Gesprekke duur voort oor Kaapstad-watertariewe

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir watersake (Foto: David Ritchie/African News Agency/ANA)

Stad Kaapstad is verheug oor sy damvlakke wat tans op 100,8% staan.

In ʼn verklaring deur die stadsraad het die vlakke van damme in die Kaapstadse metro tussen 28 September en 4 Oktober van 99,5% tot 100,8% gestyg. Waterverbruik het sedert die vorige week met 9 miljoen liter water per dag toegeneem tot 660 miljoen liter water per dag.

Damvlakke het verlede jaar tydens dieselfde periode op 81,9% gestaan.

Dit word as ʼn oorwinning gevier, ná Stad Kaapstad skaars 18 maande gelede ʼn Dag Zero gevrees het waar die krane sou opdroog.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir onder andere watersake, het inwoners gelukgewens vir ʼn gesamentlike poging. Sy het gesê ná ses jaar se gewag op goeie reën, met ʼn periode van waterbeperkings en droogte, is dit ʼn triomf vir die stad om die damme op kapasiteit te sien.

“Alhoewel inwoners se waterbesparing ʼn belangrike rol gespeel het dat die damme dié vlak kon bereik, moet ons ook die voetwerk in gedagte hou wat in die jare voor Dag Zero aangepak is.”

Wat betref waterbeperkings en -tariewe het sy gesê ʼn besluit sal geneem word waar inwoners se verhouding met watersake in ag geneem word en die stad sal ʼn reëling tref wat tot voordeel strek vir inwoners en volhoubare watersekuriteit.

Gesprekke duur ook voort oor behoorlike tariewe en beperkings vir die 2020/21 hidrologiese jaar (1 November tot 31 Oktober).

Sy het gesê tariewe is tans op die tweede laagste vlak kragtens Stad Kaapstad se 2020/21-begroting en het beduidend afgeneem tydens die droogteseisoen.

“Die geen beperking-waterwys-tarief, wat oorweeg word, sal effense verligting bring indien dit ingestel word, maar die moontlikheid van ʼn verligting in tariewe moet gebalanseer word teen bykomende fondse wat nodig is om bykomende weerstandigheid te bou teen klimaatsverandering deur in waterhulpbronne te belê.

“Ons moet ook die geraamde toename van die getal inwoners in gedagte hou wat behoeftigheidsondersteuning gaan benodig, gedeeltedelik weens die verslegting van die nasionale ekonomiese klimaat.”

Dan Plato, uitvoerende burgemeester, het ook gesê inwoners in Kaapstad moet steeds klimaatsverandering in gedagte hou. Hy het gesê oor die korttermyn kan inwoners ʼn verligting in waterbeperkings geniet, weens die beduidende toename in die damvlakke.

“As die inwoners gemaklik genoeg is om meer water te verbruik, sal die verwante verhoogde verbruikersvlakke Stad Kaapstad help om kostes te dek terwyl watertariewe van die tweede laagste tariefvlak na die laagste, geen beperking-waterwys-tarief, afgeskaal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Robbie ·

Ek wonder hoe lank hierdie gesprek gaan sloer. Hulle maak te lekker geld uit die betalende burgers wat hulle so ywerig melk. Ons betaal nou nog ‘n heffing vir die gemors wat hulle destyds met die motorlisensiedebakel gemaak het.

JohanR ·

Moet jy nou ‘n vuurpylwetenskaplike om ‘n water tarief uit te werk? Dink liewer hulle kyk na die geld wat hulle gaan verloor as die tariefe verlaag word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.