Gesinsvakansie ontaard in nagmerrie toe chalet afbrand

Die Jacobs-gesin (Foto: Verskaf)

ʼn Gesin van Ballito in KwaZulu-Natal se blaaskans in die berge het in ʼn nagmerrie ontaard toe ʼn brand Saterdagaand in hul chalet uitgebreek het. Die vlamme het die gebou binne etlike minute verswelg en hoewel die gesin besittings van derduisende rande verloor het, is hulle dankbaar om ongedeerd van die voorval af te kom.

Johan Jacobs (37), sy vrou, Leandie (36), en hul kinders, Emma (6) en Wian (een en ’n half jaar), het Saterdagaand vir Johan se verjaardag by die Giants Cup Wilderness-natuurreservaat in Underberg uitgespan.

“Dit was ʼn koue en reënerige dag en ons het reeds vroegmiddag die kaggel in die chalet aangesteek om warm te bly,” vertel Johan.

“Leandie en die kinders het omstreeks 20:00 gaan slaap. Ons het beplan om vroeg in die bed te kom sodat ons die volgende oggend vroeg kon gaan stap.”

Johan sê hy het nog by die kaggel gesit en wag dat die hout uitbrand. In dié tyd het die kaggel se knetterende vlamme die grasdak op ʼn manier bereik en die dak het aan die brand geslaan.

Die chalet het tot op die grond afgebrand (Foto: Giants Cup Wilderness, Facebook)

“Ek het geen benul hoe die vlamme by die dak uitgekom het nie, maar toe ek weer sien, brand die dak. Ek het dadelik my vrou en kinders wakker gemaak en ons het uit die huis gehardloop.

“Die vlamme het só vinnig versprei dat ons nie eens ons klere of enige ander bagasie kon red nie. Ons kon net my vrou se handsak gryp. Brandende grasbolle het stuk-stuk van die dak tot op die grond geval en ons het net geweet ons moet so vinnig moontlik uit die chalet kom.”

Die gesin het in hul motor na die eienaars van die chalet gery en hulle van die brand in kennis gestel.

Wolf Avni, mede-eienaar van die reservaat, sê hulle het dadelik op ʼn gemeenskapsgroep die boere op buurplase van die brand laat weet. Dié het met bakkies en brandbestrydingstoerusting na die reservaat gejaag en die brand probeer blus. Die chalet het egter tot op die grond afgebrand. Hulle het wel die brand in bedwang gebring voordat dit verder kon versprei.

Die vlamme het die grasdak verteer (Foto: Giants Cup Wilderness, Facebook)

“Ons is dankbaar die brand het nie verder versprei en meer skade aangerig nie. Ons was bang dit versprei na ons dennebos,” het Avni aan Maroela Media gesê.

Avni sê dit is nog nie duidelik hoe die vlamme in die kaggel die dak bereik het nie.

Die reservaat het vir die Jacobs-gesin ander blyplek vir die aand gereël. Die gesin moes egter die volgende oggend met ʼn leë bagasiebak terugry huis toe.

“Ons sportnutsmotor was die Saterdag volgepak. Ons het als in die brand verloor. Ons het rofweg uitgewerk dat ons tot R35 000 se goed verloor het.”

Johan sê hulle is egter dankbaar dat hulle ongedeerd van die brand afgekom het.

“Ek is dankbaar ek het by die kaggel gebly om betyds die brand op te merk. Anders het dinge heeltemal anders verloop …”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Tiptol ·

Daar is net een manier hoe die vlamme die dak kon bereik. Daar was te veel hout in die kaggel wat die vuur uit beheer gemaak het.

Deon ·

Dit is n moontlikheid waaraan die res van ons kan dink en maniere in plek stel om seker te maak jy kan nie jou kaggel oorlaai nie

Francois Le Cochon ·

Ook sifdraad in die skoorsteen, om te verhoed dat brandende stukkies hout vasgevang word.

Francois Le Cochon ·

Netso, die vuur moet net rook uit die skoorsteen laat, nie brandende stukkies hout agv te groot vuur. Moenie ‘n “bonfire” in ‘n kaggel maak nie, 2-3 stukkies hout is genoeg.

tweeling ·

Om die rede is dit die eienaars se verantwoordelikheid om te sorg dat die skoorsteen hoog genoeg is sodat genoeg afkoeling boontoe plaasvind, jy kan nie die huurders blameer nie , hulle verwag die plek in orde wat alles insluit.

Pieter ·

Nie noodwendig nie. Indien die skoorsteen pyp van staal gemaak is word hy verskriklik warm, en indien daar nie ‘n barrier tussen die gras en die staal ingebou is nie, gaan die gras vlamvat. Die pa het juis gesit en wag dat die hout uitbrand, so die vuur was reeds besig om laer te brand. Hang ook af hoe lank die gras geneem het om te begin brand.
Hier is te min inligting om ‘n beskulgiging te maak en die versekering of brand deskundiges moet maar ondersoek instel.

Frank John ·

Grasdak lyk mooi en is lekker maar droë gras en vuur gaan nie saam. Ek het my lapa met staal gebou en weg van my huis.

SjN ·

Vuur was te groot en brandende stukkie hout deur koorsteen getrek en op dak beland. Gelukkig dat jul betyds kon ontruim.

Maritha ·

Ek is nou ni ń speurder nie, maar ek dink dat huisies soos daardie en di een wat ń jaar gelede afgebrand het in di Khalahari, nie gereeld besoek word nie. Voëls maak nessies in di skoorsteen en die hitte van selfs ń klein normale vuurtjie is genoeg om daardie droë grassies te laat smeul. Dan raak dit aan di brand en so begin ń vuur. Ons het self so ń ondervinding gehad. Di balke het begin brand en dit was nie ń grasdak nie. Gelukkig kon ons betyds sien wat gebeur en die vuur blus

Elmarie ·

Ek is baie bly die mense het ongedeerd daarvan afgekom, jammer oor hul verliese. Wat ek nie kan verstaan is hoe het die eienaar van die chalet nie brandbestrydingstoerusting nie? By die chalet self en ook op sy plaas; met ‘n grasdak is so iets tog sekerlik ‘n MOET? Nou moes hy bure inkry om te help! Nee jinne, dis swak bestuur !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.