Geslagsdele in vrieskas: Deen doen nie aansoek om borgtog

Peter Frederiksen Maandag in die hof. Foto: ANA

Peter Frederiksen Maandag in die hof. Foto: ANA

Die Deense man wat in hegtenis geneem is nadat die polisie vroue se geslagsdele in sy vrieskas gevind het, het Maandag in die Bloemfontein-landdroshof besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie.

Dit kom nadat die departement van binnelandse sake aansoek gedoen het om Peter Frederiksen (63) se Suid-Afrikaanse burgerskap terug te trek nadat dit aan die lig gekom het dat aanklagte teen hom hangend is in Denemarke en Lesotho. Frederiksen is ses maande tronkstraf in Denemarke opgelê vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, terwyl hy terselfdertyd op borgtog uit was op ʼn aanklag van aanranding in Lesotho.

“Onder hierdie omstandighede maak dit nie sin om vir borgtog aansoek te doen nie,” het Adriaan Janse van Rensburg, Frederiksen se regsverteenwoordiger gesê.

Frederiksen is by sy huis in Langenhovenpark in hegtenis geneem, nadat sy vrou ʼn wenk aan die polisie gegee het. Behalwe vir die vroulike geslagsdele wat in sy vrieskas gevind is, is daar ook beslag gelê op ʼn verskeidenheid toerusting, waaronder tange, skalpels en verdoofmiddels, asook foto’s van vroue se geslagsdele.

Janse van Rensburg het Maandag in die hof onthul dat twee vroue sedertdien by Frederiksen se vuurwapenwinkel in Bloemfontein opgedaag en beweer het dat hulle vrywilliglik besnydenisprosedures ondergaan het as deel van kulturele oortuigings. Ondersoekbeamptes het dit bevestig, maar gesê die vroue moet nog vir mediese ondersoeke gaan om hul bewerings te bevestig.

Verteenwoordigers van die ANC Vroueliga het Maandagoggend beledigings vanuit die hofbanke na Frederiksen geslinger. “Hoe kon jy sulke goed doen?” en “Geen borgtog vir die slagter!” het hulle geskree. Frederiksen het probeer om sy gesig met ʼn plastieksak te verberg toe fotograwe begin foto’s neem.

Die polisie glo dat Frederiksen al sedert 2010 operasies op vroue uitvoer. Die meeste van sy slagoffers is vermoedelik van Lesotho afkomstig. Een van hulle is glo net sewe of agt jaar oud.

Sy vrou, ook ʼn Lesotho-burger, is glo een van sy slagoffers. Sy het sedert sy inhegtenisname na Lesotho teruggekeer en hul twee kinders, onderskeidelik twee en vyf jaar oud, agtergelaat. Hulle is nou in die sorg van die departement van maatskaplike ontwikkeling.

Die staat het Maandagoggend die aanklagte teen Frederiksen aangepas. Hy word nou aangekla van drie aanklagte van aanranding met die doel om ernstige te beseer, met ʼn alternatiewe aanklag van seksuele aanranding in elke saak. Hy word ook aangekla van die besit en maak van kinderpornografie, asook die verwydering van menslike weefsel in oortreding van die wet op gesondheid.

Die saak is uitgestel tot 7 Desember en Frederiksen sal tot dan in aanhouding bly.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eliza-beth ·

Party slagoffers is maar 7 of 8 – hoe die duiwel sou sulke klein kinders wat niks weet VRYWILLIG so iets laat doen? Hy is SIEK – net die feit dat hy die goed in sy vrieskas gehou het bewys mos hy het dit nie gedoen om te “help” nie, maar om sy eie siek genot te bevredig. Slagter? Beslis!

Charlene ·

Dis siek!! Ek hoop hy gaan vir ‘n lang tyd agter tralies sit.Hoe kan die ma die kinders net so los en pad vat??

Poppie ·

En nou word die arme kindertjies alleen agtergelaat terwyl “MA” die pad vat. Dit is ook nie reg nie. Mos nie die kinders se skuld nie. Sy kon ten minste die kinders saam haar geneem het.

Margot ·

Wat ek nie kan verstaan is dat ons land so iemand wat ‘n rekord het en gesoek word in ander lande, toegelaat word??? …… NOU wil die departement van binneland se sake wakker skrik!!! As julle in die eerste plek julle werk gedoen kom AL die voorkom geword het!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.