Geslagsgeweld: ‘Met elke tree sê ek nee’

Leilani Kuter is ook vanjaar ‘n ambassadeur vir die immergewilde Spar Vrouewedloop, en sy nooi jou om saam te kom stap. (Foto: Verskaf deur Spar.)

Leilani Kuter sê sy stap in September teen verkragting en geslagsgebaseerde geweld – nie omdat ʼn staptog noodwendig dié soort geweld sal verminder nie – maar eerder om slagoffers ʼn stem te gee sodat hulle hulself kan losmaak van die hartseer wat dit meebring.

Kuter wat vanjaar ook ambassadeur van Suid-Afrika se mooiste wedloop, die Spar Vroue-wedloop is, sê stap is ʼn kragtige stuk gereedskap wat sy gebruik het om haarself te help genees.

“ʼn Staptog kan ’n geestelike ervaring wees, dit gee ʼn kans om deel van die natuur te word en jy voel weer lewendig. ʼn Padwedloop soos wat Spar aanbied is iets wonderlik om van deel te wees, veral omdat vanjaar se tema Be Sunshine is en ook geslagsgebaseerde geweld beveg.”

In September 2019 het sy, wat self ʼn verkragting oorleef het, ʼn staptog van 27 dae oor 729 km gestap om standpunt teen geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika in te neem.

Met ʼn geel T-hemp, dieselfde kleur as wat haar verkragter destyds gedra het, het Kuter (46) van Roodepoort alles in die stryd gewerp om die stigma rondom verkragting te verbreek. Sy het so meer as R250 000 op BackaBuddy se skarebefondsingplatform ingesamel om slagoffers te ondersteun met troospakkies.

Hierdie jaar, op die 28ste herdenking van die traumatiese gebeure, waar sy vir dood agtergelaat is, sal sy weer haar veters vastrek en die kollig op die oorlewing van die soort geweld laat val.

Leilani se eie verhaal

Kuter is op die ouderdom van 18 op 16 September 1992 in ʼn jeugsentrum in Vermeulenstraat, Pretoria verkrag en verwurg tot sy haar bewussyn verloor het.

Sy het aan Maroela Media gesê sy onthou goed die koue, onpersoonlike prosedure wat ná ʼn verkragting volg. Toe die polisie uiteindelik opdaag, het hulle tersaaklik verduidelik dit is die sesde verkragtingsaak wat binne een week in die omgewing aangemeld is.

“Die polisie was nonchalant oor die verkragting. Hulle het met my gepraat, so asof hulle wou weet hoe ek my eiers verkies. Terwyl jy eintlik net in ʼn bondeltjie wil opkrul en van die wêreld wegkruip, moet jy indringend deur dokters ondersoek word en polisieverklarings aflê.”

Alhoewel haar verkragter nog nie vasgetrek is nie, is sy nog altyd bewus van die groter prentjie en haar doel.

“God het my gekies om hier te wees. Toe hy my daardie dag so gewurg het… Ek kon dood gewees het. Ek kon regtig dood gewees het. Maar ek moes bly, ek moes hier wees om my storie te vertel.”

Nou, sê sy, het sy genesing gevind. Sy wil haarself ook nie meer as ʼn slagoffer of ʼn oorlewende van ʼn verkragting beskryf nie, maar is ʼn aktivis.

“Dit is hoekom ek stap; ek stap nie meer net vir myself nie, maar vir elke ander oorlewende wat ʼn platform nodig het om hulle seer te verwerk.”

Leilani Kuter in Nelspruit, waar die Hoërskool Bergvlam haar ondersteun het met haar staptog in 2019. (Foto: Verskaf)

ʼn Staproete van nostalgie

Vanjaar van 1 tot 16 September sal Kuter ʼn nostalgiese reis van 16 dae aflê waar sy weer by plekke en oomblikke in haar lewe wil aandoen. Sy bepan om 28 km per dag af te lê en ʼn totaal van 448 km te stap.

“Elke tree wat ek in my 2020-uitdaging gee, sal geneem word in ʼn stryd teen geweld teen vroue, kinders en ook mans. Dit sal ʼn viering van ons elkeen se kollektiewe oorlewingsgees wees. En ek hoop dat die publiek my weer sal ondersteun.”

Haar reis begin waar sy in Pretoria gebore is en op die pad van haar staproete besoek sy haar ou laerskool, hoërskool en die omgewing waar sy haar eerste eiendom gekoop het. Dit eindig uiteindelik in die Wes-Rand waar sy getroud is en haar “nuwe lewe” begin het.

Kuter se staptog fokus weer daarop om geld vir krisissentrums landwyd in te samel. Sy het reeds R151 338 ingesamel en mik om R280 000 bymekaar te maak.

“Stap het ʼn groot deel van my genesingsproses geword. Soos met stap moet jy elke dag die een tree voor die ander sit – hou net aan beweeg – en so plaas jy die seer agter jou.

“Ek het geleer dat ek nie vir my verlede kan weghardloop nie, dit is iets wat jy trompop moet konfronteer om aan te gaan en dit is om hierdie rede dat ek terugstap na die plekke waar ek goeie sowel as slegte herinnering het, in die hoop om ander te inspireer om dieselfde te doen.

(Grafika: Verskaf.)

Spar se Vroue-wedloop

Of die 448 km nie genoeg is nie, nooi Kuter die publiek uit om geel te dra en saam met haar te stap, of self op 26 September in die Spar Vroue-wedloop te stap.

“Ons kan ʼn lewe verander, hoekom nie? Dit kos net R50, en selfs al besluit jy om nie self deel te neem nie, wil ek jou uitdaag om ʼn kaartjie te koop en op dié wyse ʼn pakkie te skenk aan iemand wat geslagsgebaseerde geweld oorleef het.

“Albei hierdie staptogte is virtueel en kan enige tyd, enige dag (of al die dae) gestap word, selfs op jou trapmeul in die huis. Stappers kan hul roete op Facebook plaas en die hutsmerke #yellowforsurvivors en #besunshine gebruik.”

Besoek die BackaBuddy-platform om ʼn donasie aan Kuter se jongste staptog te maak of Yellow For Survivors-webwerf.

Inskrywings vir vanjaar se Spar Vroue-wedloop beloop R50 wat ʼn T-hemp, gesigsokkie (buff) en tydskrif insluit. Jy stap jou eie roete, enige plek landwyd op 26 September tussen 06:00 en 18:00. Vir elke inskrywing skenk Spar ʼn kospakkie aan ʼn oorwinnaar van geslagsgebaseerde geweld. Besoek hul webtuiste hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eltan ·

Ek verstaan die gebaar van bewusmaking ens ens…
Maar die onus lê op die regering om sy burgers te beveilig…en dié het geen wilskrag om dit enigsins te doen nie….vinniger optrede deur polisie, beter hantering van sake deur die staatsaanklaers ens. word benodig om hierdie oortredere vas te trek en dan natuurlik n baie swaarder straf…maar alas…verkragters gaan maar net voort met hul dade want daar is geen afskrik middel vir hulle in die land nie…
En dan blameer ek glad nie die publiek as hulle boendoe geregtigbeid toepas nie…want dit is op die stadium die enigste gereg….vér meer as wat die regering kan sê….

Chris ·

Wanneer ek hoor van gevalle waar vrouens, meisies en babas verkrag word kom daar ‘n ongekende woede in my op. Gaan die mense/aktiviste dit ooit verstaan dat daar absoluut en niks aan die situasie gaan verander nie. Die polisie howe organisasies gaan niks aan die verkragting van vrouens doen nie. Dit is ‘n probleem wat volgens my baie maklik aangespreek kan word. Ongelukkig sal dit egter nooit op die regime en die meelopers se agenda wees nie. Al oplossing vir die lafhartige, gemene oer gedrag is dat die persoon wat die daad pleeg so gestraf word dat hy in sy lewe nooit weer sal kan of wil doen nie. My voorstelle is teenstrydig met die handfes van mense regte en al die ander regte wat die mens aanspraak op maak. Die gestappery en optogte en bewusmakings is ‘n foefie. Die probleem word nie aangespreek nie. Al wat moet gebeur is kry van die mense wat hulle skuldig maak aan verkragting en maak ‘n voorbeeld van hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.