Geskiedenis wink vir plaaslike avonturier

Kirsten Neuschafer is besig om die Golden Globe-septer te swaai. (Foto: Sebastien Salom-Gomis/AFP)

Staan opsy, Phileas Fogg en Kaptein Nemo; Kirsten Neuschäfer is ʼn Suid-Afrikaanse avonturier wat net so wel die hoofkarakter in een van Jules Verne se boeke kon gewees het.

Die 40-jarige boorling van Gqeberha is tans goed op koers om die Golden Globe-seiljagwedvaart te wen. En dit is omtrent vir jou ʼn moordende storie.

Deelnemers het op 4 September 2022 in Les Sables-d’Olonne in Frankryk weggetrek en vaar solo, ononderbroke en sonder enige hulp (dit sluit drinkwater en ʼn GPS-toestel in), om die wêreld.

Altesaam 16 geesdriftige deelnemers het verlede jaar weggespring; vyf maande later het dié getal tot vier bittereinders gekrimp. Na verwagting behoort Neuschäfer – die enigste vrou in die geselskap – hierdie naweek terug by die Franse beginpunt te wees.

Haar wedervaringe klink inderdaad na iets wat ʼn skrywer soos Verne, ʼn regisseur soos Steven Spielberg of enige Netflix-baas wat sy sout werd is, sal laat regop sit.

Volgens Sail-World was die Suid-Afrikaner nou onder meer die eerste deelnemer om die tog rondom Cape Horn (aan die suidpunt van Chili) suksesvol te tem, terwyl sy ook ingespring het om een van haar mededeelnemers te red toe sy boot gesink het.

En te midde van storms en ander beproewings het sy in Januarie die voortou geneem nadat ʼn groot brander Simon Curwen van Groot-Brittanje se boot getref het.

Sedertdien kyk sy glad nie terug nie en Neuschäfer is steeds die voorloper in die All Boats-kategorie. Curwen het intussen na die Chichester-katgerie geskuif omdat hy vir herstelwerk in Chili moes stop.

As ʼn mens so na Neuschäfer se getuigskrif kyk, lyk dit of soutwater en avonture behoorlik deur haar are bruis.

Sy was al aan die stuur van sake tydens ʼn National Geographic-program oor die natuurskoon van die Suidpoolstreek, terwyl sy ook hulp verleen het aan ʼn filmspan van die BBC se Seven Worlds, One Planet-reeks.

Op droë grond het sy die hele Afrika platgetrap toe sy die 15 000 km van Europa terug na Suid-Afrika aangedurf het.

Ja-nee, geskiedenis wink ongetwyfeld vir Neuschäfer.

Indien alles volgens plan verloop, kan sy die eerste vrou word om ʼn alleenvaart om die wêreld te wen.

Haar kompas dui immers die regte koers aan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

As ‘n boorling van Port Elizabeth is ek baie trots op haar en hoop sy wen.

Cherokee ·

Die ‘Baai’, Daai plek wat soos ‘n babetjie is. As hy nie nat is, is hy koud.

Wilhelm ·

Ek is nie seker of almal besef watter ongeloog=flike prestasie hierdie is nie. Sy gaan wen, maar net om die regatta te voltoioi is alreeds ‘n ongelooflike prestasie. Om alles te kroon, sy weet nie dat sy besig is om te wen nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.