Gesoekte verdagte danksy publiek aangekeer

Kirwin Cowen Arendse. Foto: SAPD

Kirwin Cowen Arendse. Foto: SAPD

ʼn Gesoekte verdagte is aangekeer vier dae nadat die Brooklyn-polisie in Pretoria die gemeenskap om hulp gevra het.

“ʼn Anonieme lid van die gemeenskap het die ondersoekbeampte geskakel nadat hy Kirwin Cowen Arendse se foto in die media gesien het,” het kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die inligting het die polisie na Eersterust gelei waar Arendse weggekruip het.”

Arendse is Saterdag omstreeks 11:30 in hegtenis geneem. Die 40-jarige man sal Maandag in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag van minagting van die hof.

Maroela Media het vroeër berig Arendse is in 2014 in hegtenis geneem nadat ʼn gesteelde skootrekenaar in sy besit gevind is. “Polisiebeamptes was op 19 September op patrollie toe hulle ʼn verdagte voertuig sien wegjaag het van die Laerskool Menlopark af,” het Weilbach gesê. “’n Jaagtog het gevolg en die motor het in Hazelwood teen ʼn ander motor gebots. ʼn Skootrekenaar wat as gesteel aangemeld is, is in die verdagte se motor gevind. Arendse en nog ʼn verdagte is op die toneel in hegtenis geneem.”

Volgens Weilbach het Arendse op 14 Februarie in die Pretoriase landdroshof verskyn en hy is op borgtog vrygelaat. Hy het nie vir sy volgende hofverskyning opgedaag nie en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik.

“Die Brooklyn-polisie bedank die gemeenskap en die media vir die groot reaksie en bystand wat tot die suksesvolle inhegtenisneming gelei het,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerhard ·

Ek het altyd gewonder hoe lyk ‘n “afdraande gesig”. Nou weet ek.

Johann Marx ·

Baie jare gelede was dit gebruik gewees om alle gesoekte misdadigers se foto’s op te plak in die landdroskantore sodat almal kan sien wie hulle is, en na wie die polisie soek. Nou is ons in die modern eeu van tegnologie…..en nêrens het die SAPD ‘n webblad waar die publiek kan gaan kyk na wie hulle soek nie, en hierdie gemors kan uitwys nie. Waarom nie?

Gerhard ·

Ek dink dit is sekere nie polities korrek nie. Hoe moet die arme gesoektes nou voel as swak fotos van hulle oral pryk?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.