Geslagsgeweld kos SA miljarde, maar tol veel hoër as geld

(Argieffoto)

Geslagsgeweld het Suid-Afrika in 2019 meer as R36 miljard gekos en die aanname dat dit slegs ʼn maatskaplike kwessie is, is lankal nie meer aanvaarbaar of waar nie. Hoewel ʼn geraamde syfer op die koste van geslagsgeweld geplaas word, is daar onderliggende koste wat onmoontlik is om te bepaal terwyl die uitwerking daarvan verreikend is.

Navorsing gelei deur prof. Corné Davis, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, en Tiekie Barnard, uitvoerende hoof van die Shared Value Africa Initiative en stigter van die #ITSNOTOK-beweging wat hom beywer vir bewusmaking van enige vorm van geslagsgeweld, wys dat geweld teen vroue nie net ʼn geweldige maatskaplike tol eis nie, maar ook ʼn groot finansiële een.

Volgens die navorsers het die regskoste wat uit voorvalle van geslagsgeweld spruit in 2019 altesame R104 miljard beloop. Slagoffers het sowat R10 miljard opgedok aan mediese uitgawes, terwyl sogenaamde menslike kapitaalverlies weens voorvalle van geslagsgeweld in dieselfde jaar sowat R26 miljard beloop het.

“Ons kan dus konserwatief beraam dat Suid-Afrika net in 2019 meer as R36 miljard weens geslagsgeweld verloor het,” lui die navorsing.

Die studie volg op ʼn vroeëre verslag van KPMG, Too Costly to Ignore – The Economic Impact of Gender-based Violence in South Africa, waarin die ekonomiese uitwerking van geweld teen vroue en die uitwerking daarvan op hul kinders uitgestippel is. In hierdie verslag het navorsers bevind geslagsgeweld kos Suid-Afrika tussen R28,4 miljard en R42,4 miljard per jaar, oftewel tussen 0,9% en 1,3% van die jaarlikse BBP.

In die jongste studie het navorsers bewustheid, kennis, menings oor en die uitwerking van geslagsgeweld en die voorkoming daarvan in die private sektor probeer bepaal. Navorsers het bevind benewens die regskoste en mediese uitgawes is daar ook wat hulle noem “skade aan of verlies wat veroorsaak word aan mense of samelewings”. Dit sluit in materiële verliese, maatskaplike koste en sielkundige skade, of dan sogenaamde “menslike kapitaalverlies”.

Die navorsers kon egter nie toegang verkry tot mediese rekords, versekeringsdokumente, polisieverslae of hofrekords nie en kon dus nie die werklike uitgawes bereken nie. Maar, waarsku hulle: “Die benaderde skatting kan veel laer as die werklikheid wees.”

Ekonomie bloei miljoene, maar te min vir skuilings

Terwyl geslagsgeweld die land miljarde rande kos, beloop dit nog miljoene om skuilings te bedryf waar slagoffers ná ʼn voorval van geweld ʼn veilige hawe kan vind.

Vir diegene wat geslagsgeweld en veral geweld deur ʼn intieme maat oorleef, bied dié skuilings ʼn veilige ruimte met hulpbronne en dienste wat vroue bemagtig om gewelddadige verhoudings te beëindig en hul lewe te herbou, sê Leandri Minnie. Minnie het as deel van haar meestersgraad ʼn vergelykende studie gedoen tussen hulpbronne by staatsgefinansierde skuilings en dié by private skuilings.

Die National Shelter Movement of South Africa (NSM) het ook al gewaarsku dat daar nie genoeg skuilings vir slagoffers van geslagsgeweld is nie en dat dié wat wel daar is, onderbefonds is en nie genoeg ondersteuning kry nie. Die NSM is ʼn sambreelliggaam wat meer as 100 skuilings verteenwoordig.

“Dit is veral kommerwekkend wanneer jy in ag neem dat geweld teen vroue en kinders een van die menseregtemisbruike is wat die meeste in Suid-Afrika voorkom. Tog word daar nie genoeg klem gelê op steun vir hierdie skuilings waarheen oorlewendes ontsnap nie.”

Minnie sê die staat verskaf net 39% van ʼn openbare skuiling se begroting en die skuiling moet self die res bymekaarmaak – uit die private sektor – terwyl private skuilings vir elke sent op skenkers en geldinsameling – ook uit die private sektor – aangewese is.

“Dikwels is al opsie vir ʼn vrou om alles agter te laat en in ʼn skuiling te gaan bly. Jy word geslaan en dan word daar ook vir jou gesê die enigste manier om te oorleef, is om te vlug vir jou lewe. Sy is die slagoffer, maar sy moet haar kinders vat en uit haar gemeenskap vlug terwyl haar man aangaan met sy lewe,” sê Minnie.

Terwyl die staat net ʼn gedeelte van finansiering (by staatskuilings) bydra, word talle voorskrifte egter hieraan gekoppel. Dit sluit in vaste riglyne oor die lengte van verblyf van vroue en hoeveel van hulle die skuiling jaarliks moet verlaat om in aanmerking vir staatsfinansiering te bly.

“Vroue word gewoonlik toegelaat om vir drie of vier maande te bly, tensy die maatskaplike werker redes vir ʼn uitsondering van hierdie reël kan aanvoer. Omdat hulle nie lank bly nie, verlaat talle vroue die skuiling sonder ʼn lewenstrategie wat hulle potensieel sou kon help om hul lewe te verbeter en verhinder dat hulle weer slagoffers word,” sê Minnie.

Sy sê die direksie van die privaat gefinansierde skuiling het meer buigsame riglyne ingestel wat vroue toelaat om langer te bly. “Vroue bly gewoonlik by dié skuiling totdat hulle geskikte huisvesting en standvastige werk vind. Dit kan van drie tot ses maande wees.

“Vroue by die skuiling word ook finansieel ondersteun om ʼn deposito op ʼn woonstel of huis te betaal wat hulle wil huur.”

Minnie sê skuilings verskaf huisvesting, kos, toilet- en higiëneprodukte, asook berading, ouerskapsleiding, vaardigheidsontwikkeling, indiensneming en regs- en mediese dienste.

Dit alles kos geld.

Haar navorsing het gewys dat die skuilings ondanks beperkte hulpbronne broodnodige en doeltreffende dienste aan slagoffers lewer.

Sy beveel onder meer aan dat ingrypingstrategieë meer verpersoonlik moet word sodat daar aan die individuele behoeftes van vroue voldoen kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.