Geskorste eerste burger hof toe

Bitsa Lenkopane, burgemeester van die Kagisano Molopo-munisipaliteit in Noordwes. Foto: Facebook

Bitsa Lenkopane, burgemeester van die Kagisano Molopo-munisipaliteit in Noordwes, het die hooggeregshof in Mahikeng oor haar skorsing genader.

Lenkopane (42) het die hof versoek om haar skorsing nietig te verklaar. Lenkopane voer aan dat die raad nie by magte is om enige raadslid te skors nie en dat die raad nie die LUR vir plaaslike regering in die provinsie versoek het om haar te skors, soos wat gestipuleer word, nie.

Lenkopane is ook deur die ANC op verpligte verlof geplaas nadat sy deur die raad geskors is.

Gerald Modise, woordvoerder van die ANC in Noordwes, het vroeër in ʼn verklaring gesê die party se provinsiale uitvoerende komitee het besluit Lenkopane moet op verlof geplaas word “totdat die situasie weer normaal is”.

Lenkopane is deur die raad geskors omdat sy na bewering nie raadsvergaderings bywoon nie.

Lenkopane, wat ook die provinsiale adjunksekretaris van die ANC Vroueliga in die provinsie is, is vroeër tot streeksvoorsitter van die party in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit verkies.

Sy is in Maart vanjaar skuldig bevind aan aanranding in die Ganyesa-landdroshof nadat sy ʼn EFF-raadslid, Boipelo Bareng, aangerand het. Sy is ses maande tronkstraf of ʼn boete van R5 000 opgelê en die vonnis is in geheel vir drie jaar opgeskort op voorwaarde dat sy nie weer aan dieselfde oortreding skuldig bevind word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Die laaste paragraaf in die berig kan miskien in haar guns tel.

Landi ·

Lenkopane my dear, so jy het gedink jy sal nooit niks oorkom, al doen jy NET wat jy wil? Vir n vrou van 42 tree jy skandelik op en is geen voorbeeld of rolmodel nie. Die woord vrou, verdien jy ook nie, want dit is nie hoe vroue optree nie. Hulle het n woordeskat waarmee hulle effektief kommunikeer, en slaan nie alles reg nie, maar het n natuurlikke instink van koestering wat n gemeenskap heel maak en versterk. Hulle is betroubaar en lojaal wat maak dat hulle nie net opdaag vir vergaderings nie, maar ook betyds is EN sinvolle verskil maak. Waar is jy? Wat is jy? Waarmee hou jy jou besig? Hoekom skaam jy jou nie? Wie dink jy is jy Lenkopane? Hoe wil jy deel wees van n vroue liga?!

Theresa B ·

Julle sit in poste en kan nie julle pligte uitvoer nie want julle is onbevoeg. Die munisipaliteite is almal in hulle kanon in en die belastingbetalers betaal ons asse af- vir niks en alles gaan ten gronde. Vir julle gaan dit net oor die groot salaris wat nou in gedrang is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.