Gestrand in SA: Baba se pa ‘mis só geweldig baie’

Cornell en Louise Steyn en hulle babadogtertjie, Luamé.

“ʼn Doodloopstraat.”

Só het Louise Steyn (27), ʼn ma van Oos-Londen haar pogings beskryf om ʼn paspoort vir haar en haar man, Cornell (33), se vyf maande oue babadogtertjie te kry.

Klein Luamé is in Februarie vanjaar gebore, maar kon net enkele weke saam met haar pa deurbring voordat hy na die VSA moes terugkeer om sy werk daar te hervat.

Cornell is ʼn programmeerder vir Mercedes-Benz in Charleston in Suid-Carolina.

Louise sê haar man het in Januarie, kort voor Luamé se geboorte op 18 Februarie, na Suid-Afrika teruggekeer. Die staat van landwye afsondering het in Maart in werking getree en alle vlugte is opgeskort.

Nadat die regering aangekondig het dat mense weer die land vir spesifieke doeleindes, soos om in die buiteland te gaan werk of te studeer, mag verlaat, het Cornell op 22 Junie na Charleston teruggevlieg. Die gedagte was dat Louise en Luamé so gou moontlik by hom sou aansluit.

“Nou kom ek nêrens reg nie. Binnelandse sake se kantoor in Oos-Londen was gesluit weens Covid-19 en het onlangs heropen. Die rye is ontsettend lank. Die kantoor het boonop onlangs wéér gesluit weens ʼn Covid-19-geval,” het Louise vandeesweek gesê.

(Skermgreep: dha.gov.za)

Haar skoonouers woon op Humansdorp en hulle is daarheen om vas te stel of daar by hierdie kantoor vir Luamé vir ʼn paspoort aansoek gedoen kan word. Op Humansdorp het die amptenare hulle egter meegedeel dat die kantoor nié op vlak 3 van die afsondering nuwe paspoorte uitreik nie.

Luidens ʼn verklaring van die departement van binnelandse sake wat op 1 Junie uitgereik is, reik die departement net paspoorte uit aan diegene in “vrag en uitvoer”. Aanlyn aansoeke wat normaalweg op die departement se webwerf gedoen kan word, is ook opgeskort. Daar is geen aanduiding wanneer die uitreik van paspoorte weer hervat gaan word nie.

Intussen is die Steyn-gesin uitmekaar geskeur.

‘n Emosionele Cornell Steyn groet sy babadogtertjie, Luamé, kort voordat hy na die VSA vertrek het om sy werk daar te hervat.

“Ek kom nêrens reg nie en weet nie meer wat om te doen nie. ʼn Gesin hoort bymekaar. Cornell móés teruggaan, want hy moes gaan werk, hy het nie ʼn ander keuse gehad nie,” het Louise gesê.

“Ons weet nie wanneer ons hom weer gaan sien nie. Die onsekerheid is verskriklik.”

Louise sê sy het ʼn video van pa en dogter gemaak toe Cornell sy baba moes groet om terug te keer na die VSA. “Ek wou die video maak om vir haar te wys dat haar pa móés weggaan om te gaan werk. Hy het nie ʼn ander keuse gehad nie.”

Sy het die opname egter gestaak nadat Cornell deur emosie oorweldig is. “Ons mis mekaar en hy mis só geweldig baie van sy dogtertjie.”

David Hlabane, woordvoerder van die departement van binnelandse sake, het bevestig dat paspoorte in hierdie stadium net onder spesifieke omstandighede uitgereik word. Hy kon nie sê wanneer die diens weer ten volle hervat gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Nou wat is die spesifieke omstandighede? Reik vir die kind reisdokumente uit! Maar nou ja, dis mos nie our people nie! Ons mense kry ongelukkig nie werk in ons eie land nie en moet noodgedwong oorsee. Word ons nou daarvoor ook gestraf? Sterkte aan die jong gesin.

Cherokee ·

Moet nie emosioneel besluit nie (Anel). My eerste reaksie was ‘sy is 5 maande oud! Gee haar ‘n paspoort! Diskresie behoort toegelaat te word!’ Maar toe dink ek weer. Indien diskresie toegelaat word, sal (let op, nie kan maar sàl) dit misbruik word. Dink weer na hierdie gelees is.

Loeloe ·

Daar is baie families in hierdie tyd wat uit mekaar geskeur is, en daarmee moet deal.

Cherokee ·

Geen emosie maar neutraal. Dankie Loeloe! Ek wou ook eers toelaat dat emosie my skrywe dikteer maar het besef dat ons tog sinvol moet wees. Nie dat mense nommers is maar, toegelate diskresie sal misbruik word.

Therese ·

Ai, nóg ‘n Covid-storie wat enige mens se hart breek.
Hierdie drie mense word ‘n reuse-onreg aangedoen.
Mag iemand iewers tog die lig sien!

“Rules are for the Obedience of Fools, and the Guidance of Wise Men”.

Mariana ·

Vraag is steeds wanneer gaan hierdie staatsamptenare weer in alle erns hul werk hervat. Moet als stilstaan omdat dit moet saamval met plannetjies van seker “hooggeplaastes” Als weer oop vir goedere na oorsee maar dit vat ‘n spoedpakkie van 1kg nou al meer as maand net om SA te verlaat en dit vat normaalweg 2-7 werksdae. Nee als moet stilstaan…….Sterkte vir die gesinnetjie en duisende ander….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.