Gesteelde arabierperde teruggevind

Een van die arabierperde wat Dinsdagaand in die Vrystaat gesteel is. (Foto: Verskaf)

Twee arabierperde is Woensdag aan hul eienaar terugbesorg nadat hulle Dinsdagaand uit hul stal op ’n plaas in die omgewing van Kroonstad in die Vrystaat gesteel is.

Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat dié twee diere Woensdag in die bosse by ʼn nywerheidsgebied gevind is. Die twee verdagtes het na bewering die perde met ’n waarde van onderskeidelik R55 000 en R30 000 hiér weggesteek.

Konst. Langa Maselela, polisiewoordvoerder, sê die eienaar van die perde het die diere Dinsdag omstreeks 17:00 vir die nag in hul stal toegesluit. Die perde was egter nie daar toe sy Woensdag 08:00 by die stal kom nie.

Een van die arabierperde wat Dinsdagaand in die Vrystaat gesteel is. (Foto: Verskaf)

Die eienaar van die perde het die polisie in Kroonstad ontbied en ’n saak is aanhangig gemaak. Polisiebeamptes is toe na ’n verlate plaas nie ver daarvandaan nie waar hulle twee jong mans aangetref het.

Die mans is ondervra voordat hulle die polisiebeamptes na die bosse by die nywerheidsgebied gelei het.

Die twee mans, onderskeidelik 20 en 22, is in hegtenis geneem en sal vandag (Donderdag) in die landdroshof in Kroonstad op aanklag van veediefstal en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom verskyn.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiehoof, het die betrokke polisiebeamptes geloof vir hul vinnige optrede nadat die polisie ontbied is.

“Vinnige optrede is deurslaggewend wanneer jy [jou gemeenskap] dien. Die gemeenskap maak staat op ons en die lede se waaksaamheid het inderdaad goeie resultate opgelewer.”

Vrystaatse polisiebeamptes by die twee arabierperde nadat hulle teruggevind is. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

Welgedaan SAPS.Daar is van julle wat julle werk nog met trots en ywer uitvoer en dit sien as ‘n roeping en nie ‘n plundertogte nie.

Bernard ·

En elke suksesverhaal moet ‘n ‘gelukwensing’ van een of ander generaal insluit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.