‘Geskiedkundige’ uitspraak in silikose-klasaksie verwelkom

myn staking mynhoed

Argieffoto

Die Mineraleraad van Suid-Afrika het die uitspraak van die Johannesburgse hooggeregshof verwelkom waarin die skikking van die silikose- en tuberkulose-klasaksie goedgekeur is.

Die hooggeregshof in Johannesburg het vroeër vandag ʼn skikkingsooreenkoms ter waarde van R5 miljard goedgekeur wat aangegaan is tussen goudmaatskappye en duisende mynwerkers wat longsiektes opgedoen het, en hul afhanklikes.

Die skikkingsooreenkoms tussen die eisers en die werkgroep oor longsiektes is reeds verlede jaar aangegaan, maar moes nog deur ʼn hof goedgekeur geword het. Die werkgroep verteenwoordig African Rainbow Minerals, Anglo American SA, AngloGold Ashanti, Gold Fields, Harmony en Sibanye-Stillwater.

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad, het gesê die skikkingsooreenkoms is die uiteinde van meer as vier jaar se gesprekke tussen die partye, insluitend verskeie entiteite in Suid-Afrika en ander SAOG-regerings, nie-regeringsorganisasies en ander organisasies.

“Die Mineraleraad was ʼn integrale deel van die groter proses, veral deur te verseker dat die huidige vergoedingstelsels wat val onder die Mediese Buro vir Beroepverwante Siektes (MBOD) addisionele finansiële en soortgelyke ondersteuning ontvang,” het Baxter gesê.

“Die Mineraleraad wil die partye in die skikkingsooreenkoms gelukwens met hul samewerkende en oplossinggedrewe benadering, met die wete dat dit noodsaaklik was om ʼn uitkoms te vind in ag genome die behoeftes van die eisers en die volhoubaarheid van die bedryf.”

Luidens die ooreenkoms sal ʼn trust gestig word om tien klasse van eisers te bevoordeel. Myners wat geraak is en hul families sal tussen R70 000 en R500 000 ontvang afhangend van die klas waarin hulle val.

Baxter het gesê hoewel hierdie ʼn geskiedkundige ontwikkeling is, is die volgende stappe in die proses nog belangriker.

Dit sluit in om te verseker dat geen werknemers silikose opdoen nie, asook intensiewe programme om pulmonêre tuberkulose te identifiseer en te behandel en te verseker dat statutêre vergoeding wat nog altyd beskikbaar was vir voormalige mynwerkers onder die MBOD toeganklik is en betyds uitbetaal word.

Baxter het gesê die Mineraleraad, wat sowat 90% van mynmaatskappye verteenwoordig, sien uit daarna om voortaan steeds ʼn proaktiewe en opbouende rol in hierdie prosesse te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lollie ·

Uitstekend! Baie goeie nuus! Hoop dit word vinnig afgehandel sodat die families nog die geld kan gebruik.
Daardie mans het hulle lewe deurgebring op die myne om kos op die tafel te sit en moet nou met hulle lewe betaal.
Ek het eerstehandse ondervinding daarvan en dit is baie hartseer!

Ore ·

Baie geluk mnr die prokureur,wat is jou fooitjie wat jy gaan verdien? Dit sal verseker eers afgetrek word voordat uitbetaling gaan plaasvind. Vra maar net

Stan ·

Hoeveel skade het die klomp se gerokery veroorsaak? Die regsspan kry nou lekker geld en more begin die myne een- vir-een toemaak met duisende wat hulle werk verloor.

Iens ·

Ai Stan moenie sommer net oordeel nie. Ek het op n asbesmyndorp groot geword. En het 14 jaar gelede uitgevind ek het asbes in my een long. Soveel van my ouers se vriende is dood aan asbesverwante siektes soos mesitilioom.
So wees maar bietjie genadiger on jou uitsprake.

TINRSA ·

Stan, ek weet my Skoonpa het nooit gwrook nie en hy het tering gehad en is dood weens longversaking, so moenie uitspraak maak sonder om te weet wat die feite is nie

Jan ·

Ek wonder kan staalwerkers wat by iscor gewerk het ook eise instel…

Daan Erasmus ·

Ek het my gehoor verloor by Yskor Pretoria. Wat van dit?

Ryno ·

Stan vind eers meer uit oor oor dit voor jy weer net n dom ding se…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.