Geskiedkundige veldtog teen NGV van stapel gestuur

Foto: Hush Naidoo/Unsplash

  • Skakel op 4 September om 11:00 in op Maroela Media se Facebook-blad vir dié paneelbespreking om te sien wat dié kenners oor die NGV sê, en of daar nog hoop is vir Suid-Afrika se gesondheidsorg.

Solidariteit het Dinsdag bekendgemaak dat hy die grootste veldtog in sy geskiedenis van stapel stuur om die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te stuit.

Volgens Morné Malan, senior navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), verg hierdie bedreiging die samewerking van alle Suid-Afrikaners.

“Die NGV is nie ʼn slegte plan omdat dit sekeres ten koste van ander gaan bevoordeel nie. Inteendeel, Suid-Afrika in sy geheel gaan vanuit ʼn ekonomiese en veral vanuit ʼn gesondheidsperspektief slegter daaraan toe wees, sou die NGV in sy huidige formaat deurgevoer word. Gesondheidspraktisyns sal ook van feitlik enige reg op vryheid om hul beroep te beoefen volgens hul voorkeur en na hul goeddunke ontneem word,” sê Malan.

Solidariteit het voorts as deel van sy volgehoue verset teen die NGV bekendgemaak dat die vakbond gereed is om kommentaar op die wetsontwerp in te dien, maar het ook reeds opdrag aan sy advokaat gegee om hofstukke op te stel en die menings van voorste deskundiges op die gebied in te win.

“Ons kommentaar sal reeds in die vorm van hofstukke geformuleer wees. Ons wil dit duidelik stel – as die regering besluit om hierdie wetgewing deur te druk sonder om ag te slaan op kommentaar, dan gaan hierdie hofsaak op hom wag. Ons is nie net seker van die onwerkbaarheid van die voorstel nie, maar ook van die ongrondwetlikheid daarvan,” het Malan gestel.

Solidariteit maan die regering om alternatiewe te ondersoek ter wille van alle Suid-Afrikaners se gesondheid en die toekoms van die gesondheidsbedryf.

“Dit is nie ons wat halsstarrig of hardkoppig optree nie. Ons erken die krisis in die huidige stelsel. Ons maak voorstelle om dit op te los. Dit is die regering wat weier om van ʼn totaal gesentraliseerde, staatsbeheerde gesondheidstelsel af te wyk. Ons wil Suid-Afrikaners gesond sien. Ons ondersteun universele sorg, maar ons sal nie eens die staat vertrou om ʼn snoepwinkel te bestuur nie, wat nog te sê die hele land se gesondheidsorg,” het Malan afgesluit.

Steun ons saak só:

Die staat is besig om jou gesondheid te kaap. Lewer kommentaar voor 11 Oktober 2019 en gee ons jou mandaat. Só steun jy Solidariteit se regsaak, want jou gesondheid is nie onderhandelbaar nie. Volg die skakel: https://solidariteit.co.za/ngv/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Magda ·

Stem saam – die staat kan nie eers vertrou word om n SNOEP WINKEL te bestuur nie – Hoop Solidariteit gaan slaag om die te stop – of om seker te maak as dit deur gaan dat daar bevoegde / opgeleide mense in beheer is – nie volgens velkleur nie maar volgens kennis – maak nie saak wat jou velkleur is nie – as jy weet wat jy doen is dit reg.

Jerry ·

Indien die veldtog asook hofsaak voorbereiding gesamentlik met alle partye plaasvind sal dit deur Suid Afrikaners ondersteun word, maar as dit weereens net Solidariteit op hulle eie is, sal dit nie die moeite loon nie! Sonder selfsugtige motiewe en slegs in eenheid vir sake van gemeenskaplike belang van almal wat die ANC opponeer, is daar kans op sukses!

Judge Dredd ·

Dan moet jy en die DA nou begin samewerkend en versoenend saam met Solidariteit optree hoor!!!

Riena ·

Suid Afrika is `n land vol pasiente. Baie VIGS lyers, baie Tuberkulose lyers, baie motorongelukke, baie geweld met mes en skietwonde, tienerswangerskappe, Diabetes, Hartsiektes, ens.
Baie uitdagings vir `n gesondheidsversekering waar letterlik `n handjievol betalers alles moet dra. `n Meer ooglopende ramp kan ek my kwalik voorstel!

Leon ·

Die regering het die klinieke en hospitale totaal opgevoeter met sy BBBEEE. Nou wil hy probeer om dit met geld reg te maak. Dieselfde stelsel het nie behoorlik in Brittanje gewerk waar alles funksioneer, hoe gaan dit hier werk.

Manie van Worcester ·

Die regering en hulle volgelinge verstaan nie die wereld, daarom moet hulle op alle moontlike maniere gedwing word om reg te doen

Kootjie ·

Dis heeltemal waar… maar ons wat Medisefondse het is tevrede! Gee net vir die ouens wat nie het nie!! Hulle sal dit baie waardeer!! Ons ander is tevrede!! Ek belowe jou!! En nog ‘n ding…. dit sal baie minder werk wees.. want meer as diehelfde is goed geholpe!! Ek belowe jou!!

jaco ·

Wat van eerder veldtogte hou teen regstellende aksie en plaasmoorde? NGV maak niemand werkloos weens ‘n verkeerde velkleur nie. Dit vermoor of wond ook nie boere nie.

Suzette Geringer ·

SA se regering is geneig om goed wat in eerste wereld lande werk in SA te probeer – kan nie verstaan dat hulle nie kan besef SA kan met die lande vergelyk word nie. Ons het ‘n regering wat nie eens ‘n winkeltrollie kan bestuur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.