Gesteelde vee op ander plaas gevind

Foto: Verskaf.

ʼn 49-jarige man is Dinsdag in hegtenis geneem in verband met veediefstal.

Ao. Loraine Earle, woordvoerder van die polisie, het gesê die man is vasgetrek nadat die vee op ʼn plaas in die Petrusburg-distrik in die Vrystaat weggesteek is. Volgens haar is die vee in Augustus en Oktober 2017 gesteel.

In die eerste voorval is 16 beeste ter waarde van R88 000 in Augustus van ʼn opkomende boer gesteel. “Hy het regtig alles verloor. In dié deel van die land bestaan die vermoede altyd dat die vee lank reeds oor die grens gevat is. So, om dit nou terug te kry hier in die omgewing is ongelooflik,” het Earle gesê.

Tydens die tweede voorval is 24 beeste ter waarde van R168 000 in Oktober by ʼn kommersiële boer in Dewetsdorp gesteel. Earle het gesê lede van die veediefstal-eenheid op Wepener het uitstekende speurwerk aan die dag gelê en beslag gelê op 42 beeste ter waarde van R256 000 op die plaas in Petrusburg.

Eienaars het hul vee kom uitken en dit is aan hulle terugbesorg. Volgens haar kan daar moontlik nog sake aanhangig gemaak word omdat daar moontlik nóg gesteelde vee op dieselfde plaas is.

Die verdagte sal Woensdag in die Dewetsdorp-landdroshof voorkom op aanklag van veediefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ella ·

Mnr Ramapoza jy is nou die GROOT MAN in die land. Dalk is nou die tyd om die bekamping van alle misdaad met oorgawe en energie te veroordeel, aan te spreek en te bekamp met dieselfde moed en durf as wat julle, onder andere, grondonteiening, aanpak en dryf.

Irene ·

Wat nie nog nie elke dag iets nuuts so moeg vir al hierdie gemors in sa

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.