Geskorste Valke-hoof ontken bedrogbewerings

Johan Booysen

Johan Booysen

Genl.maj. Johan Booysen, geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, sal tot Oktober moet wag voordat ʼn datum in die hooggeregshof in Durban vasgestel kan word vir sy hofaansoek teen sy skorsing.

Booysen sou al verlede week sy skorsing betwis het, maar die regspan van die Valke het aangedui hulle sal sy aansoek teenstaan. Die twee partye het Maandag ooreengekom dat hulle op 7 Oktober met regterpresident Achmed Jappie sal vergader om te besluit op ʼn datum wanneer die aansoek aangehoor sal word. Teen daardie tyd sal al die nodige verklarings en stawende dokumente by die hooggeregshof ingedien wees.

Maroela Media het vroeër berig Booysen is vir ʼn tweede keer geskors weens bewerings van bedrog van R15 000 – ʼn bewering wat hy ten sterkste ontken.

Dit het egter aan die lig gekom dat dit al die derde keer is wat Booysen geskors is, nadat hy in Maart 2012 deur voormalige Valke-baas, Anwa Dramat, geskors is en weer in September verlede jaar ná bewerings van rampokkery. Hy het egter teruggekeer werk toe nadat regter Trevor Gorven bevind het Nomgcobo Jiba, nasionale direkteur van openbare vervolging, se besluit om Booysen aan te kla was “arbitrêr en ongrondwetlik”.

ʼn Interne dissiplinêre verhoor het Booysen onskuldig bevind. Die hoof van die dissiplinêre komitee, advokaat Nazeer Cassim, het destyds gesê daar is ’n agenda teen Booysen omdat hy “gesien word as ’n vasberade, professionele, bekwame en taai polisieman”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Loeis ·

Booysen is nie daaraan skuldig bevind nie, Darty, dis bewerings, op hierdie stadium.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.