Geslagsgeweld bly uitdaging vir SA – Ramaphosa

(Argieffoto: Pixabay)

“Die probleem van geslagsgebaseerde geweld lê by mans. Om die probleem te pak, moet mans hul houdings en gedrag begin verander,” het pres. Cyril Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief geskryf.

Ramaphosa bestempel geweld teen vroue as een van Suid-Afrika se grootste uitdagings wat betref geslagsgelykheid.

“Die beëindiging van alle vorme van geweld teen vroue en kinders is noodsaaklik vir ons nasionale vooruitgang.”

Geslagsgeweld word wêreldwyd as ’n pandemie beskou en Suid-Afrika is een van die topvyf lande in die wêreld wat geweld en moord op vroue betref. Die onlangse beweerde bendeverkragting van verskeie vroue aan die Wes-Rand het ook opnuut groot woede oor geweld teen vroue veroorsaak.

Ondanks die probleem van geslagsgebaseerde geweld, moet die vordering wat reeds met die bevordering van geslagsgelykheid in die Suid-Afrikaanse samelewing gemaak is, nie vergeet word nie, sê Ramaphosa.

“Terwyl ons werk om geslagsgelykheid op alle gebiede te bereik, moet ons toegee dat ons reeds ’n lang pad gevorder het. Die vroue van vandag geniet fundamentele regte en vryhede wat hul oumas en oumagrootjies ontsê is.

“Die staat het hard gewerk om alle wetgewing wat teen vroue diskrimineer, te herroep. Oor die jare het ons howe beslis teen beleide en praktyke wat onregverdig teen vroue diskrimineer op grond van moederskap, seksuele oriëntasie of ander faktore.

“Vroue kan vandag enige beroep beoefen, studeer by ’n instelling en in ʼn rigting van hul keuse en hul eie ondernemings bestuur. Danksy wetgewing oor billike indiensneming en ander beleide, groei vroue se verteenwoordiging in die werkplek, in die regering en die hele samelewing steeds.”

Volgens Ramaphosa is daar verskeie gebiede waar die verteenwoordiging van vroue aan’t toeneem is.

“In die parlement is 46% van die lede van die Nasionale Vergadering vroue. Tans is 62% van die hele staatsdiens vroulik en 44% van senior bestuursposte word deur vroue beklee. Die eerste vrou is ook as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag aangestel.”

Die eerste vrou as adjunk- nasionale kommissaris van die polisie is verlede week aangewys en verlede maand het regter Mandisa Maya die eerste vrou geword om in Suid-Afrika die leisels as adjunkhoofregter oor te neem.

“Van die 256 regters op die regbank is 114 vroue en byna die helfte van alle landdroste is vroue.

Nog ʼn gebied waar vooruitgang gemaak word, is die reg op reproduktiewe gesondheidsorg wat in die Grondwet verskans is, sê Ramaphosa.

“Anders as ʼn aantal ander lande, het Suid-Afrikaanse vroue toegang tot voorbehoedmiddels en die veilige beëindiging van swangerskap in die openbare gesondheidstelsel.”

Verder dui Ramaphosa daarop dat daar ook nou wette is wat vroue teen teistering in die werkplek beskerm en wat moderne vorme van viktimisering van vroue pak.

“Vroue in tradisionele gemeenskappe het die reg om grond te besit, kontrakte aan te gaan en om te erf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Daniel ·

Sal graag wil weet wat Ramaposa bedoel met moving forward elke keer as hy iets tese het want als bewees agteruit

Groen-oog ·

Party kinders weet nie verskil tussen Op en Af … Bo en Onder… Links en Regs nie. Dalk is die Vorentoe eintlik as Agtertoe bedoel. Dit in ag geneem met sy nuutste uitlating van die 19 jarige was “gelukkig” om nnnet 1 keer verkrag te word. Verkrag deur 1 of 10 dit bly dieselfde . N vernedering ens wat gepaard gaan met so voorval.

Kokerboom ·

Ek het GEEN probleem met geslagsgelykheid inteendeel dit behoort nie eers ‘n kwessie te wees. Die ANC is obsessief daaroor. Geslagsgeweld is egter ‘n ander dringende kwessie maar weereens bly ANC by praat oor ‘n probleem wat grootliks hul toedoen is!!!

Heinrich ·

Jislaaik, daai inskrywing in die nuusbrief is gewaarborg om die probleem aan te spreek. YA RIGHT!!!

Jaco ·

As ‘n swart leerder aan ‘n wit leerder torring en die wit leerder reageer dan met lelike woorde, dan word die helfte van die polisiemag na die skool toe gestuur en volg die verskriklikste, verdoemendste uitsprake asof dit ‘n nasionale ramp is. Maar gaan kla by dieselfde polisie en ANC-regering oor geslagsgebaseerde geweld, dan is daar verskonings oor “ons het nie ‘n voertuig beskikbaar nie” of “ons werk net kantoorure” of “kom lê môre jou klag”.

Di ·

PRESIES! Kyk maar net daai 2 polisiemanne wat nog die vrou verkrag het oppad polisiestasie toe!

Eclectus ·

“Om uitsprake te maak teen geslagsgeweld het geword soos die tafelgebed in baie huise. Die rympie het sy betekenis verloor, maar jy durf nie nalaat om dit te doen nie. Kyk maar na die president. Of hy nou praat oor beurtkrag of Covid, elke toespraak eindig getrou op dieselfde geslagsgeweld-noot.”

– Rapport, 08.08.22

JohanR ·

Kry veel meer en beter polisie en skop Bheki Cele uit en kry iemand wat bevoeg is en nie ‘n nar hoed dra nie! En ou Ramaphosa jy praat praat praat en praat maar net al die tyd!

Nie Verbaas ·

En Ramaphosa blah blah voort terwyl polisie dossiere daagliks “verdwyn” en sake nie behoorlik ondersoek word nie en dan uitgegooi word in die hof. En Cele slaap voort terwyl alles wat met wet en order te doen het weg kwyn soos mis voor die son.

Di ·

DOEN IETS aan dit! Al wat die korrupte ANC goed kan doen is PRAAT en LEE beloftes, verder NIKS. Ons hoor hierdie selfde deuntjie al van lockdown af en wat het verander? NIKS, inteendeel, dit nou ERGER.

Janine ·

“Terwyl ons werk om geslagsgelykheid op alle gebiede te bereik, moet ons toegee dat ons reeds ’n lang pad gevorder het. Die vroue van vandag geniet fundamentele regte en vryhede wat hul oumas en oumagrootjies ontsê is.” Is dit ‘n grap????

annie ·

Opvoeding dmv van gesprekke en ‘n voorbeeld stel en voorligting by skole is die beginpunt. Om op grootmense te skree van agter ‘n kamera en mikrofoon is doelloos. Die skuldiges voel vere. Vroue wat meerwaardig die broek by die huis dra voor werklose moedelose mans of andersins uitlokkend en halfnaak orals loop en doen, soek moeilikheid. Die onlangse mynhoop-sage laat die vraag oor hoe die tonele daar uitgesien het. Min inligting is glo beskikbaar. Kyk na bestaande musiekvideo’ selfs dié met ‘n kamma-godsdienstige strekking… Wild!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.