Gesteelde skape vertrap mekaar op sleepwa

Die skape het mekaar op die sleepwa vertrap (Foto: SPCA Bloemfontein, Facebook)

Waarskuwing: Die inhoud van hierdie berig kan sommige lesers ontstel.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein het die afgelope naweek 47 vermoedelik gesteelde skape, wat op ʼn bakkie en sleepwa vervoer is, in die Reddersburg-omgewing in die Vrystaat gered. Die DBV is paar dae tevore in kennis gestel van die skape wat in hierdie omgewing gesteel is.

Duan Matthee, ʼn inspekteur van die DBV in Bloemfontein, het gesê die polisie het die DBV ingelig dat hulle ʼn bakkie met ʼn sleepwa, wat meer as 40 skape vervoer het, voorgekeer het.

Die DBV se veediefstaleenheid is ontbied en het saam met die polisie se blitspatrollie die voertuig na die DBV se perseel in Bloemfontein begelei.

“Die skape het mekaar vertrap weens die beperkte ruimte op die sleepwa. Die skape was in ʼn uiters slegte toestand,” sê Matthee. “Sommige van die skape se bene is gebreek en hulle het talle ander beserings opgedoen. Toe ons die laaste skape afgelaai het, het ons ook dooie skape op die waentjie gewaar.”

Daar was nog 12 skape agterop die bakkie wat onder ʼn bedekking versteek is. Dié skape was met ʼn nylontou aan mekaar vasgebind.

“Hierdie skape kon skaars beweeg en een van hulle het reeds gevrek. Die dier het vermoedelik versmoor.”

Van die skape wat op die sleepwa gevind is (Foto: SPCA Bloemfontein, Facebook)

Die DBV het sy skok uitgespreek oor die onmenslike manier waarop die diere behandel en vervoer is.

“Weens die spanning wat die skape ervaar het, het twee van die ooie miskrame gehad. Die fetus wat op die grond gelê het, het steeds beweeg en moes van kant gemaak word. Dit het my geraak om te sien hoe hierdie arme diere moes ly,” vertel Matthee.

Hy sê ʼn veearts het die skape ondersoek en bevestig dat van die skape baie ernstige beserings opgedoen het. Die meeste van die skape het ernstige veltoestande onder lede en sommige is ondergewig en het dringende mediese hulp nodig.

ʼn Saak van dieremishandeling is by die polisie aanhangig gemaak.

Die DBV versorg die skape in hierdie stadium steeds. “Ons hoop dat hulle volkome sal herstel,” sê Matthee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Nie moeilik om te raai wie aan sulke gedrag skuldig is nie. Al weer Bloemfontein area. Vrystaat benodig groot Lente skoonmaak, erger as Covid-19.

Scalla ·

Doen dieselfde aan die persone wat die diere so mishandel het.

Misky ·

Klagte van dieremishandeling en diefstal, so hopenlik gaan die skuldiges lank sit in oranje pakkies

Surfer ·

Ja sit met kos en water. Daai skape kon nie praat nie, geen water en verspoor.

4ntj13 ·

Hoe jy diere vandag behandel bepaal hoe jy mense môre behandel. Dis die ideale punt vir korrektiewe dienste om misdaad te voorkom. Maar hier is nie eens meer munisipale amptenare wat ʼn dieretuin menslik kon bedryf nie. Arme, arme diere!!

Jakes ·

Sal graag wil weet hoeveel mense op die bakkie en op die sleepwa was saam met die arme diere?

agnes ·

Dit maak my woedend, hoop hulle kry n swaar straf en nie net n boete nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.