompel nadat ʼn heerlike gesinsuitstappie in ʼn tragedie ontaard het, toe ʼn pa van twee dood is nadat hy met sy vierwielmotorfiets verongeluk het.

Bennie Jonker (32) het Saterdag saam met sy vrou, Jeneane en ʼn groep vriende met vierwielmotorfietse deur die Grootrivierpoort tussen Patensie en Steytlerville gaan ry, toe die tragiese ongeluk gebeur het. Hul twee kinders, Yolande (5) en Benjamin (3), was in ʼn bakkie wat saam met die groep gery het.

Ronel Slabbert, Bennie se skoonma, het aan Maroela Media gesê Bennie was ʼn baie ervare ryer, wat ʼn passie vir vierwielmotorfietse gehad het. Hy en twee ander ervare ryers het Saterdag die voortou geneem, terwyl minder ervare ryers in ʼn tweede groep agter hulle gery het en Jeneane in ʼn derde groep heel agter.

“Hulle het kort voor die ongeluk onder bome stilgehou, bietjie bene gerek en iets geëet voordat hulle weer in die pad geval het. Ons weet nog steeds nie heeltemal wat gebeur het nie, maar iets moes fout gegaan het en Bennie het ‘n ongeluk gemaak en so entjie by ʼn soort afgrond afgeval,” het Slabbert gesê.

“Niemand het die ongeluk sien gebeur nie en die groep het aanvanklik reg by die ongelukstoneel verby gery sonder om te weet. Dit is eers toe hulle by die hotel [in Steytlerville] aankom en Jeneane opgewonde vir Bennie wou vertel sy het die hele pad mooi op haar eie gery, dat sy besef het hy is nie daar nie.”

Lede van die groep het teruggery om Bennie te soek en het hom dood op die toneel aangetref. Volgens Ronel sal ʼn nadoodse ondersoek gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal, maar hulle vermoed Bennie het moontlik met die val sy nek gebreek.

“Jeneane is heeltemal verwese. Sy huil baie en vra hoekom dit moes gebeur,” het Ronel gesê. “Hul kinders is nog te klein om regtig te verstaan hul pa is weg. Ons het vir hulle verduidelik hulle pappa is na Liewe Jesus toe waar hy hom weer heeltemal gesond sal maak en gisteraand het Yolande gevra wanneer gaan Liewe Jesus nou weer haar pappa terugstuur. Toe die voordeurklokkie in ʼn stadium lui, het Benjamin opgewonde gesê, ‘hier is my pa nou!’ Hulle verstaan nie dat hulle pa weg is nie.”

Ronel het Bennie beskryf as ʼn gesinsman wat sy vrou en kinders op die hande gedra het. “Hy was ʼn baie liefdevolle mens. Hy het sy stoute streke gehad, maar hy het so ʼn mooi hart gehad en sy gesin was sy lewe. Hy was ʼn sonskyn-mens wat ʼn oop hand gehad het vir almal wat hy teëgekom het. Sy dood laat regtig ʼn reuse leemte in die hele gemeenskap,” het sy gesê.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Se maar net ·

My innige simpatie aan die gesin. Ek en my boetie was presies dieselfde ouderdom ( ek 5 en hy 3 ) toe my pa ook dood is. Familie en vriende het die dag by die dam spandeer en my pa het verdrink. Mamma, asb kry vir jou kinders sielkundige hulp. My boetie kan my pa nie onthou nie ( dit het al 22 jaar gelede gebeur ), maar ek onthou my pa en ek onthou die dag baie goed. Ek sit vandag met skeidings angs as volwassene en dis baie moeilik. Ek kan nie soos ‘n “gewone” mens redeneer nie , in die opsig van as my man nie sy foon antwoord nie kan ek nie aanneem hy is dalk besig nie, ek dink onmiddelik aan die ergste en wil begin paniek aanvalle kry. Dit neem jou lewe oor, so asb kry vir jouslf en jou kinders berading. Baie sterkte vir julle in hierdie moeilike tyd, julle is in my gebede

Mina ·

Rus in Vrede ons Liefste Bennie. Ons gaan jou mis, jy was voorwaar ‘n wonderlike man, pappa broer en swaer. Jy was meer as net familie vir ons. Sonskyn mens. Sal jou glimlag altyd onthou en ons sal jou kinders als vertel van hulle wonderlike pappa. Ons familie is stukkend, maar ons klou vas aan al ons goeie en lekker tye herinneringe saam. Dit sal ons viraltyd koester. Rus sag by Jesus se voete tot ons weer ontmoet.

Gesiggie ·

Dit breek my hart”’ ai tog Ronel, my hele wese gaan uit na jou en jou kinders, dit was veronderstel om n heerlikke dag te wees, n uitstappie nie n tragedie….Ek wens ek kon die tyd vir jul twee kinders terug draai, want hoe kan hul verstaan hoekom Pappa nou so lank vat om gesond te word… daar wag nog n lang pad vir jul, en nog baie hartseer tye..en hoe dan nou, as hy dan nie weer terug kom.. Sterkte aan jul, mag God jul versterk en Dra elke dag… Jammer vir jul verlies

weet van ·

Ons word maar almal vir mekaar geleen. Mag julle vertroos word gee drukkies onbeskaamd wees net daar vir mekaar woorde soms onnodig.

Hannelie ·

Dis so hartseer! Sterkte aan Jeneane en haar twee kindertjies. Ek onthou toe my ouboet verongeluk het, was sy twee kinders onderskeidelik 6 en 10 jaar oud. So klein en hulle moet deur so ‘n trauma gaan. Dis ‘n baie lang steil pad wat voorlê, maar onthou jy loop dit nie alleen nie, God is heeltyd aan jou sy. Ons bid vir jul vir vertroosting.

hercules ·

~ geen menslike simpatiseer kan ‘n traan keer, geen mense twee hande uitreik kan jou leer hoe om te beweeg van lewe na dood en nie verstaan why, hoekom, waarom? ~ slegs Vader kan julle troos en met geroeste-spyker-deurboorde-hande-voete sal Jesus julle dra ~ Heilige Gees vou julle toe in ‘n vredes kokon van sagte liefde en vee die trane van rou ~ baie sterkte ~

Baie baie hartseer ·

Dit is baie baie hartseer, klou egter maar eers net vas aan die wete dat jul bevoorreg was om hom vir die paar jare te gehad het en bly op jul kniee, soos “Sê maar net” sê, kry asb vir julle almal sielkundige help, dit is beslis nie net ‘n verlies nie, dit is ‘n ongelooflike groot verlies, nie net op aarde om jul, maar ook vir jul emosionele.

Madeleine Fonternel ·

My innigste simpatie aan die familie en spesiaal aan Jeneane en die twee kinders. Mag die Hemelse Trooster julle styf vashou in Sy vertroostende hande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.