Geskiedkundige skool glo deur brandstigting geëis

Die brand wat die Sterkstroom-skool in puin gelê het, is glo gestig weens politieke binnegevegte. Foto: Facebook

Die Oos-Kaapse polisie vermoed iemand het die brand gestig wat die gekombineerde skool op Sterkstroom in puin gelê het.

En die plaaslike DA-raadslid sê sy is amper seker die brandstigting is die gevolg van binnegevegte in die Oos-Kaapse ANC.

Die brand op die dorp, sowat 50 km noordwes van Queenstown, is in die vroeë oggendure van Woensdag gestig – blykbaar aan weerskante van die geskiedkundige gebou – en het alles behalwe die gr. 0-klas en rekenaarlokaal verwoes, sê kapt. Namhla Mdleleni.

Hoewel die plaaslike kantoor van die Enoch Mgijima-munisipaliteit onlangs tydens ʼn diensleweringsbetoging afgebrand is, sê Mdleleni die dorp was Dinsdag rustig met geen sprake van protesoptrede nie.

Binnegevegte is ons heel grootste probleem. Ons as gemeenskap word geïgnoreer.

Maar Lindy Haggard, wat onverwags in ʼn tussenverkiesing in 2014 die munisipale wyk by die ANC afgerokkel het omdat die helfte van dié party se ondersteuners weens faksiegevegte vir haar gestem het, sê ontevredenheid prut al jare lank hier vandat die destydse munisipaliteit, Inkwanca, in daardie jaar onder administrasie geplaas is.

“In Oktober 2014 het van die munisipale amptenare begin staak,” vertel Haggard, “en intussen drie hofsake teen die munisipaliteit gewen, maar hulle is steeds nie terug by die werk nie. Hulle word geïgnoreer deur die ANC.”

Sy sê op die Maandag twee weke gelede toe die munisipale gebou, nou die eiendom van die saamgesmelte Enoch Mgijima-munisipaliteit afgebrand is, was die ANC-burgemeester en speaker veronderstel om ʼn wykskomiteeverkiesingsvergadering op Sterkstroom by te woon.

Haggard vertel toe hulle bel om te hoor waarom die leiers van die munisipale raad nie uitkom nie, het hulle beweer hulle het die vorige dag laat weet die vergadering is afgelas. Sy sê egter dié boodskap het die mense van Sterkstroom nooit bereik nie.

’n Uitgebrande dop was al wat van die geskiedkundige skool, vroeër die Hoërskool John Vorster, oorgebly het. Foto: Facebook

“Dalk het die afbranding van die skool niks met die ANC te doen nie,” sê Haggard, “maar binnegevegte is ons heel grootste probleem. Ons as gemeenskap word geïgnoreer. Die raad moes lankal gesorg het dat die amptenare terug by die werk kom, maar niemand sien toe dat dit gebeur nie.”

Haggard vertel sy is omstreeks 02:00 Woensdag wakker gemaak toe die skool reeds ʼn rukkie moes gebrand het. Daar was geen water om die vlamme te blus nie, want die munisipaliteit se water word elke nag afgeskakel, volgens Haggard om te keer dat selfs meer water verlore raak weens al die lekkasies in die verouderde waterpype.

Voor Inkwanca met Tsowana en Lukhanji saamgesmelt het, het Molteno en Sterkstroom elkeen sy eie brandweerbakkie gehad. Ná die samesmelting in April 2016, vertel Haggard, is albei bakkies gevat na Queenstown, die setel van die nuwe Enoch Mgijima-munisipaliteit.

Die enigste behoorlike brandweerwa was nie beskikbaar nie, want ʼn herstelplek weier om dit terug te gee tot die raad hulle R29 000 vir die herstel daarvan betaal.

Die enigste behoorlike brandweerwa was nie beskikbaar nie, want ʼn herstelplek weier om dit terug te gee tot die raad hulle R29 000 vir die herstel daarvan betaal, sê Haggard. “Altesaam 44 van die munisipaliteit se voertuie, waaronder brandweerwaens, is op 1 Junie opgeveil nadat een van die raad se skuldeisers ʼn bevel teen hulle gekry het.”

Toe een van die bakkies eindelik van Queenstown af opdaag, vertel Haggard, was sy watertenk leeg en kon dit nie op Sterkstroom gevul word nie, weens die watervoorsiening wat snags afgeskakel word.

Haggard sê die skool het sowat 650 leerders van gr. 0 tot gr. 9 gehuisves, van wie sowat 240 in 11 private losiesplekke op die dorp bly en sowat 60 in die skoolkoshuis. Die res is plaaslike kinders.

Op ʼn gemeenskapsvergadering oor die Hoërskool John Vorster se toekoms wat Haggard Donderdagmiddag bygewoon het, is gesê die skool betaal self die gebouversekering en dit sal herbou kan word, “ons weet net nie wanneer nie”.

Sowat 16 klasse het in die slag gebly, ʼn taamlike groot skoolsaal, die kantoorblok en kombuis.

Haggard vertel die brandweerhoof van Queenstown het nieamptelik bevind die skool, wat vroeër jare as die Hoërskool John Vorster bekendgestaan het, is aan twee kante aan die brand gesteek, maar die polisie is intussen besig met hul eie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Judge Dredd ·

Verander die dorp se naam, dit is mos wat regtig saak maak dan nie ANC ?

vissie ·

So word die land afgebrand tot niks oor sal wees nie bla bla bla bla

Mrs H ·

Onnodig kweek hulle haat in ons. Ons het hulle niks gedoen nie. Kinder hartjies verstaan hierdie glad nie, maar seer, is die hartjies beslis. Hulle verstaan nie eers wat n “munisipaliteit” is op laerskool vlak nie. Wat het die skool buitendien uit te waai met die nonsens by die munisipaliteit? Hoekom die skool afbrand? Rassisme? EFF wat ANC of DA wil ondermyn?

Amanda ·

So hartseer en onnodig. My ou skool waar ek my hele skool loopbaan voltooi het. Baie mooi herinneringe.

AttieNo1 ·

Ai dit is tragies, maar hoe verder ek lees hoe meer begin ek lag, want mense kry die regerings wat hulle verdien en nog meer so met demokrasie want dan kan ons kies hoe dom arrogant of onbekwaam die mense is wat ons gaan onderdruk.

Juffrou ·

‘n Klassieke geval van die siek samelewing waarin ons sinvol probeer funksioneer en ons kinders waardes leer. Julle weet mos, daardie goeters wat ons van babadae af by ons kinders inprent. Dinge soos: “Pas jou skoene, klere, speelgoed mooi op. Jy gaan nie nuwes kry as jy dit verniel nie.” ‘n Eenvoudige toets is om te kyk hoe lyk die uitspattig duur motors waarmee ons mede-burgers rondry … en moenie vergeet: dit help as jy jou griewe demonstreer deur dinge af te breek of te vernietig. Dit los mos die probleme sinvol op.

IK ·

Mooi so, ons is op die pad na vóór 1652. Ek wonder of ek my stertriem deur Amazon kan bestel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.