Gestandaardiseerde wiskunde-eksamen skop af

Leerders aan Laerskool Lynnwood skryf die VAW se gestandardiseerde wiskunde-eksamen. (Foto: Verskaf)

Die eerste vraestelle van die Skoleondersteuningsentrum se Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) se gestandaardiseerde wiskunde-eksamen is vandag afgelê.

Meer as 30 000 leerders uit 110 skole in Suid-Afrika en Namibië lê vanjaar die VAW se gestandaardiseerde eksamenvraestelle vir gr. 4 tot gr. 9 af. Die eksamen, wat in 2018 die eerste keer afgelê is, bied ʼn onafhanklike plaasvervanger vir die departement van basiese onderwys se jaarlikse nasionale assesserings wat in 2013 laas plaasgevind het. Die vraestel word in Engels én Afrikaans afgelê en selfs een leerder in Engeland lê die eksamen af.

Volgens Johan Koekemoer, hoof van die VAW, is die gestandaardiseerde eksamen broodnodig vir skole omdat dit belangrik is dat skole weet tot watter mate leerders die nodige wiskundekennis bemeester. “Sodra ʼn skool buite sy eie bekende omgewing beweeg om die uitkomste van sy onderrig te meet, kan hy objektief vasstel of sy leerders se kennis werklik genoegsaam is. Sodoende kan skole wat aan die SOS se gestandaardiseerde eksamen deelneem, ook effektief beplan om aandag te gee aan moontlike tekortkominge in die kurrikulum,” meen Koekemoer.

Die wiskundevraestelle wat tydens die gestandaardiseerde eksamen afgelê word, is deur verskeie van die land se beste en mees ervare wiskundeonderwysers opgestel en gemodereer aan die hand van KABV-vereistes. Die paneel van moderators spog met meer as 100 jaar se gesamentlike ondervinding.

Koekemoer sê vraestelle is deurlopend deur wiskunde-spesialiste gemodereer en goedgekeur om die gehalte en gebalanseerdheid te verseker. Die VAW doen die finale goedkeuring voordat die vraestelle vertaal word sodat dit ook in korrekte Engels beskikbaar is.

“Die dringende behoefte aan ʼn gestandaardiseerde wiskunde-eksamen is duidelik te sien in die feit dat deelname van skole meer as verdubbel het sedert 2018,” sê Koekemoer.

’n Volledige verslag oor die eksamen sal aan die begin van 2020 uitgereik word. Die VAW sal vervolgens sy ondersteuning aan sy vakvereniginglede aanpas om te verseker dat probleemareas aandag kry. “Dit sal interessant wees om te sien hoe uitslae van die SOS se gestandaardiseerde eksamens vergelyk met die uitslag van die internasionale TIMSS wat weer vanjaar onder gr. 9-leerders afgeneem is. In die verlede was Suid-Afrika se TIMSS-uitslae teleurstellend,” sê Koekemoer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.