‘Gesmokkelde’ kinders teruggestuur na Zimbabwe

Argieffoto

Die hooggeregshof in Pretoria het Maandag beslis dat agt kinders wat deur Suid-Afrikaanse owerhede aangehou is nadat hulle Suid-Afrika onwettig binnegekom het, na Zimbabwe teruggestuur moet word.

Die kinders sal Dinsdag gerepatrieer word.

Regter Bill Prinsloo het die uitspraak gelewer nadat die ouers van die kinders ʼn dringende hofaansoek ingedien het om die departement van maatskaplike ontwikkeling te verhoed om die kinders na Zimbabwe terug te stuur.

Die ouers het die hof genader en versoek dat die kinders, tussen twee en 14 jaar oud, in hul sorg vrygelaat word.

Prinsloo het egter gesê dit is nie gepas vir die kinders om in hierdie stadium in die aansoekers se sorg geplaas te word nie. “My siening is dat die beste belange van die kinders in ag geneem is toe die kwessie van repatriasie tussen Zimbabwe en Suid-Afrika oorweeg is.”

Hy het gesê die staat het alles in sy vermoë gedoen om met die aansoekers oorleg te pleeg, maar het geen samewerking van hulle ontvang nie. Volgens hom is dit daarom moeilik om vas te stel of die aansoekers geskik is om met hul kinders herenig te word.

Prinsloo het gesê die feit dat die ouers toegelaat het dat die minderjariges sonder die nodige reisdokumente en in die geselskap van vreemdelinge reis, terwyl hulle in die nag agter op ʼn vragmotor van Beitbrug na Kaapstad weggesteek was, laat veel te wense oor betreffende die geskiktheid van die aansoekers om eenvoudig net besit van die kinders te neem.

“Daar is geen inligting oor al die betrokkenes, asook die mense wat in Zimbabwe na die kinders omgesien het nie, om nie eens te praat van hoe hulle by Beitbrug gekom en wie na hulle omgesien het op pad daarheen nie,” het Prinsloo gesê.

Die kinders het op 12 November 2017 per vragmotor, sonder enige reisdokumente of iemand wat hulle vergesel, van Zimbabwe gereis om glo by hul ouers in Suid-Afrika aan te sluit vir Kersfees.

Die kinders is sedertdien vir sowat vier maande deur die departement van maatskaplike ontwikkeling in Rustenburg aangehou sonder toegang tot hul ouers.

Volgens die polisie is die kinders die land ingesmokkel – die bestuurder van die vragmotor het aan polisiebeamptes gesê hy is R200 per kind betaal om die kinders na Suid-Afrika te vervoer.

Die bestuurder is ook in hegtenis geneem en het sedertdien in die hof verskyn op aanklagte van mensehandel en die oortreding van die Wet op Immigrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JAWAT ·

Stuur hulle vir MALEMA dat hy hulle ‘n plaas kan gee, hy beweer mos kinders moes van jongs af op plase werk . wel gee nou vir elkeen ‘n plaas.

Lucy ·

Ag gun tog die kinders om hulle ouers te sien. Die ouers was duidelik desperaat.

Hannatjie ·

Aag foeitog, die arme kindertjies wil maar net by hulle ouers wees. Wie is so hardvogtig? Stuur dan eerder die ouers saam met die kinders terug as dit dan moet. Vir my klink hierdie hele storie baie wreed en onmenslik!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.