Gesteelde beeste tydens jaagtog uit taxi gestoot

(Foto: SAPD)

Die polisie in KwaZulu-Natal is op die spoor van veediewe wat drie gesteelde beeste tydens ’n jaagtog met polisiebeamptes in die ry uit ’n minibustaxi gestoot het.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê beamptes van die polisie se honde-eenheid in Pietermaritzburg het Donderdag inligting ontvang omtrent ’n Toyota Quantum-minibustaxi wat vier gesteelde beeste in Karkloof vervoer.

Die veediewe is deur polisiebeamptes en ander wetstoepassingsagentskappe agternagesit waarna hulle op ’n grondpad in die rigting van New Hanover afgedraai het. Die verdagtes het in ’n skynbare poging om die polisie te ontduik drie van die beeste uit die bewegende taxi gestoot waarna dié voertuig in ’n ongeluk betrokke was en die verdagtes te voet op die vlug geslaan het.

Die ander bees is in die taxi aangetref.

Die taxi met ’n valse registrasienommer is intussen geskut vir verdere ondersoek. ’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die beeste in die Rietvlei-omgewing gesteel is.

Die polisie ondersoek ’n saak van veediefstal. ’n Klag van wreedheid teenoor diere mag moontlik by die aanklag gevoeg word, het Gwala gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.