Gesondheidswerkers met rubberkoeëls uiteen gejaag

Gesondheidsorgwerkers doen siftingstoetse in
Khayelitsha, Kaapstad. (Argieffoto: Nardus Engelbrecht/AP)

C19 People’s Coalition, ʼn koalisie van burgerlike organisasies, is woedend nadat die polisie Donderdagaand met rubberkoeëls op gemeenskapsveiligheidswerkers in Bhisho in die Oos-Kaap losgebrand het.

Die werkers, hoofsaaklik ouer vroue wat as gemeenskapsgesondheidsorgwerkers lang ure vir min geld werk, het by die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement se hoofkantoor byeengekom waar hulle met die LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba, wou vergader en ʼn memorandum aan haar wou oorhandig.

“Hulle is begroet met rubberkoeëls, uit die gebou gegooi en in die bittere koue weggestuur om kilometers ver te loop om skuiling en hulp te kry,” lui ʼn verklaring van die organisasie.

Die betrokke werkers is meestal stukwerkers wat nou al jare lank spook om in permanente poste aangestel te word en in sommige gevalle so min as R3 500 per maand verdien. Volgens die koalisie spruit die ontevredenheid ook nie uit probleme wat eers tydens die Covid-19-pandemie kop uitgesteek het nie.

“Terwyl die nasionale departement van gesondheids en pres. Cyril Ramaphosa in sy onlangse toespraak die werk van gemeenskapsgesondheidsorgwerkers, wat miljoene siftingstoetse vir Covid-19 gedoen het, geloof het, en terwyl hulle aanvoer dat gesondheidsdienste wentel om gemeenskapsgesentreerde primêre sorg, hou hulle aan om die kwesbaarste werkers uit te buit en te misbruik,” lui die verklaring.

Die koalisie sê dit is meestal vroue wat die spit afbyt.

Die werkers het op 6 Julie ʼn memorandum met griewe aan amptenare oorhandig, maar hul versoeke vir ʼn vergadering het op dowe ore geval. Die koalisie sê gemeenskapsgesondheidsorgwerkers het weens die informele aard van hul aanstellings beperkte toegang tot normale arbeidsprosesse.

Uit frustrasie het hulle Donderdag na die kantoor opgeruk waar hulle met die LUR en die superintendent-generaal van die departement wou vergader. “Hulle het van 08:00 daar gewag, maar niemand het hulle ontvang nie. Die middag het gekom en gegaan en teen die aand het hulle besluit om net daar te bly omdat talle nie die vervoergeld terug na hul nedersettings kon bekostig nie.

“Teen die aand is die vreedsame besetting, wat eintlik net ʼn baie lang wagtyd vir ʼn beloofde vergadering was, begroet – nie deur verteenwoordigers van die departement nie – maar deur die polisie met rubberkoeëls wat hulle paniekbevange die nag laat invlug het.”

Volgens die C19 People’s Coalition is dit nie die eerste keer dat die staat op hierdie manier op gemeenskapswerkers se griewe reageer nie. In 2014 is meer as ʼn 100 werkers in Bloemfontein in hegtenis geneem nadat hulle teen die ineenstorting van die gesondheidsorgstelsel en hulle werksomstandighede betoog het.

Die koalisie sê ʼn situasie kan nie langer geduld word waar werkers, hoofsaaklik vroue, uitgebuit word terwyl hulle die voortou neem met die verskaffing van gesondheidsdienste in gemeenskappe nie.

In Gauteng is ʼn groep van dié werkers onlangs permanent aangestel en die koalisie het dit beskryf as ʼn stap in die regte rigting.

Hulle het ʼn beroep op medici gedoen om hul oproep tot beter werksomstandighede te steun.

Die koalisie eis ook ʼn volledige ondersoek en die voorlopige skorsing van die LUR en superintendent-generaal ná die oproer in Bhisho.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Stuur dit vir BLM wereldwyd sodat hul kan sien waar hul wortels gesetel is .

Hennie ·

So die regering kan nie eers sy minimum loon betaal nie. Maak ‘n reël sodat hy dit kan breek! Sies, julle is bitsig en verdomp suinig!

Anoniem ·

Dit is Apartheid se skuld dat die polisie op hulle losgetrek het en die LUR neem nie verantwoordelikheid dat hulle nie verhogings kry nie want dit is ook apartheid se skuld.

Daleen ·

Plaas dat hulle dankbaar wees hulle het ‘n werk EN KRY SALARIS. Miljoene hulle werk verloor en kry GEEN SALARIS nie. Ek verdien ook minder as minimum salaris na 50 % salaris sny en is te dankbaar vir elke sent.

Snowball ·

Gomba is betrokke – dit sê alles.
Scooter van die een katastrofe na die volgende verleentheid; ten volle in beheer van wanbestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.