Gesteelde motor ná hoëspoedjaagtog teruggevind

ʼn Gesteelde voertuig is Donderdag ná ʼn hoëspoedjaagtog in Atteridgeville teruggevind. (Foto: Verskaf / Fidelity ADT)

ʼn Gesteelde voertuig is Donderdag ná ʼn hoëspoedjaagtog in die Waterkloof-omgewing in Atteridgeville, Pretoria teruggevind.

Die bestuurder van dié motor het glo ook verskeie ongelukke in die proses veroorsaak en voetgangers net-net gemis. Hoewel die voertuig opgespoor is, is die bestuurder steeds soek.

Die kombi met vervalsde nommerplate word glo ook met verskeie diefstalvoorvalle in die omgewing verbind.

Luidens ʼn verklaring deur Fidelity ADT het lede van sy taktiese span die voertuig tydens ʼn patrollie  by die Waterkloof Corner-winkelsentrum opgemerk.

Die beamptes, Paul Grobler en Charl Botha, het ondersoek ingestel aangesien ʼn kennisgewing onlangs uitgereik is om op die uitkyk vir ʼn wit Volkswagen Kombi in die Pretoria-Oos-omgewing te wees. Die voertuig was glo onder meer by diefstal-uit-voertuigmisdade betrokke.

Luidens die verklaring het die bestuurder van die kombi dadelik die parkeerterrein verlaat toe hy die veiligheidsbeamptes opmerk. ADT het die polisie gevra om die voertuig se registrasie na te gaan en dié het bevestig dat die nommerplate vervals is.

Die bestuurder van dié motor het glo ook verskeie ongelukke in die proses veroorsaak en voetgangers net-net gemis. (Foto: Verskaf / Fidelity ADT)

Die beamptes het versterkings ontbied en verskeie lede het daarop gereageer. ʼn Hoëspoedjaagtog het gevolg en die beamptes het die motor tot in Atteridgeville, ʼn nedersetting in Pretoria, agternagesit.

Die Lyttelton-polisie het hulle net ná die R55‑ en Maudestraat-kruising by die jaagtog aangesluit en glo verskeie skote afgevuur om die motor tot stilstand te bring.

Volgens die verklaring het die verdagte voortgegaan om te vlug, wat verskeie ongelukke veroorsaak het. Voetgangers het glo ook ʼn noue ontkoming gehad.

“Ons het die voertuig in Atteridgeville verloor, maar met behulp van die gemeenskap en ander veiligheidsmaatskappye het ons die voertuig verlate aan die agterkant van ’n huis opgespoor waarna dit aan die Lyttelton-polisie oorhandig is.

“Ongelukkig duur die soektog na die bestuurder nog voort,” het Botha gesê.

Leon Muller, Fidelity ADT se distriksbestuurder, sê hy prys die maatskappy se beamptes vir hul waaksaamheid en vinnige optrede.

“Om met die polisie en gemeenskap saam te werk stuur ’n sterk boodskap aan misdadigers uit dat misdaad nie geduld sal word nie.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en wag tans op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Francois ·

Verskeie motors jaag hom en hulle verloor hom. Pateties.

JohnnyS ·

Francois het jy enige ondervinding van hoëspoed jaagtogte om so opmerking te maak ?

Frank John ·

Die bestuurder kom weg want die polisie kan hulle jaag met ‘n voertuig, maar as hulle te viet moet agterna hardloop kan hulle nie, polisie is onfuks en oorgewig. Sal in meeste ander lande nie eers in aanmerking kom vir polisie werk nie. In NZ moet jy ‘n stawwe fuksheid toets slaag om aangestel te word in wets toepassings pos. In SA is die werk as polisie beampte net om geld te kry sonder die werklike omgee om die wet toe te pas. Goeie opregte omgee persoon moet uit die pos sodat die pos aan iemand gegee word vir die verkeerde redes.

Thelsa ·

‘n Soortgelyke voertuig was Woensdag in die Sunderland Ridge omgewing ook bedrywig

Swerwer ·

Genade, hoop die versekering betaal die eienaar van die voertuig uit, want ek wil beslis nie so ‘n voertuig weer terughê na dit deur een van die ANC lede so opge………… is en gery is nie, want beslis kan die ANC lid nie bestuur nie.

Elinette ·

Wie sê hulle is ANC lede? Hulle kan ActionSA lede of EFF lede ook wees (ek dink eerder laasgenoemde as eersgenoemde, as jy my vra!).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.