Gesoekte misdadiger in Midrand aangekeer

Martin Evans Foto: Wales Online

Martin Evans Foto: Wales Online

ʼn Voortvlugtende misdadiger van die Verenigde Koninkryk is in Midrand, Gauteng deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Interpol aangekeer.

Martin Evans (52), ʼn veroordeelde dwelmsmokkelaar en bedrieër van Swansea in Wallis, is al sedert 2011 op vrye voet toe hy nie teruggekeer het tronk toe ná ʼn kort vrylating nie, het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie in Gauteng, Sondag gesê.

Evans is tot 21 jaar tronkstraf gevonnis vir sameswering om kokaïen te verskaf en op aanklagte van bedrog. Wales Online berig hy het meer as £39 miljoen uit sy misdade ingevorder. Hy is in 2003 in hegtenis geneem.

Makgale sê ondersoekbeamptes van die Nasionale Misdaadagentskap het Interpol in kennis gestel dat Evans in Suid-Afrika is. Hy is Saterdagaand by ʼn veiligheidskompleks in Midrand in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Maandag in die Pretoria-streekshof verskyn vir ʼn prosedure uitleweringsverhoor.

Hank Cole, hoof van die Nasionale Misdaadagentskap, het gesê die “uitsonderlike vlak van samewerking en deel van intelligensie” met die Suid-Afrikaanse Polisiediens het gelei tot Evans se inhegtenisneming.

Owerhede was glo onder die indruk dat hy moontlik in Ciprus kan wees. Hy het glo ook beleggers in ʼn volstruisplaas bedrieg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gideon Erasmus ·

Suid Afrika die hawe vir misdadigers- hoe verlang ek na die ou dae!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.