Gesoek: ʼn Luis op ʼn olifant

(Argieffoto: Prof. Rudi van Aarde)

Hulle sê om ʼn luis op ʼn olifant raak te sien, is beslis nie die maklikste ding op aarde nie.

Daarom vra ʼn bewaringskundige aan die Universiteit Stellenbosch (US) die hulp van veeartse en mense in die wildbedryf met die insameling van dié kleine insekte sodat navorsing oor hul verskeidenheid gedoen kan word.

Volgens prof. Sonja Matthee, verbonde aan die universiteit se Departement Bewaringsekologie en Entomologie in die Fakulteit AgriWetenskappe, is olifantluise (oftewel Haematomyzus elephantis) kleiner as 1 cm en donker van kleur.

Die luise word gewoonlik tussen die hare op ʼn olifant se slurp, stert, onderlyf of rondom die oë gevind. Dit maak hulle dus redelik moeilik om met die eerste oogopslag raak te sien.

“Die maklikste is om op die uitkyk te wees vir luiseiertjies, wat soos fyn waterdruppeltjies op die dier se hare vassit,” sê Matthee.

Sy vra nou dat mense wat met olifante werk – wanneer die diere byvoorbeeld vir verskuiwing of mediese ondersoeke verdoof moet word – ʼn oog sal oophou vir dié luise en voorbeelde daarvan vir haar sal insamel en aanstuur.

Haematomyzus elephantis, oftewel ‘n olifantluis.

Matthee is ʼn kenner op die gebied van vlooie, luise en ander parasitiese insekte wat op Suid-Afrikaanse wildlewe voorkom. Sy en haar studente bestudeer al die afgelope 20 jaar die verskeidenheid wat op enigiets van streepmuise tot pikkewyne voorkom.

Sy verduidelik dat verskillende soorte diere elkeen hul eie soort vlooie en luise het.

“Ons weet tans nog net van een luisspesie wat op Afrika- en Asiatiese olifante voorkom. Ons wil kyk of dit wel die geval is en of daar nie dalk nog is wat net altyd misgekyk is nie.”

Sy pak die olifantstudie in samewerking met die luiskenner prof. Lance Durden van die Georgia Southern Universiteit in die VSA aan. Matthee en Durden werk al sedert 2003 saam.

Medewerkers uit Australië en van die Hans Hoheisen Navorsingstasie in die Fakulteit Veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria sal hulle daarin bystaan.

Gedurende Matthee en haar kollegas se studie sal voorbeelde van olifantluise wat ingesamel word geneties ontleed word. Die luise se uitwendige kenmerke sal ook deeglik bestudeer word, onder meer met behulp van elektronmikroskopie.

Olifantluise behoort aan ʼn groep of suborde van drie luisspesies wat op soogdiere met sterk velle voorkom. Ook in dié suborde val vlakvarkluise (Haematomyzus hopkinsi) en Haematomyzus porci, ʼn spesie wat op ʼn soort wildevark uit die woude van midde-Afrika voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Zebratjie

Ek is seker die oliefantlyis is kleiner as 1mm, nie 1cm.
Want dis n mikroskopie foto van die luis.

Cornelius

En dit is nou nuus hoe.

Pieter

Daar is ook olifante in die parlement, soos aangedui deur hul vanne en liggaamsbou. Begin daar soek. Baie naby Stellenbosch.