‘n Man wat verlede week by sy huis in Bloemfontein in hegtenis geneem is nadat vroue se geslagsdele in sy vrieskas gevind is, bly in aanhouding.
Die 58-jarige man, oorspronklik van Denemarke, het Maandag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
“Altesaam 21 vroue se geslagsdele is in sy vrieskas gevind,” het Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, in ʼn verklaring gesê.
Maroela Media het vroeër berig die polisie het ook beslag gelê op verdoofmiddels en chirurgiese toerusting by die huis in Langenhovenpark in Bloemfontein.
“Die man het na bewering sy slagoffers eers verdoof voordat hy onwettige operasies op hulle uitgevoer het,” het Mulaudzi bygevoeg. “Meeste van sy slagoffers was glo van Lesotho afkomstig en die polisie probeer bepaal hoe hy sy slagoffers na die land gelok het.” Die motief is ook nog onbekend.
Die man, wat twee vuurwapenwinkels in Bloemfontein besit, word glo in Denemarke gesoek vir onwettige wapenhandel.
Hy moet op 28 September weer in die hof verskyn waar hy formeel sal aansoek doen om borgtog.
Hy staan tereg op aanklag van seksuele aanranding, intimidasie, huishoudelike geweld, en oortreding van die Wet op Medisyne.
Niks hiervan maak sin nie.