Gesoek: ʼn Plek waar Wolraad Woltemade vir almal ʼn held is

Die beeld van Wolraad Woltemade voor Old Mutual se kantore in Kaapstad. (Foto: FAK)

“Wolraad Woltemade is ʼn universele held. Sy heldedaad 250 jaar gelede ken nie tyd, kleur of grense nie.”

Dr. Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep, sê dit is daarom ʼn jammerte dat hierdie held nie ʼn ereplek het waar alle Suid-Afrikaners aan hom kan hulde bring nie.

Woltemade se standbeeld staan tans by Old Mutual se gebou in Pinelands, Kaapstad. Goewerneur EG Jansen het dit in Maart 1956 hier onthul.

Old Mutual het egter vandeesweek in die spervuur beland toe hy die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se versoek om ʼn kranslegging te lê “ter ere van die eenvoudige melkboer wat sy lewe geoffer het vir sy medemens” van die hand gewys het.

Old Mutual het die FAK meegedeel dat hy nie die versoek kon toestaan nie, onder meer omdat dié organisasie ʼn “diverse verskeidenheid kulture” verteenwoordig en daarom bedag is op hoe erfenis gevier moet word, beide in Suid-Afrika en regdeur die groep.

Nadat die FAK nietemin met die kranslegging voortgegaan het, het Old Mutual gesê hy is bereid om saam met die FAK en ander organisasies te werk oor kwessies van erfenis en hoe hulle dit ‘nklusief’ kan vier.

“Dit is tog vir die VF Plus jammer dat daar enigsins gekyk is na velkleur in hierdie kwessie. Woltemade het sonder twyfel nie in die storm gevra wat die kleur van die volgende persoon is wat hy gaan red nie,” sê Mulder.

“Die VF Plus gaan hom daarom daarvoor beywer om ʼn standbeeld vir Wolraad Woltemade te laat oprig waar hy ʼn held vir alle Suid-Afrikaners kan wees. ʼn Plek waar elke Suid-Afrikaner deur Woltemade se onbaatsugtige liefde vir sy medemens aangevuur en geïnspireer kan word en waar almal aan hom kan hulde bring, ongeag hul velkleur.”

Die party sal hom wend tot al die betrokke owerhede, in die Wes-Kaap en nasionaal, om die standbeeld op te rig.

Hy het egter ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om te help om vir Woltemade ʼn plek te gee waar hy en sy perd, Vonk, ʼn inspirasie vir al die nageslagte kan wees.

Woltemade het op 1 Junie 1773 drenkelinge in die see aan die Kaapse kus gered. Dié heldedaad het gevolg nadat die skip De Jonge Thomas van sy anker losgeruk en by Soutrivier deur onstuimige waters aan flarde geslaan is.

Woltemade, wat toe 65 jaar oud was, het met sy perd die drenkelinge uit die see gered.

Onverskrokke het hy agt keer tussen die branders ingejaag en 14 matrose gered voordat hy verdrink het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

André ·

Nog ‘n Afrikaaner-gestigte maatskapy wat sy rug op sy erfines draai. Nog ‘n Afrikaaner-gestigte maatskapy wat die knieg buig vir ‘n korrupte regering. Nog ‘n ‘n Afrikaaner-gestigte maatskapy wat ons in die steek laat.

gatgogga ·

Daar sal maar net weer eendag nog ‘n FWdK in ons toekoms verskyn, en weer alles verkoop.

Elmarie ·

Al wat ek wil aanhaal is: ” the world is a magical place full of people waiting to be offended by something”

Willem ·

Kom sit die standbeeld in my tuin. Ek sal almal vertel wat hy gedoen het

Blom ·

So hartseer dat ‘n diverse verskeidenheid van kulture van Old Mutual (wat baie wit klante het) nie die waarde van hierdie gebeurtenis kan sien nie. Wolraad was ‘n held en moet so onthou word.

kommentaar ·

Maw old mutual omdat julle bang is om kliente van n sekere “groep” te verloor ontken julle almal deur die bank hul reg om hul geskiedenis te eer. Maar volgende week kan julle nie verstaan as julle plekke afgebrand word deur said kliente nie want die vermoeëns om te redeneer is nie teenwoordig nie?

VicinOz ·

Sowaar!
Ek het altyd die Old Mutual as een van die hoekstene van Suid Afrika gesien. Ek was duidelik verkeerd…

KatjieDeKat ·

Ja wel jy weet hoe dit gaan. Diversiteit beteken een spesifieke velkeur Moet uitgesluit wees.

Cherokee ·

Jy was nie verkeerd nie, deur dìt te dink van Ou Mutual. Dit geld egter nie vir Old Mutual wat inderwaarheid New Mutual behoort te heet.
Maar terloops, Ou Mutual is nie meer lokaal gebonde, maar internasionaal.

Johan ·

“Corporate cowards!” Dit is wat hierdie groot korporatiewe groepe is……. Hulle sal die etniese groep wat hul enorme sakeryke opgebou het net so onder die bus ingooi terwille van politieke korrektheid.

Paul ·

Dit is goed om te weet, sal dus in die toekoms hulle nie ondersteun nie!

Cherokee ·

Geen beweging in die land besit meer as Ou Mutual. Enkelinge wat hulle nie wil ondersteun, sal hulle nie eens van weet nie.

Andre ·

Altyd die Anc ter wille. Al die groot maatskappye en universiteite wat feur die Afrikaner geskep en finansieel onderhou is, lê nou al op hulle rug soos hulle agteroor buig.

Misky ·

Wie swaai die septer daar by Old Mutual? Ek dink ons almal weet. En ek wed julle ook as Wolraad ‘n swart van gehad het, het hulle oor hulle voete geval vir daai kranslegging

Grassie ·

‘n Mooi gebaar deur die VFplus maar andersinds is hulle doodstil. Steenhuisen van die DA veg dat die stof staan maar die VF- maak soos die polisie, monitor net die situasie. Ek wonder of dit nog die moeite werd gaan wees om vir hulle te stem.

Keelvol ·

Die da het in die voortou gestaan met die juffrou van schweizer-Reneke en haar netso hard gestenig en van rassisme beskuldig sonder bewyse. Noudat sy onskuldig is, waar’s die da nou? Hulle met net lawaai wanneer dit by verkiesing kom. Verder maak Hulle soos Old Mutual. Vryheidsfront doen meer vir die Afrikaner.

Gaitsigubib ·

Die DA is in elkgeval dood gebore van die begin af. Hulle is n oorblyfsel van die NP wat later die NNP geword het, net om toe oor te loop na die ANC. Sodra hulle inklusief word en groei stem hulle vir persone wat nie die keuse sou wees van die kern groep nie en wat doen hulle dan? Die party verloor weer stemmers en moet dan weer van voor af groei. Net soos n siek brakkie wat kort kort op antibiotika is – wil nie sterf nie maar ook eintlik nie lewe nie.

Gaitsigubib ·

….ek besef die party kom eintlik van die PFP af, maar die kiessers is oud NP’s wat weg gehol het van die Noorde af. Ek wonder waarheen gaan hulle volgende, seker Robben eiland?

Cherokee ·

Hierdie kommentaar is so onkundig as wat dit kan wees. En dit word vir jou gesê deur ‘n lid van die VF.

piet ·

Dit was een plaaslike nobody van die DA in die Schweizer-Reneke geval wat twak gepraat het, nie die DA se beleid nie kom oor dit man.

Cherokee ·

O, verwys asseblief na die DA se verskonings en verduidelikings daaroor. Kry jou feite agtermekaar.

Grassie ·

Vir diegene wat met my raas – ek is nie ‘n DA ondersteuner nie. Ek was van mening dat die VVPlus die witmense oor die algemeen en die Afrikaner in besonder se belange op die hart sou dra, maar dit lyk nie meer vir my so nie. Dit klink asof hulle stoom verloor het. Hulle bereik nie die mense op voetsoolvlak nie.

Heinrich ·

Alles moet ‘inklusief’ wees indien daar enige blanke ‘helde’ tersprake is. Was dit ‘n swart ‘held’ so geen haan gekraai het nie. Dis maar hoe die wind waai nou.

Jakkie ·

Ou Mutual moet kennis neem van Bud-Light bier in die VSA. Ek gaan beswaar aanteken deur my makelaar oor hierdie optrede.

domheks ·

As ou mutual so wil optree moet ons maar stop om besigheid met hulle te doen! KRUIPERS!

Marcello ·

Baie ddankie, vir die berig, Ek gaan onmiddellik al my besigheid met hulle kanselleer……….

Papsak ·

Korruptes wat hulle rug draai op hulle erfinis maar buig hulle knieg voor korrupte regering stem ook seker vir anc

Patch ·

Wat van die nuwe Akademia kampus wat beplan word? ‘n Lieflike grasperk waar studente kan kuier met die standbeeld in die middel daarvan.

Sê maar net ·

Waar hulle dit ookal sit, asseblief maak seker dit word beskerm teen vandale. Want hulle sal nie kan wag om dit af te breek of te vermink nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.