Gesondheidsfasiliteite in Gauteng se fone weens wanbetaling af  

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Gautengse departement van gesondheid het alternatiewe kontaknommers vir verskeie van sy hospitale en klinieke beskikbaar gemaak nadat Telkom die telefoondienste weens beweerde wanbetaling opgeskort het.

Volgens die departement is daar verskeie dispute met Telkom oor die bedrae betaalbaar.

“Ons het ongelukkig verskeie teenstrydighede gehad waar Telkom fakture sou stuur met beskrywings van fasiliteite wat nie aan die departement behoort nie, wat dit onmoontlik gemaak het om daardie fakture stiptelik te vereffen,” het Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, gesê.

Die departement het verlede week R4 miljoen aan Telkom betaal en ʼn verdere R3,4 miljoen is Maandag betaal.

“Daar is ʼn uitstaande bedrag wat tans geverifieer word sodat dit vereffen kan word sodra die fakture gerekonsilieer is. Die departement gaan voort om met Telkom in gesprek te tree om ʼn vriendskaplike manier te vind om aandag te gee aan die dispute sonder om ʼn impak op dienslewering te veroorsaak.”

Modiba het bevestig dat 83 klinieke en 32 hospitale se fone buite werking is.

As deel van ʼn langtermynoplossing is die departement tans besig om sy fasiliteite te migreer na ʼn interne oproepstelsel, wat die koste van kommunikasie binne instellings en ekstern drasties sal verminder, het Modiba gesê en bygevoeg dat 130 hospitale en klinieke reeds op die interne stelsel geplaas is.

Die departement het alternatiewe kontaknommers op die Gautengse provinsiale regering se webblad gepubliseer vir die hospitale en klinieke wat geraak word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Dis nog niks die polisie in Hennenman Vrystaat sit sonder enige fone al n jaar lank.Wanadministrasie deur die polisie bestuur vier hoogty.

Anel ·

En dan wil lesufi 18 privaat hospitale koop!!!!!! Hulle kan dan nie eers dit wat hulle het instand hou nie! Dink hy nou dat as die privaat hospitale daar is, hulle oorstroom kan word en dat hulle nog dieselfde diens gaan lewer en wie gaan dan die instandhouding behartig??? Gelukkig sal dit nie net wees van vat nie!!!!!!

Aanhouer ·

Daar is geen alternatiewe nommers vir Steve Biko hospitaal nie? Nommers al buite werking sedert middag van 7 Februarie.

Impact ·

Regtig? Hoe wil hulle die NHI instel maar hulle kan nie eens ‘n flippen foon rekening betaal nie. Nou wil hulle R1500 p.m van my salaris vat om hulle twak goed instand te hou, maar jy gaan soos ‘n stuk gemors behandel word in die hospitale, ure sit en wag op niks want alle xstraal masjiene ensomeer is meer stukkend as reg. Nee wat die land is in sy peetjie in

Zollie ·

Telkom is ook nie altyd reg nie. Weet van baie mense wat sukkel met hulle rekeninge. Telefoon is al 6 maande gelede gekanselleer, maar Telkom bel nog steeds dat dit agterstallig is en so is daar nog baie ander gevalle ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.