Gesteelde boot verskyn weke later in ander vertoonlokaal

ʼn Boot wat in Augustus vanjaar by ʼn boothandelaar op die R59 naby Vereeniging binne minute uit ʼn vertoonlokaal gesteel is, is byna twee maande later opgespoor.

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Maroela Media het vroeër beeldmateriaal van die inbraak by Sensation Boats & Living geplaas waarop gesien kan word hoe die verdagtes vinnig te werk gaan om die vertoonlokaal oop te breek en die boot en waterponie aan hul voertuie te haak. Andre van Helsdingen, eienaar van Sensation Boats & Living, het destyds aan Maroela Media gesê sy vermoede is dat die verdagtes hulle die dag voor die inbraak as klante voorgedoen het om na die bote in die vertoonlokaal te kom kyk.

Van Helsdingen het Dinsdag aan Maroela Media gesê Garth de Beer, ʼn verkoopsman van SensationBoats & Living, het Saterdag ʼn foto van ʼn boot waarby ʼn handelaar in Hartbeespoort staan van ʼn klant ontvang. “Toe Garth die foto vir my wys, het ek die boot onmiddellik herken,” het hy gesê.

Van Helsdingen verduidelik dat die spesifieke boot jare gelede spesiaal vir ʼn klant volgens sy spesifikasies gemaak is. “Aangesien die boot wit is, sit ons nie gewoonlik roomkleur sitplekke en matte in nie, maar die klant wou dit so gehad het. Die boot het ook ʼn grys seiltjie en sonkap op gehad. Daar was ook ʼn kenmerkende blou streep aan die onderkant van die boot. Dit alles maak die boot uniek. Ek sal dit maklik kan uitken.”

Volgens Van Helsdingen het die boot op die ou end vier jaar lank in die vertoonlokaal gestaan. ”Die eienaar het reeds vir die boot betaal, maar dit nooit kom haal nie. Ek het hom later stoorgeld begin vra, wat hy ook getrou betaal het. Nog later het ek hom gevra of ek nie maar die boot namens hom kan verkoop nie en dit het ons uiteindelik gedoen.”

Die nuwe koper het ook veranderinge aan die boot laat aanbring en moes dit nog kom haal, maar dit is toe saam met die waterponie uit die vertoonlokaal gesteel. “Hierdie [diewe] het presies geweet wat hulle hier kom doen en wat hulle kom steel. Hulle het spesifiek gekom om daardie boot en waterponie te steel,” het Van Helsdingen gesê.

Die tweede koper van die boot (by wie die boot toe gesteel is) het intussen ʼn privaat speurder aangestel. “Ons is almal Sondag na die handelaar in Hartbeespoort toe om daar te gaan kyk wat aangaan. Die eienaar het onmiddellik die boot aan ons oorhandig en het ontken dat hy geweet het die boot is vroeër gesteel.”

Volgens Van Helsdingen beweer die eienaar dat hy die boot by ʼn ander handelaar gekoop het. “Hy het vir ons die bewys van betaling van R300 000 gewys.” Die ander handelaar beweer weer hy het die boot by ʼn prokureur gekoop wat dit na bewering gekry het by ʼn boedel van ʼn egskeiding wat hy hanteer.

“Terwyl ons daar op die perseel was en ek so in die vertoonlokaal rondloop, het ek nog twee Sensation-bote gesien. Ek het onmiddellik gesien hulle enjinnommers is afgehaal en daar was ook ander aspekte wat verdag was.” Die polisie is ontbied en het op al drie bote beslag gelê. Dit is na die polisie se voertuigtak in Pretoria-Wes gesleep.

“Ek is regtig beïndruk met die polisie se werk in hierdie verband,” het Van Helsdingen gesê.

Hy het gesê daar was sedert die inbraak nog geen teken van die gesteelde waterponie nie.

“Die waterponie is eintlik vir my die hartseerste van alles. Ek het dit namens iemand verkoop en dit was nie verseker nie. Dit is net weg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet Pompies ·

Uitstekende werk, ons benodig meer sulke ondersoeke en suksesse! Daar is baie skelm mense in ons samelewing. Gedurende die middel 90’s is my Golf Bakkie oornag gesteel, my buurman se BMW is ook gesteel. My buurman se vrou werk by die lisensie kantoor en hulle “gesteelde BMW” word “wettig” op die nuwe eienaar se naam geregistreer.
Die uiteinde van die saak was dat my buurman in sy vrye tyd motors verkoop deur ‘n kennis wat ‘n motorhandelaar besit, hy het veld werkers wat vir hom motors werf (steel) en dan doen sy vrou die transaksies op NATIS. In sy geval het sy versekering uitbetaal en hy het sy kar verkoop, ek kon nie bewys hy was betrokke by my Bakkiese steel, maar na ‘n naweek weg het die bure sak en pas getrek.

Loskop ·

Delg dieper en julle kom dalk net op bewyse af wat zumpie impleseer

Sandra ·

Dit is soos ek ook verstaan Mossie, die een handelaar het by die ander gesteel. Of lees ek verkeerd? Indien ek reg lees, genade, hoe skelm kan mens wees.

Retha ·

My suster hulle woon in Brackendowns nie ver van die bootplek nie. ‘n Paar jaar terug het WIT MENSE hul splinternuwe offroad waentjie met AL hul kampgoed uit hul erf gesteel. Hul was op pad met vakansie na Namibie. Dit was in die tyd van die eNatis debakel en hul waentjie is gesteel met papiernommers en al. Net die kos moes nog gelaai word. Die slotte was van veiligheidshek was afgeknip en die persoon wat dit gesteel het was ‘n blanke met dieselfde bakkie (Izuzu dubbelkajuit) as hulle. Die burman het die ou nog gegroet want hul het gedink dis my swaer. Ek wens so hul kan hul waentjie terug kry. As iemand weet van so iets kan hul my ook asb kontak.

Reinhard ·

Dis eindlik normaal vir handelaars om voorraad uit te ruil. Selfs in die tweedehandse kar mark. Dit gebeur dikwels dat n voertuig lank staan in een area omdat dit dalk nie ideaal is vir sekere markte nie. Die boot sal makliker verkoop by Hartbeespoort dam as in die stad

Dit verduidelik egter nie die eerste diefstal nie, en die laaste handelaar moes als deeglik nagaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.