‘Gesprek oor groter outonomie vir Wes-Kaap raak dwingend’

Peter Marais

Die gesprek om groter outonomie en seggenskap vir die Wes-Kaap in sy eie sake is dwingend, realisties en moet met erns en ʼn oop gemoed gevoer word.

Peter Marais, VF Plus-lid van die Wes-Kaapse wetgewer, het om hierdie rede ʼn debat in die wetgewer oor dié aangeleentheid aangevra.

Volgens Marais is sy pleidooi ʼn versoek om “politieke realisme” waar mense met toekomsgerigtheid weg moet breek van ʼn oudmodiese konsep soos ʼn meerderheidsregering.

“Die regering van Suid-Afrika was vir 28 jaar gegrond op ’n hibriede staatsvorm van ’n unie met federale eienskappe. Dit het misluk omdat bykans al die mag gesetel was in die sentrale regering waaraan die provinsies en plaaslike regerings totaal uitgelewer was.

“Hierdie sentralisering van mag het tot ontoereikende dienslewering, magsvergrype en grootskaalse staatskaping en korrupsie gelei.”

Volgens Marais is die afhanklikheid van provinsies en plaaslike regerings aan Eskom as kragvoorsiener, soos die land se vernietigde spoorvervoerstelsel, enkele van die tientalle voorbeelde hiervan.

“Misdadigers vrees nie meer die polisie of die strafregstelsel nie, daar is ernstige tekorte aan kundige polisiemanne en mediese personeel en honderde informele nedersettings spring soos paddastoele reg oor die land op.

“Dit alles skets ʼn onheilspellende prentjie van ʼn toenemend mislukte staat. Suid-Afrika bevind hom in ʼn ernstige verknorsing. Dit kan nie meer ontken word nie.”

Nasionale beleid rakende werkskepping, grensbeheer, ordelike grondhervorming, onderwys, misdaad en die aanwending van die polisie, gesondheid, openbare vervoer en behuising het skouspelagtig misluk.

“Regstellende aksie met kaderontplooiing wat kundigheid vervang het, het die land duur te staan gekom. Die alomteenwoordige verval getuig daarvan.

“Die ANC het verander in ʼn klein, magtige groepie bevoorregtes wat politieke mag bloot as meganisme gebruik om hulself te bevoordeel en te verryk.”

Indien die RET-faksie in die ANC boonop wel daarin sou slaag om die mag te gryp, sal hierdie reeds desperate situasie hand oor hand versleg, sê Marais.

“Die vraag is waar dit provinsies, en in besonder die Wes-Kaap, sal laat. Dit is duidelik dat daar weggebreek moet word van totale sentrale oorheersing.

“Indien die ANC nie oor twee jaar as regering verwyder word nie, kan die wydverspreide diensleweringsbetogings in die land soos in Julie verlede ʼn kantelpunt bereik wat al hoe moeiliker gestuit sal kan word.”

Desperaatheid weens werkloosheid, armoede en misdaad bereik vinnig breekpunt.

“Die mense van die Wes-Kaap kan verhinder dat so iets na hul provinsie oorspoel deur aan te dring op groter magte, bevoegdhede en selfbestuur en dit kan gedoen word deur artikel 235 van die land se Grondwet.”

Die VF Plus sê hy bepleit nie ’n totale “egskeiding” van die Wes-Kaap van die res van Suid-Afrika nie, maar eerder die nodige hervormings om meer magte af te wentel na provinsies en in besonder na die Wes-Kaap.

“Dit is boonop nie ʼn versugting na die onmoontlike nie. Daar is vele suksesvolle voorbeelde hiervan soos in Nigerië, Indië, Tanzanië, Soedan, Duitsland, Amerika, Switserland en België.

“Dit is duidelik dat die huidige stelsel van samewerkende regering met die ANC in beheer Suid-Afrika en sy mense gefaal het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Harley Davidson ·

Hoe gouer die weskaap wegbreek van Suid-Afrika hoe beter vir die mense van die weskaap, kaap van goeie hoop sal ontwikkel tot ‘n eerste wêreld land en die vlagskip van Afrika word .

gatgogga ·

En nie net beter vir die mense van die Weskaap nie, maar vir almal. Want die weskapenaars sal gou universiteite, skole, hospitale, ens. op die been bring wat weer effektief sal wees en deur almal in die hele land benut kan word, mits hulle nie slegte gewoontes met hulle wil saambring nie.

AJ ·

Pieter Marais is reg oor die Weskaap.

Gauteng is ook gereed om groter SELFregering in te stel.

Grassie ·

Mnr Marais se planne klink goed vir redelike mense. Die groot probleem is dat die ANC nie redelike mense is nie, hulle is magsbehepte plunderaars wat besig is om die land op alle gebiede in die afgrond in te verniel. Hulle sal nooit enige mag of beheer afstaan nie want hulle is nie in staat tot redelike denke nie. Hulle sal ook nooit ‘n nederlaag tydens ‘n verkiesing aanvaar nie want hulle verstaan nie demokrasie nie, net baasskap en dit gaan hulle nie prysgee nie.

Harley Davidson ·

Hy het nie die ANC se toestemming nodig nie net ‘n twee derde meerderheid van die weskaap inwoners dan kan hy ‘n referendum uitroep.

capie ·

Mnr Marais, wat ek nie kan verstaan nie is dat jy al die redes noem vir die Weskaap om onafhanklik te word. Hoekom wil jy dan nog steeds deel van die res van die korrupte land wees in ‘n federasie. Kry die Weskaap onafhanklik en ons kan begin bou aan ‘n toekoms vir ons nageslag. Dit sal die oorblywende deel van die land ook vinnig regruk, maar deur pleisters op te plak, vat nie die kanker weg nie.

Manie ·

Stem 100% saam, ‘n federale stelsel gaan nie werk nie, onafhanklikheid wel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Stem saan Capie. Maar begin eers klein in die WK, en dan bou na iets groters.

Jaco ·

In 1768 het Frankryk die eiland korsika by Oostenryk gekoop. In 1867 het Amerika alaska by Rusland gekoop. So, wats die kans dat ‘n land beter as SA, maar sonder ‘n verlede van kolonialisme, die Wes-Kaap by SA koop? Brasilië of Rusland behoort die Wes-Kaap redelik goed te bestuur en verder te ontwikkel. Of wat van ‘n koop deur ‘n ryk man soos Elon Musk of Donald Trump…..?

VaalDonkie ·

Bou net ‘n muur en moenie Cyril se foonoproepe antwoord nie.

VaalDonkie ·

Suid-Afrika ly onder die tirannie van die platteland (nie die dorpies nie, die “landelike gebiede”). Kyk maar na elke verkiesing: die ANC kry so 45% van die stemme, maar dan begin Limpopo en die Ooskaap se nommers indrentel, en dan kry die ANC hul 55% of meer en dan is dit maar weer nag vir die volgende vier jaar.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dieselfde in Zim. Die stedelinge het lank gelede al teen ZANU gedraai. Maar die landelikes steun steeds die regime.

Jaco ·

My voorstel is gebaseer op goed wat REEDS elders in die wêreld bestaan:
1. Die Palestyne is ‘n minderheidsgroep waarvan Israel nie baie hou nie.So toe gee Israel vir die Palestyne die Palestinian Authority, wat basies ‘n selfregerende tuisland is.Die res van die wêreld is jammer vir die Palestyne, hulle help die Palestyne en erken die Palestinian Authority. Israel laat ook buitelandse belegging in die Palestinian Authority toe.Ek gee toe, dis VER vanaf ‘n 100% onafhanklike Palestynse Staat, maar dis beter as niks. Die ANC kan mos dieselfde met die Wes-Kaap doen.
2 China, nogal groot pel van die ANC, doen iets soortgelyks met Hong Kong en Macao.

“dump” nie-ANC-mense in ‘n tuisland in die Wes-Kaap, laat buitelandse beleggings daar toe, belas dié tuisland hoog en uiteindelik wen albei groepe: Nie-ANC-mense het dan met veel meer selfregering as tans en die res van SA cash in uit belasting op dié tuisland se florerende ekonomie

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy sal nie beleggers lok met hoë belasting nie. Niemand sal tevrede wees om te sien hoe belasting oorbetaal word aan ‘n klomp niksdoeners in Pretoria nie.

Jaco ·

Belas die besighede laag, of dan ten minste billik. Belas die mense van die Wes-Kaap hoog. Ek weet dis lelik, maar dis ‘n klein prys om te betaal as dit beteken WEG is beurtkrag, regstellende aksie en en en.

Marshall ·

Afstigting van hele Kaap en Vrystaat, net vir die “minderhede”. As ‘n burgeroorlog uitbreek wat ek voorspel, sal UDI wetlik wees onder internasionale wet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.