Gesogte nasionale ordes toegeken

Voormalige Springbokkaptein, John Smit. Foto: ANA

Pres. Cyril Ramaphosa het Saterdag die nasionale ordes vir 2018 aan toonaangewende landsburgers en uitnemende buitelanders toegeken.

“Gister [Vrydag] het ons as Suid-Afrikaners ons vryheid gevier, ʼn vryheid wat bekom is deur die werk van talle mense wat ons vandag vereer,” het Ramaphosa tydens ʼn glansryke geleentheid by die Sefako Makgatho- presidensiële gastehuis in Pretoria gesê.

“Hierdie nasionale ordes is wesenlik ʼn erkenning van die talle uitnemende mense wat groot risiko’s trotseer het om ʼn enorme bydrae tot verskeie sfere van die lewe te lewer.” Ramaphosa het beklemtoon dat ʼn volledige demokrasie in 1994 nie moontlik sou wees sonder die onbeperkte steun en solidariteit van die internasionale gemeenskap nie.

“Dit is daarom vandag ʼn spesiale eer om die Orde van die Bondgenote van Oliver Tambo in goud aan vier voormalige staatshoofde te gee – Eksellensies Joaquim Chissano van Mosambiek, Sam Nujoma van Namibië, Ellen Johnson Sirleaf van Liberië en wyle sir Ketumile Masire van Botswana.”

Die toekennings wat Saterdag oorhandig is, val in die kategorieë van die Orde van Ikhamanga, die Orde van die Baobab, die Orde van Luthuli en die Orde van die Bondgenote van OR Tambo.

Ramaphosa het saam met die kanselier van nasionale ordes se direkteur-generaal in die presidensie, Cassius Lubisi, die gesogte toekennings aan 40 ontvangers oorhandig wat politieke aktiviste, sportsterre, voormalige presidente, musikante en kunstenaars insluit.

Die veteraanaktrise, Lillian Dube. Foto: ANA

Van die mense wat toekennings ontvang het, sluit in:

Voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke: die Orde van Luthuli in goud vir sy uitnemende bydrae tot die reg en administrasie van gereg.

Traci Mackie: die Orde van Ikhamanga in brons vir haar bydraes in die joernalistieke veld en die ontmaskering van die gruwels van apartheid. Mackie het die manier waarop Steve Biko se dood toegesmeer is aan die lig gebring, asook die aandadiges in die sekuriteitsektor ontmasker.

Elsa Meyer: die Orde van Ikhamanga in brons vir haar bydrae tot die veld van senior atletiek.

Hashim Mohammed Amla: die Orde van Ikhamanga in silwer vir sy uitnemende bydrae tot krieket.

Johan Botha: die Orde van Ikhamanga in silwer (postuum) vir sy bydraes tot operamusiek en die vestiging van Suid-Afrika op die wêreldverhoë.

John William Smit: die Orde van Ikhamanga in silwer vir sy bydrae tot en leierskap in rugby.

Adv. Nakedi Ribane: die Orde van Ikhamanga in silwer vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste en literatuur.

Nkosinathi Freddy Ndlovu: die Orde van die Baobab in silwer vir sy uitstekende bydrae in die stryd tot erkenning van die regte van mense met gestremdhede.

Mary Fitzgerald: die Orde van Luthuli in silwer (postuum) vir haar stryd teen die ongeregtigheid en ongelykheid wat afgedwing is deur rassistiese wette.

Rosita Johnson: die Orde van die Bondgenote van OR Tambo in brons vir haar bydraes tot die welstand van jong Suid-Afrikaners in ballingskap deur hulle te help om steeds toegang tot onderwys te hê en deur bewusmaking in die VSA te skep oor die lot van Suid-Afrikaners onder apartheid.

Klik hier vir die volledige lys toekennings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

jaco ·

kry wit mense dan ook nasionale ordes? wit mense is dan setlaars, verraaiers en onderdrukkers wat swem in hulle wit monopolie kapitaal. eks regtig verbaas. Of dis maar net “window dressing”. Aan moorde op wit boere word immers nog steeds niks gedoen nie… Regstellende aksie en BEE stoot ook steeds wit mense uit die landsekonomie uit.
‘n toekenning van n nasionale orde vir n wit mens flous my dus nie en oortuig my nie van hoe mooi “nie-rassig” SA nou is nie, want more word daardie selfde wit mense wat die ordes gekry het, se mede-wit mense maar net weer sleg behandel.

Mariné Lourens ·

Dagsê N Lourens Reitz

Dankie vir jou kommentaar. Elsa Meyer is inderdaad korrek in die berig. Elsa het ʼn toekenning ontvang vir haar bydrae tot atletiek vir seniors en vir haar uitnemende bydrae om die ouer garde aan te moedig om fiks en gesond te bly. Elana Meyer het egter ook ʼn toekenning ontvang vir haar bydrae tot baan- en veldatletiek en dat sy Suid-Afrika al verskeie kere op wêreldgeleenthede verteenwoordig het. Hoop dit klaar die verwarring op.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Koos ·

Nog nooit van heelwat van die ontvangers gehoor nie. Gesogte ordes? Klomp twak wat soos confetti uitgedeel word aan wie dit die regering behaag. Neem aan Jacques Pauw gaan nie binnekort een kry nie…

Valerie ·

Ek kon dit nie maak vir die geleentheid nie; was Spar toe. Hulle het gesê hulle sal my “Orde van Wanorde” stuur sodra hulle dit opgespoor het.

Johanna Botha ·

En die gesogte prys van nasionale vanorde word die jaar gedeel tussen die anc en die uiters bekwame polisie diens van Suid Afrika …baie geluk !

Danie van Zyl ·

Lagwekkend. Dit is duidelik dat menseregte selektief polities erkenning kry . Ongelukkig is `n baie groot groep landsburgers “ja en amen” burgers. wat nie hond haar afmaak oor menseregte en hul werklike verpligtinge teenoor ander groepe en hul land nie. Hoop regtig MM plaas hierdie keer my insetsel. Ek het dit so polities korrek as moontlik gehou.

Pieter Schoombee ·

Traci Mackie het nie die feite oor Steve Biko se dood ontbloot nie. Helen Zille, toe ‘n joernalis by die Rand Daily Mail, het dit gedoen.

humor ·

Lyk my dan John Smit se bed is nie eens behoorlik opgemaak nie.

Wessie ·

Wie is Elsa Meyer?
As hierdie joenalis nie eers blanke name kan verifieer en regkry nie is dit dalk tyd vir ‘n ander werk!!!

Mariné Lourens ·

Dagsê Wessie

Dankie vir jou kommentaar. Elsa Meyer is ‘n veteraanatleet wat tydens dié geleentheid vereer is vir haar uitnemende bydrae tot atletiek vir seniors en om die ouer garde aan te moedig om fiks en gesond te bly. Sy word deur talle as een van die beste professionele stappers ter wêreld geag. Klik gerus ook op hierdie skakel vir meer inligting.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.