Geslagsdele in vrieskas: Deen skuldig op talle aanklagte

Peter Frederiksen in die hof. Foto: ANA

Die Deense wapenhandelaar wat in Bloemfontein in hegtenis geneem is nadat die polisie vroue se geslagsdele in sy vrieskas gevind het, is Maandag in die Vrystaatse hooggeregshof op verskeie aanklagte skuldig bevind.

Peter Frederiksen is in September 2015 by sy huis in Langenhovenpark in hegtenis geneem nadat sy vrou ʼn wenk aan die polisie gegee het. Afgesien van die vrouegeslagsdele in sy vrieskas, is ook beslag gelê op ʼn verskeidenheid toerusting, waaronder tange, skalpels en verdoofmiddels, asook foto’s van vroue se geslagsdele.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die provinsiale Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Frederiksen (65) is skuldig bevind op 36 aanklagte, waaronder verkragting, bedrog, oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer en die oordrag en besit van ongeregistreerde medisyne nadat narkosemiddels, wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie, in sy besit gevind is.

Frederiksen is ook skuldig bevind op talle aanklagte van die vervaardiging, verspreiding en besit van kinderpornografie. Hy is skuldig bevind aan sameswering om moord te pleeg nadat hy en Motlatsi Moqeti en ander saamgesweer het om sy vrou, Matshediso Molise, in Lesotho te vermoor. Sy is in Oktober 2015 vermoor.

Frederiksen in sy wapenwinkel. (Foto verskaf deur die Valke)

Frederiksen en Moqeti het ooreengekom dat Moqeti die moord op Molise sal reël vir R120 000. Moqeti, wat ʼn staatsgetuie geword het, was in dié stadium in aanhouding. Hy het in die hof erken dat hy ʼn sleutelrol gespeel het in die moord op Molise.

Frederiksen is ook skuldig bevind aan bedrog en verlies van vuurwapens nadat hy nie bekend gemaak het dat hy ʼn relevante vorige skuldigbevinding in Denemarke gehad het nie, asook dat daar beslag gelê is op die vuurwapens in sy besit toe hy aansoek gedoen het om bevoegdheidsertifikate ingevolge die Wet op Vuurwapenbeheer.

Die polisie het in Mei 2016 op Frederiksen se wapenwinkel in Bloemfontein toegeslaan en hy kon nie rekenskap gee van 949 vuurwapens nie. Die verlies van die vuurwapens is nie by die polisie aangemeld nie. Daar is ook talle vuurwapens in die winkel gevind, maar daar was nie dokumente of lisensies daarvoor nie.

Frederiksen het op 58 aanklagte tereggestaan aan die begin van sy verhoor, maar regter Johann Daffue het 20 van die aanklagte wat verband hou met die besnydenis van vroue teruggetrek aangesien die Nasionale Gesondheidswet geen bepaalde straf daarvoor aandui nie. Hy is op twee aanklagte van verkragting vrygespreek.

Die saak het Dinsdag voortgegaan met argumente ter verswaring en ter versagting van straf.

Lees alle vorige berigte oor Peter Frederiksen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Juffie ·

So hierdie ou – ‘n uitlander……moet SA se belasting betalers vir sy hofsaak en verblyf in tronk betaal?

Jay ·

Hierdie man het ‘n huis besit in bloemfontein dus het hy in SA gebly. As dit kan bewys word dat die moorde in SA plaasgevind het dan ja sal die hof in in SA besluit en hy sal hier tronk toe gaan. Dis nie asof dit ‘n nuwe ding is nie jy sien gereeld as mense moorde ens in ander lande pleeg hulle eie land hulle terug stuur na daardie land toe om hof toe te gaan jy kan nie ‘n moord pleeg in Amerika as ‘n Suid Afrikaner en dan terug kom Suid Afrika toe en die hof hier hoor oor daai moord nie nee dit sal in die VSA gebeur. Dit werk oral so hut tien teen een belasting hier betaal as hy ‘n huis hier besit so weet nie waaroor jy wil kla nie. Wees eerder dankbaar die man is gevang en word gevonnis.

Andrea ·

Al die misdadigers weet in Suid-Afrika kom hul niks oor nie – gangsters’ paradise. Nie net moet ons ons inheemse moordenaars trotseer nie; ons is nou uitgelewer aan die wêreld se siek kriminele ook!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.