Geskorste Phiyega kap polisieminister

Riah Phiyega. Foto: Flick/GovernmentZA/GCIS

Riah Phiyega. Foto: Flick/GovernmentZA/GCIS

Riah Phiyega, geskorste polisiehoof, het ʼn striemende aanval op Nathi Nhleko, minister van polisie, gedoen.

Phiyega het Nhleko daarvan beskuldig dat hy haar probeer dwing het om te bedank voordat sy haarself kon verdedig. “Ek neem met kommer kennis van die veldtog wat gevoer word deur die nuut aangestelde leier van die SAPD met die steun en seën van die departement van polisie,” het Phiyega in ʼn verklaring gesê.

Phiyega, wat in Oktober deur pres. Jacob Zuma geskors is hangende ʼn kommissie van ondersoek na haar bevoegdheid, het gesê daar is ʼn “duidelike patroon” van ʼn heksejag en openbare teistering “wat aan die lig kom ná onthullings van verdere moontlike ondersoeke na my optrede as nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens”.

Phiyega het gesê behalwe vir die kommissie van ondersoek wat deur Zuma van stapel gestuur is, is daar ook die moontlike ondersoek deur die portefeuljekomitee oor polisie na “onakkuraathede” in die jaarlikse misdaadstatistieke soos geïmpliseer deur lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende polisiehoof.

“Ek vind dit baie jammer dat, in die haas om my naam te beswadder, die gesag en integriteit van ander liggame wat betrokke is in die proses in twyfel getrek word,” het Phiyega gesê. “Lt.genl. Phahlane se oningeligte en roekelose uitsprake trek ongelukkig die objektiwiteit, vermoë en betroubaarheid van bevoegde instansies in twyfel.”

Phiyega het egter gesê sy is steeds bemoedig oor die proses wat deur die kommissie van ondersoek gevolg word. “Dit is ʼn proses waarvoor ek voorbereiding doen en wat ek hoop my sal bystaan ten einde my naam in ere te herstel, en die land met die antwoorde sal help waarna hulle bly soek na aanleiding van die tragiese gebeure in Marikana.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Akram ·

Die laaste Kommissaris van die polisie wat deur die range gegaan het was Kom Fivaz. daarna is persone aangestel as kommissarisse wat nie die agtergrond van polisie dienlewering het nie. hulle was nie in die SAP of SAPD gewees nie. ek glo dat n persoon dalk meer voeling kan he as jy in die betrokke instansie was en ondervinding opgedoen het. n polisieman op die grond weet wat aangaan. weet hoe om n situasie te verstaan. n persoon wat in n kantoor sit en vandaar wil bestuur werk nie. die kwalifikasies kan dalk tot n voordeel wees, maar die praktiese ondervinding is iets wat tel. ek glo ook dat dit sal dalk makliker wees om met n persoon n onderhoud te voer wat weet wat jy bedoel. daar is seker dinge in die mag wat net n polisie beampte kan verstaan . ek glo dat daar baie bekwame persone in die SAPD is wat n Kommissaris kan wees. gebruik hulle. die buite aanstellings het mos nou gewys dat dit nie altyd werk nie.

Piet Pompies ·

Mev, jy is nou uitgevang, hoekom dan nou eers vorendag kom met inligting van onwaarhede oor statestieke wat gedurende jou tydperk vrygestel is. Jy kan nie nou ander beskuldig, jy was in beheer en hoekom is daar dan daardie tyd nie die nodige stappe geneem. Aag nee wat, gaan gooi klippe in die dam.

Magda ·

Kommissaris Ria Phieyga se enigste problem is die feit dat sy staan vir haar beginsels. Die hele ding is n politieke speelbal- Die ANC WEET sy het gedoen wat binne haar mag en die SAPD se perke was tydens die Marikana gemors. Sy is die enigste een wat besluit het om wetlik en regmatig op te tree teen barbare wat haar polisie lede se lewens met vuurwapens bedreig het.
Dit het niks te doen met die feit dat sy nou eers vorendag kom nie-niemand wou haar vooheen n kans gee om haar saak te stel nie,nie eers die Falim kommissie nie. So GO Kommissaris GO!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.