Gesteelde motorfiets lei tot daggavonds

Argieffoto: SAPD

Drie mans sal vandeesweek in ʼn hof in Port Elizabeth in die Oos-Kaap verskyn nadat ʼn motorfiets, wat reeds in Maart as gesteel aangemeld is, die polisie Woensdag na ʼn daggavonds gelei het.

AO Alwin Labans, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media verduidelik dat die motorfiets aanvanklik in Humewood in die stad gesteel is. Die polisie se ondersoek oor die afgelope paar maande het beamptes eindelik na ʼn man gelei wat erken het dat hy die motorfiets gesteel het.

Hoewel die man in hegtenis geneem is, was die motorfiets in daardie stadium nie meer in sy besit nie aangesien hy dit glo reeds aan iemand anders verkoop het.

Volgens Labans kon die polisie ná ʼn gesukkel die koper van die motorfiets by ʼn vulstasie in Korsten in die stad opspoor. Dié man is in hegtenis geneem waarna hy deur die polisie ondervra is. Hy het op sy beurt die polisiebeamptes na ʼn derde man in Malabar in die stad gelei. Dit is hiér waar die polisie nie net op die motorfiets afgekom het nie, maar ook op 6 kg dagga.

Die polisie het op die Crossandra-woonstelblok toegeslaan waar hulle op die dagga asook kontant en ʼn gaspistool afgekom het. Die polisie het ook op nog ʼn motorfiets asook enjins en onderdele van verskillende motorfietse beslag gelê. Dié motorfiets en onderdele was reeds vir besending toegedraai, het Labans verduidelik.

Volgens Labans sal die eerste twee verdagtes moontlik Vrydag op aanklagte van motordiefstal in die hof verskyn. Die derde verdagte sal dan op aanklagte van motordiefstal asook die besit van gesteelde goedere en die besit van dagga verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.