Gesondheidshoof onder skoot by Esidimeni-verhoor

Dumi Masondo, geskorste voorsitter van die Gautengse Hersieningsraad vir Geestesgesondheid Foto: Getrude Makhafola/ANA

Dumi Masondo, geskorste voorsitter van die Gautengse Hersieningsraad vir Geestesgesondheid, moes moeilike vrae beantwoord by die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor.

Sy het voor die verhoor verskyn in verband met haar beweerde versuim om op te tree nadat psigiatriese pasiënte ná die oorplasing van Life Esidimeni na ongelisensieerde nieregeringsorganisasies, gesterf het.

Masondo het gesê sy is in Januarie 2016 op ʼn tydelike basis aangestel as voorsitter van die raad binne die departement van gesondheid. Sy beskuldig die voormalige LUR van gesondheid, Qedani Mahlangu, en haar span dat hulle nie die raad by dié projek ingesluit het nie.

“Ons het eers in Januarie ʼn vergadering belê met [die geskorste hoof van geestesgesondheid] dr. Makgabo Manamela, mnr. Mosenogi [hoofdirekteur van beplanning en hoof van die Esidimeni-projek] en ander beamptes, waar ons in kennis gestel is van die oorplasing van die pasiënte. Ons het nie enige rol gespeel in die oorplasing van die oorplasings nie, aangesien dr. Manamela vir ons gesê het alles word gereël, dit verloop glad en dat ons nie die LUR moet pla nie, aangesien ʼn span aangestel is,” het Masondo gesê.

Sy beweer sy is aangesê om te fokus op haar kernfunksies, wat insluit die hersiening van besluite oor psigiatriese pasiënte, ondersoeke en om dokumente oor die stand van geestesgesondheid te ontvang.

Sy het gesê sy en haar span was oortuig dat almal hul rol vervul het in die projek, totdat inligting oor die sterftes aan die lig gekom het. Manamela het die eerste sterftes in Julie 2016 by haar kantoor aangemeld, en gesê vyf pasiënte is oorlede. Haar span het ontdek dat 11 pasiënte gesterf het.

Masondo, Mahlangu en ander beamptes het daarna verskeie NRO’s besoek vir inspeksies, insluitend Precious Angels in Atteridgeville in Pretoria.

“Die plek was vuil. Ek het in die kaste gekyk en daar was nie enige kos nie. Daar was ʼn kastrol op die stoof met kool daarin. Die pasiënte het op hul beddens met komberse gelê. Kragtens geestesgesondheid moet die pasiënte nie deur die dag slaap nie, hulle het stimulasie nodig en daar was nie enigiets van dié aard nie,” het sy gesê.

Adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, voorsitter van die arbitrasieverhoor, wou by haar weet waarom sy nie enige stappe gedoen het om na die gesondheid en welstand van die pasiënte om te sien nie. “Hoekom het jy nie jou voet neergesit en hierdie arme mense se lewens gered nie? Jy het gesien daar is ʼn gebrek aan kos, medikasie en personeel. Met jou vier of vyf kwalifikasies in geestesgesondheid, hoekom het jy dit nie gestop nie? Hoekom het jy nie ʼn perskonferensie belê en vir die land gesê daar is probleme nie?” wou hy weet.

Masondo het gesê hoof gesondheidsbeamptes het ingemeng by haar kantoor se onafhanklikheid. “Ek het navraag gedoen by dr. Manamela, en hy het gesê alles is oukei. Ons het ons kollegas vertrou.”

Moseneke het hierop reageer: “Jou werk is nie om te vertrou nie, maar om [die situasie] te hersien. Was jy bang om vir die LUR te sê sy was verkeerd?”

“Regter, ek was nie bang nie. Soos ek genoem het, ons was nie deel van die projek nie. Ons het by ons kernfunksies gehou.”

Sy het beswaar aangeteken dat sy die enigste beampte is wat deur LUR Gwen Ramokgopa sonder betaling geskors is. Ramokgopa het die amp oorgeneem nadat Mahlangu bedank het. Masondo het ook haar misnoeë uitgespreek oor die gebrek aan ondersteuningspersoneel vir die raad, ʼn beperkte begroting en dat sy van Manamela se personeel gebruik moes maak.

Dit het tydens die verhoor in ʼn ooggetuie se verklaring aan die lig gekom dat Masondo se begrafnisonderneming gebruik is om die liggaam van ʼn pasiënt van Precious Angels na Warrenton in die Noord-Kaap oor te plaas. Wilehmina Thekwane, wie se broer Charles by Precious Angels oorlede is, het gesê die personeel het vir haar opdrag gegee om slegs van Masondo se ondernemingsdienste gebruik te maak om die liggaam te vervoer.

Masondo ontken dat haar begrafnisonderneming gebruik is. Sy is gevra om bystand te lewer met die vervoer en kon ʼn kontak kry by die koöperatief waaraan haar maatskappy behoort. “Masondo Funerals is ʼn familiebesigheid onder die African Queen Funeral Service-koöperatief. Ek het ʼn ondernemer gekry wat die liggaam kon vervoer. Ek het nie ʼn sent daaruit verdien nie.”

Sy het toegegee dat sy onkundig was in die uitvoer van haar pligte, maar het die NRO’s van gierigheid beskuldig deur soveel pasiënte te aanvaar, alhoewel hulle nie die vaardigheid gehad het om vir hulle te sorg nie.

Masondo het gesê as sy die kans gekry het, sou sy ingegryp en die projek gestaak het.

“Ek vra opreg om verskoning. Ek is diep seergemaak deur hierdie tragedie en ek vra om verskoning aan die families dat ek nie ten volle betrokke was nie.”

Minstens 141 pasiënte uit die 3 000 persone wat van Life Esidimeni oorgeplaas is, het gesterf. Altesaam 59 van die pasiënte word nog vermis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.