Geskiet ná wag dink hy is boef

Die veiligheidsbeampte se bakkie. Foto: Centurion Concerned Citizens / Facebook

Die veiligheidsbeampte se bakkie. Foto: Centurion Concerned Citizens / Facebook

ʼn Jong man van Pretoria is Woensdagoggend geskiet nadat ʼn veiligheidsbeampte hom glo vir ʼn inbreker aangesien het.

Die 22-jarige man woon in ʼn buitekamer op sy ouers se erf in Heuweloord, Centurion. Sy ouers is kliënte van die veiligheidsmaatskappy ADT.

Leon Muller, ADT se bestuurder van die noordelike streek, het Donderdag aan Maroela Media bevestig dat ʼn ADT-reaksiebeampte omstreeks 05:06 die kliënt se seun in die been geskiet het, omdat die beampte glo gedink het hy was ʼn inbreker.

“ADT het gereageer nadat ʼn alarm by die kliënt se huis afgegaan het,” het Muller gesê. “Die beheersentrum het probeer om die kliënt te bel om agter te kom wat aangaan, maar kon nie die kliënt in die hande kry nie. Die beampte is daarna volgens normale prosedure na die huis gestuur om ondersoek in te stel.”

Muller het gesê met die beampte se aankoms op die toneel, het hy gesien die buitekamer se deur staan oop. “Hy het gaan ondersoek instel om te bepaal of daar geforseerde toegang was en toe hy by die buitekamer inloer het hy iemand in die donker in sy rigting sien aankom.”

Volgens Muller beweer die beampte hy het gevra wie dit is, maar die persson het nie geantwoord nie. Hy het glo aangeneem dit is ʼn inbreker en ʼn skoot afgevuur. “Die spesifieke inligting oor die voorval is nog nie met die kliënt se seun bevestig nie. ADT het ʼn interne ondersoek van stapel gestuur en alle inligting word met die polisie gedeel.”

Die seun het ʼn vleiswond aan sy regterkuit opgedoen. Netcare 911 is ontbied en die seun is in ʼn stabiele toestand na die Muelmed-hospitaal geneem.

“Ons is vreeslik jammer oor die ongelukkige voorval en vra die inwoner en sy gesin opreg om verskoning. Ons interne ondersoek duur voort en ons sal ons samewerking aan plaaslike owerhede gee.”

Die beampte is deur die polisie van die toneel weggeneem.

Kapt. Tsekiso Mofokeng, woordvoerder van die polisie, het Donderdag aan Maroela Media gesê die beampte is op waarskuwing vrygelaat en moet later in die stad se landdroshof  verskyn. ʼn Datum vir sy hofverskyning moet nog bepaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dee ·

Uiters debatteerbare voorval. Kommentaar hieroor moet met omsig wees.

ig ·

Daai wag kan sy sterre dank dat hy nie wit was nie.Die arme man het mos sy werk gedoen deur eers te vra en toe geskiet na geen antwoord ontvang het nie.

marous ·

Weet nie of ek anders sou optree as ek in die man se skoene was nie…inwoners reageer nie, waarsku maar geen reaksie, skiet laag… Ek dink nie dis nodig vir die strafhof nie…..

Inge ·

Ek stem 100% saam. Die wag het net sy werk gedoen. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar ek dink nie die “kliente” moet ‘n klag le nie. Die prosedures is gevolg.

Linda ·

Ek blammeer hom nie ve n oomblik nie! Vandag is dit skiet of word geskiet! As dit waar is dat hy nie reaksie gekry het toe hy gevra het nie, sou dit my insiens baie onregverdig wees as hy enigsins aangekla word, hetsy by sy werk of by polisie! Hy het net sy werk gedoen.

Realis ·

Sorry swaer maar deesdae word die polieste ook geskiet omdat hulle soos skurke lyk (is).

Liewe lulu ·

Moes daar nie eers n waarskuwings skoot geskiet gewees het nie

Dee ·

Skelms skiet nie waarskuwingskote nie. Indien dit dus werklik ‘n inbreker was sou dit dom gewees het om eers ‘n waarskuwingskoot (in die donker) te geskiet het tensy die ‘inbreker’ belowe om nie eerste te skiet nie.

GES ·

ADT se wagte ontvang redelik goeie opleiding. Die jong man kon doodgeskiet gewees het. Ek kan nie glo dat die betrokke wag net ingestorm en begin skiet het nie. Daar is foute aan beide kante begaan sekerlik maar ek dink die wag het net sy werk gedoen.

Elizabeth Bosman ·

Normale prosedure sou wees dat die klient ADT bel en se dis ‘n vals alarm en dat alles reg is. Pure beleefdheid. Beampte het korrek opgetree. Ek sou dieselfde doen en myself beskerm.

Tanya ·

Ek stem saam, hy het net sy werk gedoen en ek sou dieselfde opgetree het sou ek in sy skoene was. Maar hoe skiet jy iemand in die kuit as hy na jou toe aan gestap kom? Vra maar net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.