Gesoekte vrou vas; glo met moord op veearts verbind

Dr. Freddie Malan. (Foto: Facebook)

Die vrou wat die afgelope paar maande saam met twee van haar vermeende makkers gesoek word in verband met talle misdade in Gauteng, waaronder die moord op dr. Freddie Malan, die vooraanstaande en geliefde veearts van Pretoria, is vandeesweek in hegtenis geneem.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 26-jarige vrou is Maandag in Roodepoort in Johannesburg in hegtenis geneem.

“Die verdagte werk na bewering saam met ʼn bende gewapende mans en is vermoedelik betrokke by ander ernstige en gewelddadige misdade wat onder meer roof en moord insluit,” het Masondo in ʼn verklaring gesê.

Die bekende private speurder Mike Bolhuis het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat dit inderdaad hierdie vrou is wat gesoek word in verband met die moord op Malan, asook talle rooftogte by onder meer mediese praktyke.

Maroela Media het vroeër berig Malan is in Januarie vanjaar in sy praktyk in die Moot doodgeskiet toe ʼn vrou en twee mans die betrokke aand op die Jakaranda-dierehospitaal toegeslaan het. Die vrou het op die dag van Malan se moord in die dierehospitaal ingekom om kwansuis meer uit te vind oor die behandeling van ʼn troeteldier waarna sy die dierehospitaal se hek vir haar twee makkers oopgehou het.

Die speurspan het beeldmateriaal van die verdagtes in die moord op dr. Freddie Malan ontvang waarin veral die vrou duidelik gesien kan word. (Foto: Verskaf)

Bolhuis se speurspan het maande later beeldmateriaal, wat gedurende ʼn ander voorval vasgevang is, van die verdagtes ontvang waarin veral die vrou duidelik gesien kon word.

Sedertdien word die trio met nie minder nie as 27 misdaadsake verbind. Van dié misdade sluit in ʼn rooftog van ʼn sjokoladewinkel in Boksburg. Altesaam 16 verdagtes het egter tydens dié rooftog op dié winkel toegeslaan en volgens Bolhuis het dit duidelik geword dat die groep hul teiken en mannekrag vergroot het.

Masondo het bevestig die polisie is tans op die spoor van nog 15 verdagtes.

Volgens Bolhuis bestaan die groep egter deesdae uit 30 of meer lede. “Daar word nou ʼn intensiewe ondersoek gedoen. Die idee is om die hele groep te vang,” het hy gesê.

Die vrou sal na verwagting Woensdag in die Boksburg-landdroshof verskyn. Dit wil voorkom of die vrou in dié stadium slegs in verband met die rooftog op die sjokoladewinkel aangekla word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kleintjie

Verskoning vir n mens en nogals n “landgenoot”

Madeleine

Wel gedaan

Anoniem

Jippeee ern moordenaares vas nou sal sy praat waar haar makkers is !!!!!!!!

Slang

Baie mooi werk maar dit is ter selfde tyd hartseer dat `n “Haas” (mer alle respek) aan die stuur moet staan van `n “privaat Moord en Roof Eenheid” (weer, met alle respek) en dat daar geen noemenswardige polisiering meer is nie.

marous

Verskeie sake maar net getuienis vir een aanklag?