Gesteelde poolhonde met eienaar herenig

Die foto van Coetzer se honde is op sosiale media versprei

Die foto van Coetzer se honde is op sosiale media versprei

Dick Coetzer van Pretoria is met drie van sy vyf poolhonde herenig nadat hulle deur vroue wat hulself as DBV-inspekteurs voorgedoen het, gesteel is.

“Hulle is Vrydag by die DBV in Pretoria afgelaai. Dit is op kringtelevisiekameras vasgevang,” het Coetzer gesê. “Die drie honde is ongedeerd, maar is baie getraumatiseerd. Ek weet nie hoe hulle [die vrouens] die honde hanteer het nie…en ek weet ook nie hoekom hulle nie die ander ook teruggebring het nie.”

Coetzer het gesê hy vrees vir die veiligheid van die ander twee honde, Rooi en Lilo. Hy vermoed dat die honde vir teeldoeleindes gesteel is. Coetzer het ʼn beloning van R5 000 uitgeloof en ʼn saak van diefstal by die Villieria-polisiestasie aanhangig gemaak.

Rekord het verlede week berig dat twee vroue wat hulself as inspekteurs van die Dierebeskermingvereniging (DBV) voorgedoen het, Coetzer se huis besoek het en hom oor sy poolhonde uitgevra het. “Hulle het begin vrae vra soos waar die honde in die aand slaap,” het Coetzer aan die koerant gesê. “Hulle het ook gevra hoekom een van die honde se oë tranerig is.”

Volgens die berig het Coetzer aan die vroue gesê dat sy honde in beddens onder ʼn afdak slaap en dat hy reeds ʼn afspraak by ʼn veearts gemaak het om na die honde se oë en ore te kyk. Die vroue het glo aan hom gesê hulle sal oor ʼn week terugkeer om weer inspeksie te doen. “Hulle het egter ʼn uur later teruggekeer en gesê hulle het met mense by die DBV se hoofkantoor gepraat en dat hulle aangesê is om my honde te vat en hulle oë en ore gratis te behandel.”

“Ek het gesê ek sal daarvoor betaal maar hulle het daarop aangedring om die honde te vat en gratis te behandel,” het Coetzer gesê. Hy het later die DBV gekontak nadat die vroue nie met die honde teruggekeer het nie en is meegedeel dat die vroue nie werknemers van die DBV is nie.

Korkie Levanon, woordvoerder van die DBV, kon nie Maandag vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

h ·

Ek hoop regtig hierdie ou kyk na sy honde, daar is n rede hoekom die dbv die ander twee steeds hou….

Pietsnot ·

Ou grote, ek dink jy moet hierdie berig weer lees. Met aandag.

Dave ·

Lees stadiger en hou jou wysvinger op die letters waar jy lees, dan spreek jy die woorde hard uit.

Pietsnot ·

Amper stik ek in my koffie. Nee man Dave, jy laat my lag!

Marietjie ·

h – het jy die berig gelees of net die sleutelwoorde en toe jou eie afleiding gemaak. Nee man, lees met aandag. Dan aan Dick Coetzer hoe op dees aarde laat jy toe dat mense jou diere verwyder sonder om saam te gaan en te kyk wat met hulle gebeur? Watter lot is daar vir Rooi en Lilo nou? Dis soos om jou kind saam met die Polisie te stuur net omdat hulle sê hulle is van die Polisie en ‘n “badge” het. Jy weet mos darem wat in hierdie land aangaan en hoe min mense jy kan vertrou. Laat my bietjie krapperig voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.