Geskutte taxi’s nie afgehaal nie

 Ismail Vadi, LUR vir paaie en vervoer in Gauteng ondersoek een van die geskutte taxis in Koedoespoort, Pretoria. Meer as 50 minibustaxi’s is tydens Operasie Fiela geskut.


Ismail Vadi, LUR vir paaie en vervoer in Gauteng ondersoek een van die geskutte taxis in Koedoespoort, Pretoria. Meer as 50 minibustaxi’s is tydens Operasie Fiela geskut.

Ismail Vadi, LUR vir paaie en vervoer in Gauteng en LUR vir gemeenskapsveiligheid Sizakele Nkosi-Malobane, het Saterdagoggend ure lank tevergeefs by ʼn perseel in Koedoespoort, Pretoria, gestaan en wag vir taxi-operateurs om hul voertuie op te eis.

“Die voertuie word nie bloot vrygestel nie,” het Nkosi-Malobane gesê. “Ons het aan die eienaars gesê indien hulle die voertuie wil opeis, moet hulle bewyse bring dat hulle die boetes betaal het of bewyse dat die hof die boete gekanselleer het. Hulle moet ook hul bedryfspermitte en padwaardigheidsertifikate saambring.”

Sy het gesê die provinsiale owerhede en verteenwoordigers van die taxi’s het Vrydag tydens ʼn vergadering ooreengekom dat hulle Saterdagoggend mekaar in Koedoespoort sal ontmoet. “Ons was 09:00 hier, vol verwagting dat die eienaars hul voertuie sal kom opeis. Maar niemand het opgedaag nie. Daar is dalk redes waarom hulle nie hier is nie. Ons sal Maandag terugkom en die situasie monitor,” het Nkosi-Malobane bygevoeg.

Sy het gesê al die taxi’s sal nagegaan word vir padwaardigheid voordat hulle die skut verlaat.

Nagenoeg 30 taxi’s wat die Mamelodi-gebied bedien, was Saterdag nog steeds by die skut. Polisiebeamptes is buite die perseel gestasioneer.

Die Mamelodi Long and Local-taxivereniging het Donderdag gewaarsku dat taxidienste dwarsoor Gauteng opgeskort sal word indien die taxi’s nie dringend vrygestel word nie.

Daar was vroeër vandeesweek gewelddadige betogings in Mamelodi toe die operateurs Autopax-busdiens in die omgewing wou verhoed.

Die regering het reageer deur die omstrede Operasie Fiela te implementeer en padblokkades en soektogte is uitgevoer. Talle minibustaxi’s is tydens die operasie geskut.

Vadi het gesê dit is ononderhandelbaar dat taxi’s aan wetgewing moet voldoen. “Ons het Vrydag tydens die vergadering ʼn proses bepaal waarvolgens die taxi’s vrygestel sal word. Waar persone die Padverkeerswet oortree het, moet die boetes betaal word en die voertuie sal vrygestel word nadat die normale prosedures gevolg is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

CHRISTA ·

As hulle nie die taxis kom afhaal nie, verkoop dit en stort die opbrengs in die padongelukfonds (hulle is mos verantwoordelik vir ‘n GROOT deel van ons padongelukke)!!

Dave ·

Maw, as die taxis nie toegelaat word om onpadwaardig op openbare paaie te wees selfs sonder dat verkeersboetes betaal is, sal hulle staak. Terloops, taxi-stakings geniet ek wat ek woon in ‘n straat wat ‘n taxiroete is en hulle blaas toeter vir elke boom, robot en padteken.

JZ ·

Wette is nie vir die mense nie,dit is n kultuur om die wet te oortree en wil dan met dreigemente kom, of bande brand,of busse brand.

Johannes Meintjes ·

Helfte van daardie voertuie is waarskynlik onpadwaardig, – maar na jare in Afrika op grondvlak besef ek dat as taxis en vragmotors nie (voor my in) loop nie, staan die ekonomie stil. Self is ek egter bly dat die wet nou in SA meer gelyk toegepas word. Dit is altyd vir my uitermate frustrerend as ek en my 1999 Hilux sendingbakkie (in genade goed onderhou) langs die pad of by grensposte afgtrek word, terwyl die “skorro-skorros’, hoog gelaai, volgepak en erg stukkend, – kreunend en dreunend verby tjommel. Lank lewe die Wet in SA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.