Gesloer met ventilatorprojek veroordeel

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het in ʼn verklaring gesê hy is baie besorg oor voortgesette vertragings en onaktiwiteit oor die veelbesproke nasionale ventilatorprojek.

Die projek, wat as die “breinkind” van Ebrahim Patel, die minister van handel en nywerheid, beskryf is, sou teen die einde van Junie reeds 10 000 ventilators gelewer het om die tekort aan te spreek wat openbare hospitale beleef in die stryd teen Covid-19.

“In Meimaand is die doelwit verhoog tot 15 000 eenhede en die sperdatum is tot einde Julie uitgestel,” het Dean Macpherson, die DA se skaduminister oor handel en nywerheid, gesê. “Minister Patel het in Junie gesê dit sou teen einde Augustus gelewer word. Maar verlede week het ons gehoor dat dit slegs 10 000 eenhede sal wees en dit sal eers teen die einde van September gelewer word.”

Die departement het gesê R11 miljoen is reeds deur die regering se Solidarity Fund spandeer aan die ontwikkeling van die ventilators, maar hy het geen idee hoeveel geld altesaam beskikbaar gemaak is vir die projek nie, selfs al dien minister Patel op die raad van die fonds, het Macpherson bygevoeg.

“Met ʼn afname in die gevalle en sterftes van Covid-19, waarheen sal hierdie ventilators gaan en watter gesondheidsdepartement het dit versoek?”

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het gesê hulle vereis nie die masjiene nie, aangesien die provinsie reeds sy piek bereik het, en dit dus nie meer nodig is nie, het hy bygevoeg. “Nou is die vraag: vir wie presies is die masjiene?”

Macpherson het gesê president Cyril Ramaphosa het aanvanklik gesê die afsonderingsperiode en die verlenging daarvan is sodat sy regering die gesondheidsorgstelsel kon opknap, en dit sou die aanskaffing en vervaardiging van ventilators insluit. “Drie miljoen mense hul poste opgeoffer sodat die president en die minister dit kon doen. Nou weet ons dit is nie gedoen nie en minister Patel het skouspelagtig gefaal in sy ‘breinkind’-projek, terwyl burgers met hul lewens betaal het.”

Die DA het parlementêre vrae ingedien om agter die kap van die byl te kom oor die projek en sal minister Patel aanspreeklik hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Daar is drie moontlikhede: Of die geld het ‘n ontvanklike bankrekening gevind; of die pandemie gaan lank uitgerek word; of die oorlogskamer weet van nog ‘n bedreiging ooreenkomstig die een of ander voorspelling in ‘n ou boek wat ‘n viroloog knus koester. Hoekom is die geagte minister van handel en nywerheid nie voorheen ontmasker nie? Hy ‘bestuur’ ‘n kritiese pos.

Jacobus ·

Nuwe manier van sake doen – “pay now , worry when found out”.

Taylor ·

En was dit nie die WNNR wat hierdie ventilators ontwerp het nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.