Gesoute onderwysman tree af

paul-colditz-fedsas

Argieffoto: Paul Colditz van Fedsas.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), tree later vanjaar af.

Colditz sal aan die einde van Oktober ná 14 jaar aan die stuur van Fedsas aftree.

Dr. Shaun Mellors, voorsitter van Fedsas se Nasionale Raad, het Dinsdag in ’n verklaring gesê Suid-Afrikaanse onderwys is soveel ryker te danke aan Colditz se enorme bydrae tot die onderwys.

“Paul se invloed en bydrae sal nog lank in onderwyskringe gevoel word.”

Luidens die verklaring is Colditz van vandag in ʼn ander hoedanigheid by Fedsas betrokke om die oorgang van leierskap binne die organisasie glad te laat verloop. Die huidige adjunkhoof, dr. Jaco Deacon, sal vir die volgende vyf maande as uitvoerende hoof waarneem voordat hy op 1 November permanent die leisels oorneem.

“Met Jaco as waarnemende hoof gee dit aan die Nasionale Raad genoeg tyd om die oorgangsproses te bestuur sodat Fedsas se aktiwiteite en dienste sonder onderbreking kan voortgaan,” sê Mellors.

Fedsas het onder Colditz se leiding gegroei tot ʼn organisasie waarby die beheerliggame van meer as 2 000 openbare skole in al nege provinsies, as lede aangesluit het.

“Ons is veral ook trots op ons bande met ander onderwysrolspelers insluitend die nasionale departement van basiese onderwys. Onder Paul se leierskap is Fedsas gevestig as die leier in skoolbeheer en -bestuur met nie net plaaslike nie, maar ook internasionale erkenning vir die werk wat die organisasie doen,” sê Mellors.

Mellors sê voorts uitstekende opvolgbeplanning deur Colditz lê nou die grondslag vir ʼn seepgladde oorgangsproses. “Al Fedsas se personeellede deel dieselfde visie, naamlik die bevordering van gehalte- en waardegedrewe onderwys, en elkeen verstaan ook hul rol in die verwesenliking van hierdie visie. In Jaco het Fedsas  ʼn leier met dieselfde dinamiese visie, wat beteken ons lede en die groter onderwyssektor kan steeds dieselfde uitnemendheid van die organisasie verwag.”

Volgens Mellors laat Colditz se aftrede ʼn groot leemte, “maar die feit dat Fedsas se werksaamhede soomloos en onverstoord sal voortgaan is waarskynlik die beste getuigskrif van sy uitsonderlike leierskap.”

Fedsas sal tydens sy algemene jaarvergadering aan die einde van vanjaar op gepaste wyse afskeid neem van Colditz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pretorianer ·

Dis jammer. Mnr Colditz is n uitstekende dienaaar van die onderwys. Dankie Mnr Colditz; jy verdien jou ruskans!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.