Eenheid 1 van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad sal Maandag van die kragnetwerk afgehaal word vir beplande instandhouding ná ʼn rekord 474 dae.
Eskom het Sondag gesê die eenheid sal ongeveer ʼn maand lank nie beskikbaar wees nie en sal na verwagting weer teen die einde van Oktober op die netwerk gekoppel word.
Die eenheid is al sedert Februarie 2015 ononderbroke aanlyn. Koeberg eenheid 2 funksioneer tans optimaal en dra 930MW tot die nasionale netwerk by, het Eskom bygevoeg.
“Elk van die twee eenhede by Koeberg word elke 15 tot 18 maande afgeskakel om hervul te word, ondersoek te word en sodat instandhoudingswerk kan plaasvind. Hierdie roetine instandhouding is deel van Eskom se algemene instandhoudingsplan vir sy vloot krageenhede. Kragonderbrekings word geskeduleer om te voorkom dat albei eenhede op dieselfde tyd afgeskakel moet word en om jaarliks die wintermaande te vermy.”
Tydens hierdie kragonderbreking word een derde van die gebruikte kernkragbrandstof met nuwe brandstof vervang. Volgens die kragvoorsiener word die instandhouding, aanlegwysigings, inspeksies en statutêre werk gedoen om seker te maak dat daar aan internasionale veiligheidstandaarde voldoen word.
“Ons instandhoudingsplan bevorder die betroubaarheid van die aanleg, wat gevolglik die bedryfsreserwes verhoog en die kragnetwerk stabiliseer. Dit is danksy hierdie streng instandhoudingsprogram dat ons al meer as ʼn jaar lank stabiel krag kon voorsien.”
Weereens ‘n area waar die DA sorg dat die dinge reg gedoen word. As daar gekyk word na hulle strate en paaie….