Gesteelde eiendom aan Kaapstad-stadion terugbesorg

Foto: Stad Kaapstad

Die Stad Kaapstad het Maandag sy dankbaarheid uitgespreek vir ʼn groep jong seuns en ʼn vrou wat gesteelde goedere aan die Vygieskraal-stadion in Athlone terugbesorg het.

Die Stad het in ʼn verklaring gesê ʼn span beamptes het Sondag reageer op ʼn oproep nadat verdagtes ʼn leer by die stadion gesteel het. “Die verdagtes het ongelukkig reeds die gebied verlaat toe beamptes by die toneel opgedaag het. Die beamptes het plaaslike skrootwerwe besoek toe hulle op ʼn vrou afgekom het wat gesê het sy en ʼn groep jong seuns het ʼn watersproeier-sleepwa gevind wat by die sportgronde gebruik is,” het Wayne Dyason, woordvoerder vir die Stad se wetstoepassers, gesê.

“Die diewe is waarskynlik deur die nag gesteur toe hulle dit weggesleep het om vir skroot opgekap te word. Hulle het dit langs die pad gelos. Die jong seuns was gretig om dit dadelik aan die plaaslike hokkieveld terug te besorg van waar dit gesteel is.”

Die vrou het agter hulle geloop en ʼn rooi T-hemp rondgeswaai as ʼn vlag vir verbygaande motoriste. Die beamptes het in hul voertuig met flitsende noodligte gevolg om die groep te beskerm.

“Die ongewone optog het veilig by sy bestemming aangekom en die veiligheidswag het bevestig dit is stadseiendom en is deur die loop van die nag gesteel. Die beamptes het die vrou en die voornemende misdaadbestryders bedank.

“Dit is baie bemoedigend om hierdie tipe samewerking te sien van lede van die gemeenskap en dit is ʼn goeie teken vir die toekoms van dié groep individue wat ʼn verandering in hul gemeenskap wil verseker. Hulle is bereid om hul moue op te rol en betrokke te raak by die stryd teen misdaad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

IK ·

Moenie vergeet dat so-iets gewoonlik dankie voor gesê word ook met ‘n paar Rand ter aanmoediging om misdaad te bekamp.

Wilma ·

Oe met sulke jongmanne en dame is daar hoop vir woonbuurtes se inwoners . Fantasties

Ben ·

Dit is nou ‘n STAP in die regte rigting. Ek glo daar is nog baie goeie mense in Suid Afrika. Sien uit na die dag wat die “Rainbow Nation” begin om saam te werk en elke groep sal toelaat om hulle unieke talente tot voordeel van die land te gebruik.

Yankee ·

Moenie my kruisig nie, maar ruk dinge nou so handuit daar, dat so n gebaar werklik so op ge hemel word!!

Elsa ·

Ben, ek deel jou siening en is ook hoopvol dat alles nog nie verlore is nie. Natuurlik is daar nog baie goeie mense in ons land. Dit kan egter geen skade doen om hierdie jong mense te vergoed of sulke goeie dade op te hemel nie. Dis dalk net die aanmoediging wat hierdie jong mense en andere het om eerlik te bly en nie ook by misdaadbendes betrokke te raak nie. Yankee, ek wil jou nie kruisig nie, maar ons moet ook pasop om nie so negatief te word dat ons net met alles wil fout vind nie. Doemprofete en mense wat oor alles negatief is, maak beslis ook nie van SA ‘n beter plek nie en rig ook maar net soveel skade aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.