Gesoek: ʼn Nuwe hoof vir Eskom

(Foto: Dirk Hermann/Facebook)

Hoewel ʼn ingenieurskwalifikasie ʼn reuseaanwins by die aanstelling van ʼn nuwe Eskom-hoof sal wees, is uitnemende leierskap nou nodig om die energieverskaffer uit sy huidige krisis te lei.

Só het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Maandag oor die vereistes vir André de Ruyter se opvolger gesê.

Eskom het onlangs eers ʼn advertensie vir dié pos geplaas – byna twee maande nadat De Ruyter sy bedanking in Desember verlede jaar ingedien het.

Dit op sigself, sê Hermann, is onaanvaarbaar.

“Die tyd wat geneem is om te adverteer is totaal onaanvaarbaar. ’n Krisis eis dringendheid. Ons het nie nou die luukse van tyd nie.”

Luidens die advertensie moet die ideale kandidaat ʼn graad in ingenieurswese, sakeadministrasie of ekonomie beskik. ʼn Nagraadse kwalifikasie, soos ʼn MBA, sal ook in die kandidaat se guns tel, terwyl omvattende ervaring in die verkryging van kapitaal en die bestuur van grootskaalse kapitaalprojekte ook vereis word. Die kandidaat moet ook aan regeringsbeleid gehoor gee.

Volgens Hermann is daar drie probleme met posvereistes wat Eskom in dié advertensie uiteensit.

“Die eerste is dat die advertensie op te veel tegniese vaardighede fokus en te min op uitnemende bestuuursleierskap. ʼn Ingenieurskwalifikasie sal ʼn reuseaanwins wees, maar die vereiste is bestuursleierskap. Eskom gaan met uitnemende leierskap uit sy krisis gelei moet word.

“Die tweede probleem is dat die uitvoerende hoof weer eens te min vryheid gaan hê. Die uitvoerende hoof moet dieselfde magte as ʼn sakeredder hê. Dit beteken dat hy of sy vry van die aandeelhouer en verstikkende statutêre vereistes besluite moet kan neem.”

 

Eskom se advertensie vir ‘n nuwe uitvoerende hoof.

Hermann meen die planne om Eskom nie meer as openbare onderneming te posisioneer nie, maar regstreeks onder Gwede Mantashe as minister van minerale hulpbronne en energie, gaan beteken dat Eskom soos ʼn staatsdepartement bestuur gaan word.

Daar sal dus meer staatsinmenging wees en minder vryheid, sê hy.

“Die staat het ʼn geskiedenis van mislukking en Eskom se kans op herstel hang af van die staat wat so min as moontlik inmeng.

“Die derde probleem is dat die eksterne omgewing waarbinne die uitvoerende hoof moet funksioneer toksies en nie ideaal is nie. Die regering moet die korrupte netwerke uitwis en vervolg, moet Eskom vrystel van beperkende statutêre regulasies, die druk van Eskom afhaal deur groter privaatdeelname en Eskom toelaat om vaardighede terug te werf. Indien die eksterne omgewing nie gunstig gemaak word nie, gaan die uitvoerende hoof misluk.”

Hermann sê voorts dat die politieke wil om ingrypende stappe te doen om Eskom te red, nie op die oomblik weerspieël word nie. Hy voorsien ook dat getroue staatskaders sal toustaan om vir die pos aansoek te doen.

“Ek is egter bekommerd dat baie min ware bestuursleiers in die ry gaan staan, want hulle gaan nie lus wees om deur die staatstroom te swem nie.

“Die manier hoe Eskom nou geposisioneer word, maak die risiko vir mense wat werklik die vermoë het om ʼn verskil te maak, groot.”

Het Eskom reeds ʼn plaasvervanger in gedagte?

Die DA wonder intussen of die advertensie dalk opgestel is met ʼn spesifieke individu in gedagte.

“Die verantwoordelikhede van ʼn uitvoerende hoof van ʼn entiteit in ʼn krisis blyk nie bo-aan die lys te wees nie. Ook nie die stadium van die maatskappy se lewensiklus nie, wat ʼn professionele persoon vereis wat bewese sukses het met die herstel van beskadigde nutsdienste wat verantwoordelik is vir die lewering van elektrisiteit teen lae koste aan die publiek,” sê Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings.

“Dít is afgesien van ʼn fokus op die opstel en uitvoering van organisasiestrategie, die bou van die senior leierskapspan, die neem van kapitaaltoewysingsbesluite, die opstel van visie, waardes en korporatiewe kultuur en om doeltreffend met alle belanghebbendes te kommunikeer.”

Die party sê die geskikte plaasvervanger moet ook ingenieursvaardighede hê en bykomende eienskappe van krisisbestuur.

“Boonop sal dit ʼn individu vereis wat die ruimte en vermoë het om die gebrekkige voorskrifte van ʼn gekompromitteerde aandeelhouer te kan weerstaan ​​– iemand wat ʼn praktiese, pragmatiese oriëntasie het en ʼn analitiese probleemoplosser is, met detailgeoriënteerde en argitektoniese, sisteemgeoriënteerde denkvermoëns.”

“Dit gaan nie oor ‘omdraai’ nie; dit gaan oor redding en die toekoms van ons nasie, en ʼn bekwame aansoeker sal moet opstaan ​​teen die onderhoudspaneel as ʼn eerste stap om sy of haar vermoë ten toon te stel om die grade van vryheid te eis wat nodig is om ʼn sinkende skip te herstel.”

Cachalia sê dít sal “staal” vereis, nie buigsaamheid nie.

“Die afwesigheid daarvan sal voortgesette mislukking verseker as ʼn instrument van ʼn regering wat goed vertroud is met daardie hoedanigheid. In die onwaarskynlike geval dat dit sou gebeur, sal dit die beste wees as hy sy eie koffie in ʼn fles van die huis af bring.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Selfs die wyse Salomo sal sukkel om daai skip om te draai.

Elize ·

Wat help ‘n goeie leier maar die wat die wat onder hom werk is 30%-ers of kriminele?

domheks ·

Plaas maar julle kaders daar – hulle is die slimste en die beste!

Marcello ·

Ons gaan nog lang trane huil oor Andrè de Ruyter se bedanking, hy is ‘n man wat beskik oor leier einskappe soos wat ons donkie-jare laas gesien het in Eskom. ‘ n Man met integriteit teenoor sy personeel sowel as die publiek. So nuus vir die “nuwe” persoon, jy het GROOT skoene om voltestaan.????

Wakkerslaper ·

Julle kan maar die beste van beste aanstel – dit gaan net mooi NIKS verander nie! Die probleem by ESKOM is nie ‘n tekort aan bevoegdheid en leierskap nie… Mnr. De Ruyter is meer as bevoegd om ESKOM reg te ruk. Maar toe hy korrupsie en bedrog begin stop en uiteindelik ware en kwaliteit onderhoud begin doen, word sy werk gesaboteer, sy lewe bedreig en die regime (wat hom heel strategies aangestel het om so skielik te kom “red”) verraai hom deur net mooi geen hulp te verleen nie wat hulle so plegtig beloof het nie…

Hierdie klomp terroriste het lankal bewys dat elektrisiteitsvoorsiening glad nie hulle doelwit is nie – inteendeel! ESKOM is net nog ‘n lekker vet goudpot wat die blankes vir hulle gelos het sodat die comrades en oud terries dit tot in die grond in kan plunder!

Wondermaarnet ·

Solank as wat die ANC in beheer is, sal eskom nooit regkom nie.

Nie Verbaas ·

Hier word nou weer voorsiening gemaak vir n kader met “kwalifikasies”. Eskom in sy huidige formaat is op pad na net een plek toe, afgrond.

Porseleintjie ·

Beste leierskap nou sal die een wees wat die ANC uit die parlement kan lei.

Vonkprop ·

My geld is op Gwede of Dlamini om die pos te kry. Volgens die ANC se standaarde is hulle die beste in die bedryf.

Wit Leeu ·

Maak nie saak wie Eskom bestuur nie, dit gaan nie werk nie ! Net ‘n wonderwerk kan help !

Wondermaarnet ·

Daardie wonderwerk is om ontslae te raak van die ANC en korrupte kaders en hulle families.

Leon ·

Ek is seker wat julle soek is krag wat kan skok ? as julle nou die land wil skok stel net vir Mev skosozana Dlamini Zuma aan en julle sal die skok van julle lewe kry !!!!!

Eugene ·

Ek gee nie om Wie die hoof van eishkom gaan wees nie. Hou net asb die Flippen regering uit Eskom uit want dis waar ons bollie begin.

Gerrie ·

Die staat en/of SOEs het nie die vermoë om beleid uit te voer nie. Kader ontplooiing het seker gemaak dat die die geval is. Die beteken dat dit gaan nie saak maak wie in bestuur is nie.

Strandloper ·

Iemand gaan weer goed geld maak met die verkoop van kwalifikasies….

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Posadvertensie: Wat ‘n klug!
Gaan lees gerus RW Johnson se uitstekende artikel gedateer 06 Februarie 2023 in Politicsweb, getiteld: “The long reach of Russian Imperialism” te [ https://www.politicsweb.co.za/opinion/the-long-reach-of-russian-imperialism ].
Voorspoed aan die volgende Eskom Hoofbestuurder! Ha-ha-ha. Ek sal nie een enkele verswakkende Suid-Afrikaanse Rand in Eskom aandele belê solank as wat die ANC en/of EFF die land regeer nie.

Danie ·

Kyk moet nie julle stoele en plekke opgee in die show nie dit gaan nog baie interresant word.

Wondermaarnet ·

Hopelik word alle aansoekers se rekords noukeurig nagegaan of hulle werklik die kwalifikasies behaal het.

John ·

Ek glo nie daar is tans iemand in die land wat as Eskom se nuwe leier aangestel kan word nie . Daar was vroeer jare vele maar hulle is nou die land uit en ander is nou op pension.

Dit is ook nou n skande dat die rugby span van Israel nie meer uitgenooi is nie.

Maritza ·

Hulle kan aanstel wie hulle wil. Korrupsie verhoed enige persoon om Eskom te red

Jacobus ·

Die kandidaat moet aan regeringsbeleid gehoor gee, dit moet enige kandidaat in sy spore stuit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.