Gesondheidswerkers uiters bekommerd oor NGV

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Solidariteit het Woensdag sy verslag oor gesondheidswerkers in Suid-Afrika se kennis van, insig in en opinie oor die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) bekend gemaak.

Die verslag bevat navorsing wat vandeesmaand as opvolgondersoek deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gedoen is. Die eerste studie is in Julie verlede jaar gedoen om vas te stel wat gesondheidswerkers se opinie en kennis van die NGV is en wat hul vermoë sal wees om die NGV te akkommodeer.

“Waar die 2018-studie slegs Solidariteit-lede ingesluit het, is vraelyste vanjaar aan gesondheidspraktisyns in die private sowel as die openbare sektor reg oor Suid-Afrika gestuur,” het Nicolien Welthagen, ʼn navorsingsielkundige verbonde aan die SNI, gesê.

Luidens die verslag is gesondheidspraktisyns geweldig bekommerd oor die voorgestelde gesondheidsversekering.

Volgens Welthagen dui die bevindinge op wantroue jeens die regering oor die wyse waarop hy die NGV in werking wil stel en bestuur.

“Soveel as 80% van die respondente is negatief of skepties oor die NGV. Volgens die resultate van hierdie verslag glo die respondente nie dat die NGV die gesondheidsorgstelsel en dienslewering sal kan verbeter nie. Slegs 15% van die respondente is van mening dat die NGV suksesvol geïmplementeer kan word en 84,5% glo dat die NGV die potensiaal het om die gesondheidsorgstelsel in Suid-Afrika te destabiliseer en die kwaliteit en hoë gehalte diens wat reeds deur die private sektor gelewer word, kan benadeel.”

Die verslag dui verder op die geweldige risiko wat emigrasie van praktisyns vir die toekoms van Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel inhou. “Daar heers groot kommer oor ʼn tekort aan gesondheidsorgwerkers, veral gesien in die lig daarvan dat 20,8% van die respondente aandui dat hulle reeds stappe gedoen het om te emigreer en ʼn verdere 41,6% dit sal oorweeg om te emigreer sou die NGV geïmplementeer word,” het Welthagen gesê.

Solidariteit maan die regering om erns te maak met terugvoer vanuit die bedryf omdat dit juis dié praktisyns is die meeste geraak gaan word.

“Sommige kommentare en voorstelle word gerieflikheidshalwe geïgnoreer sodat die ideologies gedrewe planne polities gestoomroller kan word. Hierdie verslag toon onomwonde dat daar vanuit die bedryf ʼn boodskap gestuur word dat die NGV nie kan werk nie en dat praktisyns nie daarin belangstel om deel te neem aan ʼn totaal gesentraliseerde, staatsbeheerde gesondheidstelsel nie,” het Welthagen gesê.

“In ʼn reeds sukkelende gesondheidsorgstelsel en wankelende ekonomie word daar onverantwoordelik en ondeurdag met die beplanning van die NGV omgegaan. Dit is moeilik, gegewe die terugvoer wat die regering ontvang, om enigsins te sien hoe die regering die gesondheid van die publiek of die welstand van praktisyns as prioriteit beskou.”

Morne Malan, ʼn senior navorser verbonde aan die SNI, sê alle formele prosesse word ondersoek waardeur die wetsontwerp beveg kan word.

Solidariteit het ook reeds sy regspan beveel om die grondwetlikheid van die huidige formaat in die hof te toets, sou dit nie na wense gewysig word nie.

“Ons bestudeer en is nou al vir bykans drie jaar betrokke by die NGV. Ons is goed ingegrawe en sien verskeie grondwetlike, praktiese en ekonomiese tekortkominge wat geweldig negatief sal wees vir Suid-Afrika as geheel. Derhalwe staan ons reg om, indien nodig, selfs in die Konstitusionele Hof daarteen te baklei.”

Die burgerregtegroep AfriForum het Dinsdag boonop sy misnoeë te kenne gegee met die verloop van die openbare verhore oor die NGV. Die organisasie sê hy gaan ook regsadvies inwin oor beweerde prosedurele onbillikheid van die proses tot dusver.

Die verhore is ʼn openbare deelnameproses waar Suid-Afrikaners hul insette oor die voorgestelde plan kan lewer.

Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir NGV, het gesê dit blyk dat die proses gemanipuleer word om ’n uitkoms te kry wat die implementering van NGV gaan bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Tandarts ·

Enige persoon met ‘n mediese graad het oorgenoeg verstand om te weet dat emigrasie die beste opsie is. Ons gesin het ook, en ons is oppad.

Vra net ·

Dus, net persone met grade het verstand? Rowwe stelling!!!

Anoniem ·

Vra Net, jy pleeg nou inlegkunde. Dis nie wat die tandarts gese^ het nie, dis jou eie afleiding.

RC ·

Ja nee, Ek stem saam met Tandarts. Internet almal wat in enige gesondheids en of mediese beroep is, sal die land verlaat, dan sal hier niks van enige in sy soort oorwees nie. Ek wil regtig ook nie na enige dokter, tandarts, oogarts, ens. gaan wat net 30% mee geslaag het nie! So sal ons in die land doodgaan op strepe!!!!

Veg Teri ·

Kan iemand net verduidelik hoekom kan staats hospitale nie net reg geruk word nie? Dan sal dit nie nodig wees wees vir Ngv. Voor 1994 was staatshospitale net so goed soos privaat hospitaal

Al ·

Tandarts en ander hooggeleerde medici met grade, wat is julle grootste probleem met die NVG? Jy praat ook daarvan om te emigreer, maar Brittanje, Kanada en minder mate VSA het soortgelyke skemas. Ek wil net weet wat is die grootste probleem hiermee?

Pieter ·

Die probleem is kyk hoe lyk ons staats hospitale op die oomblik. dink as die hele land dara moet wees. As ons staats hospitale in top gehalte was kon mens dit oorweeg

HPV ·

Al, Die groot probleem is die ANC en hul bestuursvermoëns, byvoorbeeld Eskom, SABC, SAL, DENEL se jaarlikse reddingsboeie weens wanbestuur. Geen rioolplaas funksioneer na behore nie, letterlik niks funksioneer meer nie. Ek sien klaar jaarlikse reddingboeie vir NGV. Die ANC het net eenvoudig nie die vemoë om enige iets te bestuur nie.

Vegter ·

My siening is dat niemand dan staatshospitale sal wil gebruik nie en ons privaat hospitale toegeval gaan word en nie die druk sal kan hanteer nie

Jordaan ·

NIe almal het meer die geleentheid om te emigreer nie. Sou graag wou, maar is te oud vir die lande wat as opsies oorweeg kan word.

Boet Fasie ·

Die klinieke kan nou nie eers meer noodsaaklike medikasie maandeliks aan passiënte verskaf nie. Pasiente sit ure en wag vir hulle medikasie en dan is daar nie beskikbaar nie , dit gebeur nou al vir etlike maande.

Medikus ·

Ons het verlaat omdat ons eenvoudig nie in Afrika wil wees nie. Die redes is ooglopend.

Kraaibakke ·

Hoekom is hulle dan nou op so n kritieke stadium bekommerd dis dan onse land maak dit werk soos
Hulle die ander goed maak werk.
Als swak beplan ,maar Afrika het sy manier dit help nie om die muur te skop nie jy gaan tweede kom.

Kraaibakke ·

Hoekom is hulle dan nou op so n kritieke stadium bekommerd dis dan onse land maak dit werk soos
Hulle die ander goed maak werk.
Als swak beplan ,maar Afrika het sy manier dit help nie om die muur te skop nie jy gaan tweede kom.

Jaco ·

Wat ek nou glad nie kan verstaan nie. ‘Familielid wat in New Seeland bly kom na Suid Afrika om werk aan sy tande te laat doen. Hy se dit is te duur om dit daar te laat doen. Hoe nou?

Uitsondering nie die reël ·

Wel, ons verstaan goed, dankie. Dis verseker ‘n uitsondering. En uitsonderings maak nie die reël nie. Die ou is seker ‘n bedelaar? of dalk ‘n pensioenaris wat op staatskoste daar woon? Dis verseker ‘n uitsondering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.