Geskorste konstabel vas wat glo vrou, kind wil vermoor

(Argieffoto)

ʼn Konstabel van Thohoyandou, Limpopo, is Sondag in hegtenis geneem nadat hy glo sy vrou en dogter lewend aan die brand wou steek.

Die konstabel is reeds ʼn week gelede uit die polisie geskors nadat hy aangekeer is vir die beweerde aanranding van sy vrou. Hy was tydens die jongste voorval op borgtog.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het die 35-jarige konstabel Sondag vroegoggend na sy vervreemde vrou (30) se huis gegaan en aan die venster van die kamer waar die vrou en dogter slaap, geklop.

“Hy [die konstabel] het gesê dat hy vir sy kind iets gebring het om te drink. Die vrou het die venster oopgemaak en dit gevat,” sê Mojapelo.

Die konstabel is weg, maar het kort daarna teruggekom, toegang tot die slaapkamer verkry en brandstof oor sy vrou en dogter uitgegooi.

“Voordat hy die petrol aan die brand kon steek, het die vrou die aansteker gegryp.”

Sy het daarna na die polisie gehardloop om hulp te soek terwyl die man tot bedaring gekom het.

Beamptes is saam met haar terug na die huis, waar die man in hegtenis geneem is.

Die konstabel sal na verwagting Maandag in die landdroshof op Thohoyandou verskyn op aanklag van poging tot moord en huisbraak.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die voorval ten sterkste veroordeel en sê dit is nie net ʼn verleentheid dat ʼn polisiebeampte hom na bewering aan geslagsgeweld skuldig maak nie, maar dit ondermyn ook die polisie se pogings om geslagsgeweld hok te slaan.

“Ons ondersoekbeampte sal probeer verseker dat hy sy borgtog weens die jongste voorval verbeur,” sê Hadebe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Althes ·

As jy dit aan jou eie vrou en kind kan doen, hoe veilig moet die publiek in jou hande wees?

Watsenaam ·

Wat ‘n edele dienaar van die gereg, your honorable.
Wee Ons.

Stofdonkie ·

Die die ouens wat met polisie-wapens rondloop. Was die ou ooit opgelei en is daar enige sielkundige toetsing gedoen voor hy opgeneem is in die polisie?

Danie ·

Dit lyk my die polisie sit met mense wat nie so op standaard is bo nie.Wonder hoe doen hulle toetse en onderhoude of het hy sy aanstelling ook gekoop.???

Anel ·

Nou winder ek hoe het hy die psigometriese en integriteitstoetse deurgekom??????

Wynand ·

Maak van hom n voorbeeld stuur hom tronk toe vir twintig jaar sonder parool

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.