Geskil oor taxiroetes lei tot geweld; 1 geskiet

Argieffoto: SAPD

Konflik oor taxiroetes in Letlhabile naby Brits in Noordwes het Woensdag daartoe gelei dat een minibustaxi aan die brand gesteek is, ʼn taxibestuurder gewond en minstens tien ander voertuie beskadig is.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê dit blyk dat dié geskil tussen die Hebron- en Letlhabile-taxiverenigings ontstaan het.

Mokgwabone sê die taxiverenigings kon glo nie ooreenkom oor hul onderskeie roetes in die Brits-omgewing nie en dié geskil het later Woensdagoggend tot geweld tussen die groepe gelei.

Hy sê die taxi wat aan die brand gesteek is, behoort aan ʼn lid van die Hebron-taxivereniging. Die bestuurder van dié taxi is glo geskiet en later na die hospitaal geneem vir mediese behandeling. Altesaam tien lede van die Letlhabile-taxivereniging se voertuie is met klippe bestook en erg beskadig.

Johannes Tumanyane, sekretaris van die Letlhabile-taxivereniging, sê die geweld het glo ontstaan omdat die Hebron-taxivereniging bedrywighede direk van New Town, ʼn nedersetting naby Brits, tot in Brits wou vestig.

Tumanyane sê hoewel die vereniging wel ʼn lisensie vir dié bedrywighede bekom het, kon die moontlikheid ontstaan dat Hebron sy passasiers in Letlhabile aflaai. Dit kon weer daartoe lei dat die taxidiens passasiers in dié nedersetting oplaai om hulle na Brits te neem – ʼn roete wat die Letlhabile-vereniging as sy eie toe-eien.

“Ons het al vantevore vreedsaam met Hebron saamgewerk. Hulle het mense van Letlhabile na Hebron vervoer, en ons het nie ʼn probleem daarmee nie. Hulle is ʼn bedryfslisensie toegeken sonder ʼn inspeksie [na die roetes]. Daar word egter Donderdag ʼn vergadering gehou waartydens ʼn inspeksie deur die raad gedoen sal word om [Hebron se] bedryfslisensie in ooreenstemming met die toegekende roetes te bring,” het hy gesê.

Die Hebron-taxivereniging het nog nie op die voorval gereageer nie. Die situasie was teen Woensdagmiddag weer kalm.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.