Die Gesondheidsdepartement steur hulle nie aan menslike bloed wat uit die Kuruman-staatshospitaal in die straat inloop nie. Dit hou ernstige gesondheidsgevare vir die dorp se inwoners in en moet dringend opgelos word.
Só sê die burgerregte-waghond, AfriForum.
Die provinsiale koördineerder vir die Noord-Kaap, Stefan Pieterse, sê die bloed kan in die grondwater beland wat die boere vir besproeiing gebruik. “Dit beteken mense kan besmette landbouprodukte inneem. Wat ons sprakeloos laat, is dat die departement van gesondheid bewus is van die probleem, maar dit bloot ignoreer,” aldus Pieterse.
Pieterse voeg by dat staatshospitale veronderstel is om gehaltediens aan Suid-Afrikaners te lewer, maar dat gevalle soos hierdie mense wat as gevolg van siektetoestande die kwesbaarste is, in die steek laat. “Vanjaar is gekenmerk deur verskeie gewelddadige protesaksies deur ontevrede gemeenskappe, maar wanneer ons situasies soos dié ervaar, is dit heeltemal te verstane,” het Pieterse gesê.
AfriForum het gister skoon water vir die Barkley-Oos-gemeenskap geneem nadat inwoners in opstand gekom het oor swak dienslewering.
Volgens Pieterse sal AfriForum moet ingryp met oplossings en die onkoste van die departement moet verhaal indien die departement van gesondheid nie die probleem dringend oplos nie.
Ons het al deur rioolwater gery in Kuruman is n vieslike vuil dorp en is die enigste groot dorp naby Kathu in N Kaap.
kuruman is woes vuil en so ook kathu met al die rommel wat ooral rondlê
Mens kan dit nie glo nie! Kuruman was so n mooi dorp op sy dae, b.v. Die Oog wat ook nou, so verwaarloos is!
Die Kuruman Hospitaal se “welstand” is maar slegs ‘n splinter in die oog!
Munisipale. Riool-suigtrokke is al vir 4 maande stukkend. Die stank in die Seodin omgewing is veral saans onuithoudbaar, om nie te praat van strate waar rioolwater vrylik afvloei nie. Voertuigbande word saans by asgate gebrand met ‘n ontsaglike reuk en rook besoedeling.
Die “Moffat-watervoor” wat uit die oog vloei – vloei lankal nie meer tot in die Seodin area nie, en as dit wel vloei is dit ook besmet met skaapafvalle en vullis.
Die Hoofstraat van Vryburg na Kathu is oor naweke en die feestyd ‘n “rooi-gevaarsone” as gevolg van onbeheersde partytjies wat op parke gehou word. Toeriste moet die pad liefs vermy.
Ons pragtige Oase in die Kalahari is verwoes!